Min vordering met SA’ners se saak in Ekwatoriaal-Guinee

Frik Potgieter en Peter Huxham. (Foto’s: Verskaf)

Daar is in dié stadium glo min vordering met die saak van twee Suid-Afrikaners wat op dwelmverwante aanklagte in Ekwatoriaal-Guinee in Sentraal-Afrika aangehou word.

Frik Potgieter (53) van George in die Wes-Kaap en sy kollega, Peter Huxham (55) van Langebaan, is op 9 Februarie op verskillende tye by die Anda China-hotel in Malabo aangekeer en in hegtenis geneem.

Dit is steeds nie duidelik waarmee die dwelmverwante klagte verband hou nie.

“So ver ons weet is hulle nog in die Mongoma-gevangenis,” het ʼn woordvoerder van die Potgieter-gesin Maandag aan Maroela Media gesê.

“Ons het ongelukkig geen kontak met hulle nie, hoewel ons regsverteenwoordiger so twee weke gelede met hulle vergader het.”

Die woordvoerder sê dit lyk vir die regsverteenwoordiger of dit onder omstandighede goed gaan met Potgieter en Huxham en dat dit klink of hulle “oukei behandel word”.

“Maar ons moet verstaan dat hulle natuurlik nie veel kon sê nie aangesien alles onder toesig gebeur.”

Die mans se gesinne hou vol dat Potgieter en Huxham, wat ook net kennisse van mekaar is, nog nooit in hul lewe enigiets met dwelms of dwelmsmokkelary te doen gehad het nie. In ʼn kort insetsel oor die voorval op Carte Blanche Sondagaand ontken Potgieter en Huxham ook enige verbintenis met die beweerde dwelmvonds. Die twee mans werk al jare lank as ingenieurs vir ʼn Nederlandse maatskappy.

Maroela Media het vroeër berig dat klagte nie dadelik teen die mans aanhangig gemaak is nie, maar daar is intussen glo klagte ingedien.

“Ons weet daar is klagte gelê, maar ons weet nie wat die inhoud daarvan is nie,” het die woordvoerder gesê.

Daar is dus nog min vordering met die regsproses.

“Dit bly maar ʼn moeilike saak en ons word aan Ekwatoriaal-Guinee se prosesse onderwerp.”

Intussen duur bespiegelings oor die werklike rede vir die mans se aanhouding voort.

Carte Blanche was een van verskeie media-instansies wat die mans se inhegtenisneming met ʼn politieke agenda van Ekwatoriaal-Guinee se adjunkpresident, Teodoro Nguema Obiang Mangue, verbind.

Maroela Media het vroeër berig dat Suid-Afrikaanse owerhede op 7 Februarie beslag gelê het op twee huise en ʼn superseiljag wat aan Mangue behoort nadat ʼn Suid-Afrikaanse sakeman hom gedagvaar het vir onwettige inhegtenisneming en marteling.

Daniel Janse van Rensburg is 491 dae lank onwettig in ʼn berugte tronk in Ekwatoriaal-Guinee aangehou én gemartel nadat ʼn saketransaksie in 2013 skeefgeloop het. Huxham en Potgieter is drie dae ná die beslagleggings in hegtenis geneem.

Die Potgieter-gesin se woordvoerder benadruk egter dat hierdie bespiegelings ongegrond is.

“Dit is die menings van buitestanders. Hoewel die tydsberekening van Frik en Peter se inhegtenisneming toevallig hiermee [met die seiljag-voorval] ooreenstem, kan sulke uitlatings hul saak skade aanrig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.