Mini-begroting: Risiko’s word werklikheid

Enoch Godongwana, minister van finansies. (Argieffoto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die Suid-Afrikaanse ekonomie word gerem deur skuld wat dit vir die land moeilik maak om sy ontwikkelingsdoelwitte te bereik. Enoch Godongwana, minister van finansies, het Woensdag tydens die lewering van die mini-begroting gesê Suid-Afrika het die afgelope 15 jaar elke jaar ʼn groter geldtekort.

Hy sê verskeie bestaande hardnekkige probleme verhinder steeds groei. Dit sluit in onbetroubare kragvoorsiening, ʼn duur en onvoldoende hawe- en spoornetwerk, misdaad en korrupsie, swak staatskapasiteit en hoë vlakke van markkonsentrasie en hindernisse wat die totstandkoming en groei van klein ondernemings onderdruk.

“Hierdie uitdagings ondermyn ons pogings om werk te skep en dra by tot hoë vlakke van armoede en ongelykheid.

“Ons strukturele uitdagings is vererger deur nuwes. Dit sluit in internasionale ekonomiese verlangsaming, hoë krag- en kospryse en die verwoesting wat deur natuurrampe soos die onlangse oorstromings veroorsaak is.”

Een ligpunt is wel die beter as verwagte belastinginvordering.

Volgens die minister het talle van die risiko’s waarteen daar in die Februarie-begroting gewaarsku is, boonop die afgelope paar maande ʼn werklikheid geword: stygende inflasie, taaier finansiële toestande en die voortgesette uitwerking van Covid-19.

Hy sê binne die breër raamwerk moet klein ekonomieë, soos dié van Suid-Afrika, veral versigtig wees en buffers teen ekonomiese storms inbou.

Staatskuld

Regeringskuld vir die huidige boekjaar sal op ʼn verwagte R4,7 biljoen (“duisend miljard”) staan, in vergelyking met die R627 miljard waarop dit in 2008‑’09 gestaan het. Dié skuld kos die land gemiddeld R355,2 miljard per jaar aan rente en terugbetalings.

Die minister sê skuld gaan in 2022-’23 ʼn verwagte R5,9 miljard meer kos as wat in Februarie vanjaar verwag is. “Die moontlikheid van ʼn groot prysregstelling in finansiële markte is ʼn aansienlike risiko. Dit gaan fiskale inkomste in die toekoms raak.”

Godongwana sê die land het geen ander keuse as om sy skuldlas te verminder nie – maar dat vordering wel gemaak word.

ʼn Gekonsolideerde fiskale tekort van 4,9% van BBP word vir 2022-’23 verwag en regeringskuld sal in dieselfde boekjaar na verwagting op 71,4% van BBP stabiliseer. Dit is veel vroeër en op ʼn veel laer vlak as wat vroeër verwag is.

“Ons stel voor dat geen begrotingsvermindering in die 2023-begroting ingestel word nie. Inteendeel, gekonsolideerde staatsbesteding sal R2,2 biljoen vanjaar verbysteek en tot R2,5 biljoen in 2025-’26 groei.”

Ekstra belasting ingevorder

Die invordering van belasting het ook die verwagting oorskry en die bruto belastinginkomste vir die huidige boekjaar is van R83,5 miljard tot R1,68 biljoen aangepas.

“Die hoër verwagting is hoofsaaklik danksy verbeterings in die invordering van maatskappybelasting, met sterk inkomste uit die finansiële en vervaardigingsektor.

“Die beter as verwagte belastinginvordering, ook oor die mediumtermyn, het die regering toegelaat om die tekort te verminder en blywende en nuwe risiko’s teen te werk.”

Die minister sê dit beteken die basisbegrotings van departemente wat deurslaggewend vir dienslewering is, kan gaandeweg herstel word sonder dat onbekostigbare en bindende ooreenkomste aangegaan word.

Groei afwaarts aangepas

Godongwana sê die tesourie verwag nou werklike BBP-groei van 1,9% in 2022, in vergelyking met die verwagting van 2,1% in Februarie vanjaar. Oor die volgende drie jaar sal die ekonomie na verwagting met ʼn gemiddeld van 1,6% groei.

“Die vlak van groei is te laag om ons ontwikkelingsdoelwitte te steun. Gevolglik moet ons stappe doen om ons ekonomie op ʼn hoër groeikoers te kry.”

Hy sê sedert die Februarie-begroting is die inwerkingstelling van strukturele hervorming versnel om hindernisse vir ekonomiese groei te pak en belegging en werkskepping te steun.

Beurtkrag ‘rampspoedig’ vir groei

Beurtkrag het egter ʼn “rampspoedige uitwerking” op die ekonomie en hervorming word dus op die energiesektor gekonsentreer, sê Godongwana.

Verskeie beleid- en regulatoriese veranderings is onderweg om ʼn meer mededingende energiemark te verseker. “Die vermindering van Suid-Afrika se afhanklikheid van ʼn enkele monopolie en die ontsluiting van enorme private belegging in opwekkingskapasiteit gaan aansienlik tot langtermyn-energiesekerheid bydra.”

Godongwana sê ook daar is ʼn “krisis” in die logistieke sektor. Ondoeltreffendheid by die hawe- en spoornetwerk kos die ekonomie miljarde rand en ondermyn pogings om groei te verhoog. Verskeie stappe word gedoen om groter mededinging en doeltreffendheid by hawens en die spoorweë te verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Roelof ·

Dit wys weereens, die ANC is onbevoegd en kan NIE die land regeer nie. Ongekwalifiseerde onbevoegde kaders kom uitdiebos en wil regeer. Totdat daar nie bevoede en gekwalifiseerde mense aangestel word nie, sal die land in afwaartse spiraal bly

Di ·

Net so en ons gaan ook weens hulle onvermoe om die land te regeer, daaronder ly. ONS handtjievol belastingbetalers wat vir die meerdeheid in die land moet sorg

Di ·

TE VEEL geld geleen wat niks voor gewys kan word nie. Verder word ons lam gele deur al die GRANTS en nog steeds word daar daagliks duisende kinders gebore met ouers wat werkloos is! ONGEAG van die groot armoede onder sekere gemeenskappe, word daar nie voorsorg getref om nie verder kinders te verwek nie. Hulle kry meer kinders om MEER GRANTS te kan kry. Grants en al die Staatsbeheerde instansies wat ONS moet onderhou is besig om die land verder in bankkrotskap te druk. ONS die belastingbetalers verarm ook by die dag met al die belastings en heffings wat op ons afgedwing word om vir die te sorg vir die wat nie werk het nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Nou hoe gaan die BBP groei met tekorte aan krag, swak spoor en hawe kapasiteit. Om nie eers te praat van stakings nie. Vir 15 jaar groei staatskuld buitesporig en dan word gesê die ekonomie is op koers en die somme sal klop. Vriende, ons is kniediep in die moeilikheid en sosialistiese planne plaas ons nou in vryval sonder valskerm. MM lesers, kry finansiële advies, ASAP.

KAIROS ·

Ek is bitter bly dat die ligte erens begin brand.
Privatiseering van energie opwekking , moet die eerste plan wees.
BTW terug na 14%.
Weg met BEE.

Misky ·

Hoeveel biljoene rande se vaccines is in die laaste jaar alleen in die drein afgegooi, want hulle kan nie beplan nie. Nee, leen geld by die wereldbank en maak nog skuld.

koos ·

Dis hoogtyd dat alles in hierdie Godsverlate hool van ‘n land vou en omval. Hopelik kry ons dan beter regering

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.