Misdaadstatistiek: Daling in moordsyfer niks ‘om te vier’

Bheki Cele, minister van polisie. (Foto: Fikile Marakalla/GCIS)

Daar was ʼn duidelike toename in kontakmisdade, buiten moord en seksuele misdrywe, tussen April en Junie vanjaar, wanneer dit met die statistieke in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar vergelyk word.

Kontakmisdade het oor die algemeen met 4,8% toegeneem.

Bheki Cele, minister van polisie, het Vrydag tydens die bekendmaking van die jongste misdaadsyfers gesê die hoë vlakke van misdaad bly onaanvaarbaar, ten spyte van die dalings wat aangeteken is.

“Die 3,1% daling in moorde is niks om te vier nie. Dit bly mense se lewens wat kortgeknip is weens ander se toedoen.

“Die polisie se ingryping moet verder versterk word om ʼn verdere afname in moorde te verseker.”

Benewens moord het seksuele misdrywe ook met 1,9% afgeneem, só ook trio-misdade met 5,2%, eiendomsverwante misdade met 4,5% en kontakverwante misdade met 1,6%.

Moord

In net drie maande is 6 228 moorde in Suid-Afrika gepleeg. Dit is 196 meer moorde gepleeg in vergelyking met die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

Van die algehele aantal moorde was 895 moorde dié van vroue en 293 dié van kinders.

Die enigste styging in die moordsyfer is in die Noord-Kaap en Mpumalanga aangemeld – ʼn styging van onderskeidelik 11,1% en 6,1% – in vergelyking met dieselfde tydperk ʼn jaar tevore. Minder mense is in die res van die provinsies vermoor.

Cele het die dubbelsyferdalings in Limpopo (10%) en Noordwes (11,5%) verwelkom.

Die vier grootste oorsake van moord in Suid-Afrika is stryery, (793), boendoegeregtigheid (456), rooftogte (301) en voorvalle van wraak of vergelding (198).

Altesame 3 072 mense is in ʼn openbare plek soos ʼn oop veld, straat, parkeerterrein of verlate gebou vermoor.

Die tweede meeste moorde word by die huis van die slagoffer of oortreder gepleeg (1 685).

Plekke van vervoer, soos ʼn bus, motor of taxi, is die plek waar die derde meeste moorde gepleeg word (284).

Volgens Cele toon saakdossierontleding dat vuurwapens, messe en skerp voorwerpe die meeste in moorde gebruik word.

Seksuele misdrywe

Volgens die jongste misdaadsyfers het alle seksuele misdrywe in die tweede kwartaal met 2,8% afgeneem in vergelyking met dieselfde kwartaal ʼn jaar tevore. Nietemin is 11 616 seksuele misdade in dié tydperk aangemeld. Dit is 239 minder misdade as die 11 855 wat in dieselfde tydperk verlede jaar aangemeld is.

Altesaam 9 252 van die seksuele misdrywe was verkragtings.

In 3 917 van verkragtingsvoorvalle het die voorval by die huis van die slagoffer, of dié van die verkragter plaasgevind en 1 414 van die gevalle was in ʼn openbare plek.

Aanranding en roof

Die aantal gevalle van aanranding het met 2 892 gevalle toegeneem en gevalle van roof met 839 gevalle in vergelyking met die statistiek in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

Aanranding met die doel om ernstig te beseer en poging tot moord het stewige stygings van onderskeidelik 8,2% en 7% getoon.

Hierdie misdade het almal die meeste in Gauteng plaasgevind.

Cele het ook sy tevredenheid te kenne gegee dat daar minder kontakverwante misdade aangeteken is, veral gewone en straatrooftogte asook kapings wat met 6,4% afgeneem het.

“Daar was meer as 1 000 minder aanklagte van motorkapings en rooftogte by sakepersele tussen April en Junie aangemeld. Rooftogte by residensiële wonings is nog hardnekkig hoog.”

“Ons moet polisiëringpogings versterk en saamwerk met die privaatveiligheidsektor en gemeenskappatrolleerders om sulke huisaanvalle, waar mense veronderstel is om die veiligste te wees, te voorkom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Suzette ·

Glo vir geen oomblik dat die statistieke korrek is nie ….. ons is nie almal kalkoenkinders nie….

Mnr De Beer ·

Ek sal seëvier as Bheki Cele vervang word met iemand bevoegd. Dan sal ek moorsyfers kan glo.

Blikkies ·

Absoluut Skokkend. Ek plaas die skuld vierkantig voor die ANC , die SAPS, en Militante Politieke Partye.

Anel ·

Sot! Watter minister in watter ander land sal tevrede wees met so ‘n statistiek????Skande!!!!Maar nou ja, kan niks minder van die lot verwag nie!!!!

Republikein in die Wes Kaap ·

Sê eerder dankie vir die dokters wat ‘n lewe red na ‘n aanval.

Harry ·

Decentralize the police and give local governments the control over the police in their districts. Oh and fire the hat.

Petra ·

Ja MNR Cele, as jy jouself glo ….. dink jy ons is onnosel genoeg om dit ook te glo. Die Here help ons!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.