Moedertaalonderrig: ‘Dis MOS ’n slim plan’

(Foto: Maroela Media)

Die voorgestelde wysigings aan die Wet op Basiese Onderwys (Bela), wat tans deur die Nasionale Raad van Provinsies verwerk word, kan die 1 200 skole in die land wat in dié stadium Afrikaanse moedertaalonderrig bied, drasties verminder.

Roedolf van der Westhuizen, uitvoerende hoof van die MOS (Moedertaal in Onafhanklike Skole) Inisiatief sê dit is een van baie voorgestelde veranderinge aan die land se onderwysstelsel wat deur die parlement oorweeg word.

“As die 7,4 miljoen mense – meer as 12% van die bevolking – wat Afrikaans as eerste taal praat, in ag geneem word, is dit baie duidelik dat volgehoue gehalte-onderrig in Afrikaans in die land se belang is.”

Die Verenigde Nasies (VN) se onderwysliggaam, Unesco, het die waarde van moedertaalonderrig bevestig en verder daarop uitgebrei.

“Navorsing wys dat moedertaalonderrig ’n sleutelrol in gehalte-onderrig en insluiting in die klaskamer speel en dat dit leeruitkomste en akademiese prestasie verbeter.

“Veral in die laerskool speel moedertaalonderrig ’n deurslaggewende rol om gapings in leerders se kennis te verhoed en die spoed waarteen kinders leer en verstaan, te verbeter.

“Moedertaalonderrig is veral ook belangrik binne die konteks van multitaal-onderrigstelsels omdat dit alle leerders bemagtig om ten volle in die samelewing te kan integreer. Dit moedig wedersydse verstandhouding en respek vir mekaar aan en help om die ryk kulturele en tradisionele erfenis, wat deel van elke taal in die wêreld is, te beskerm.”

Van der Westhuizen sê die MOS – ʼn privaat maatskappy wat in 2019 deur die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO) gestig is – verstaan hoe belangrik dit is om in jou moedertaal te leer.

“Ons is tans besig om ons netwerk van Afrikaanse privaat skole uit te brei wat gehalte-onderrig aan kinders van ses maande tot matriek bied.

“Weens die voortdurende risiko dat die aantal openbare skole wat in Afrikaans onderrig bied, verminder sal word, sien ons uitsonderlike groei in die vraag na die hoëgehalteskole in ons netwerk.”

Hy sê egter dat om meer privaat Afrikaanse skole te bou ’n kapitaal-intensiewe proses is.

“Hoewel die MOS ’n baie sterk sakemodel het wat deur die toepassing van moderne tegnologie werkbaar is, het die inisiatief besluit om die tempo te versnel deur kapitaal by ondersteuners en beleggers te werf.

“Deur geldbydraes vir bykomende Afrikaanse privaat onderrig te werf, kan ons in ons ryk Afrikaanse kultuur belê en die toekoms van jong mense in ons land beskerm en uitbou.”

Van der Westhuizen sê om hierdie doelwit te bereik, gaan die MOS in April ’n unieke slim-effek (skuldbrief) uitreik.

“Die beoogde slim-effekte gaan ’n nuutjie vir Afrika wees, omdat dit as bewyse verhandel sal word op ’n stelsel wat deur blokkettingtegnologie onderskryf word.”

Hy sê Mesh.trade (Mesh) se wêreldklas- digitale kapitaalmark-ekosisteem sal hiervoor gebruik word.

“Hierdie innoverende tegnologie sal die MOS in staat stel om die effekte aan ’n groter groep beleggers beskikbaar te stel as wat die geval sou wees indien hulle tradisionele kapitaalmarkte gebruik het.

“Dit is ’n opwindende, innoverende produk gegewe die toenemende belangstelling in die verhandeling van bewyse in markte soos die VSA en die Europese Unie,” verduidelik Van der Westhuizen.

Beleggers kan van 11 tot 26 April op die MOS-slim-effekte inteken wat vir 10 jaar teen prima plus 2% uitgereik word.

“Die MOS-slim-effekte word ten volle deur die Trust vir Afrikaanse Kuns, Kultuur en Erfenis (deel van die Dagbreek Trust-familie) onderskryf en gewaarborg,” sê Van der Westhuizen.

Die doelwit is om R100 miljoen te werf om die MOS-netwerk van Afrikaanse skole uit te brei.

Die MOS Inisiatief verwag dat die vraag na die MOS-slim-effekte die aanbod wesenlik sal oorskry aangesien “mense die waarde van moedertaalonderrig verstaan”, sê Van der Westhuizen.

Connie Bloem, medestigter en besturende direkteur van Mesh, sê dat baie snelgroeiende maatskappye wêreldwyd alternatiewe, lewensvatbare opsies om kapitaal te werf, ondersoek.

Mesh.trade is in Nederland gebaseer en het sakebelange in Suid-Afrika. Die maatskappy het uitgebreide kennis van finansiële markte en produkte, en robuuste tegnologiese infrastruktuur om die MOS-slim-effek se sukses te verseker.

“Ons beweeg in ’n era van Finansies 3.0 wat daarop gemik is om finansiële markte oper, toegankliker, eenvoudiger en deursigtigter te maak. Mesh se unieke stelsel maak dit moontlik om slim-effekte in die alternatiewe finansiële en privaat kapitaalmarkte uit te reik, te verhandel en te bestuur.

“Hierdie unieke bates is nêrens anders beskikbaar nie en word direk op Mesh se platform deur toekomsgerigte ondernemings in snelgroeiende bedrywe uitgereik,” sê Bloem.

Die bekende en gerekende ekonoom, Dawie Roodt, het die volgende oor dié nuwe bateklas te sê:

“Namate snelgroeiende ondernemings kapitaal probeer werf, word die skepping van verhandelbare slim-effekte op bates gebaseer en deur blokkettingtegnologie, wat al hoe gewilder raak as ’n manier om kapitaal van privaat beleggers te bekom, onderskryf.

“Dit sal ongetwyfeld ’n presedent skep ten opsigte van die wyse waarop ander plaaslike ondernemings in die toekoms kapitaal sal werf. Boonop bied dit nuwe geleenthede aan beleggers wat toegang kry tot unieke bates waartoe hulle nie noodwendig vantevore blootstelling gehad het nie.”

Van der Westhuizen sê die MOS-slim-effekte bied ’n baanbrekergeleentheid om kapitaal te skep en is die eerste korporatiewe effek wat as ’n slim-effek in Afrika uitgereik sal word.

“Beleggers het die geleentheid om rojale opbrengste te verdien op ’n belegging waarvan die risiko redelik bestuur word, terwyl hulle terselfdertyd ’n beduidende en belangrike bydrae tot die beskerming van Afrikaans as onderrigtaal sal maak.

“Dít is van onskatbare waarde.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Charl Albertus ·

Ek dink wat my seker die seerste maak is hoe min Afrikaners nog om gee oor hulle taal. Daar is maar min wat nog die tal probeer suiwer praat. Ons verkoop dit elke dag uit aan “cool” Engelse lenwoorde. Ons gebruik ons eie taal so min dat die woorde selfs vir ons vreemd klink.
Ons Jan Hofmeyer het in 1905 gevra wat het ons erns. D F Malan het in 1908 geantwoord dat ons taal is ons erns. Wat het van daardie trotse volk geword?

Charl Albertus ·

Spelvoute te danke aan “slim” foon en die fyt dat ek dit nie kan herstel nie.
Taal, leenwoorde, Onse Jan.

Vrijburger ·

@ Republikein in die Wes Kaap – ek deel jou sentiment.

Het ‘n bietjie gaan ondersoek instel, en het ‘n paar vrae en bekommernisse.
Die belangrikste is dat MOS ‘n private maatskappy is.
Waarom hierdie spesifieke innisiatief ondersteun, eerder as ander private afrikaanse skole? Wat maak hulle ander. (Kon nie agterkom via hul webwerf nie.)
Stel Soliforum se Kanton Beleggings nie die bou van skole in die vooruitsig nie? (In kompetisie?)
Steun sterk op bemarkings ‘jargon’ en die Afrikaanse emosionêle kaart.

Dit gesê – ek dink slim-effekte is ‘n goeie idee vir die toekoms. (En een wat Soliforum dalk kan ondersoek.) En die minimum bedrag is min genoeg om hierdie as ‘n proeflopie te gebruik.

Republikein in die Wes Kaap ·

Vrijburger, hou jou beleggings maar klein. Emosies is nie ‘n goeie finansiële dryfveer nie. Ons gewone mense weet ook net té min van blokketting tegnologie af.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.