Moedertaalonderrig: President moet minder praat en meer dóén

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Baba Jiyane /
GCIS)

Solidariteit betwyfel die opregtheid van pres. Cyril Ramaphosa se skielike kommer oor moedertaalonderrig wat hy vroeër die week op die lekgotla van die departement van basiese onderwys in Boksburg uitgespreek het.

Terwyl Ramaphosa die belang van moedertaalonderrig in ʼn demokrasie beklemtoon het, is die werklikheid dat inheemse tale as onderrigmedium oor die jare heen deur die einste regering versaak is en word.

Johnell Prinsloo, onderwysnavorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), sê die president se opmerkings sal meer as net Afrikaanse moedertaalsprekers dronkslaan.

“Ons besef natuurlik dit is nou ʼn gewilde tyd vir mooi verkiesingspraatjies komende van regeringslui. Oor die jare heen het dit egter duidelik geword hoe daar niks gedoen is om moedertaalonderrig in ander inheemse tale te bevorder nie.

“Solidariteit is natuurlik ten gunste van moedertaalonderrig – duidelik veel méér as die regering van wie ons hoegenaamd geen ernstige optrede in dié verband sien nie,” sê Prinsloo.

Wat Afrikaanse moedertaalonderrig betref, sien Solidariteit nie net ʼn gebrek aan steun van die regering nie, maar openlike vyandigheid daaroor.

Pogings om skole se gesag oor hul taal- en toelatingsbeleid met behulp van die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela) aan regeringsamptenare oor te dra, kan as ʼn duidelike aanval op Afrikaans beskou word.

Die wetsontwerp word tans deur die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) verwerk.

Volgens Prinsloo is daar ander ideologiese oogmerke met die Bela-wetgewing, wat ondanks die regering se kamtige stryd teen dekolonisasie, net verdere verengelsing van skole sal meebring.

“Om die klem op moedertaalonderrig te lê, is buitendien die regering se mandaat ingevolge die Suid-Afrikaanse Skolewet. Funksionele Afrikaanse skole kan die regering mos juis in staat stel om hulpbronne na te versprei na waar dit benodig word.

“Daarom is dit in die regering se beste belang om juis groter outonomie aan beheerliggame en funksionele skole te gee. Bela is absoluut in strydig daarmee,” sê Prinsloo.

Solidariteit daag Ramaphosa se regering uit om enige skole – selfs sogenaamde gedekoloniseerde skole – te bou om wyer toegang tot openbare skole te verseker.

Totdat dit nie gebeur nie sal uitsprake daaroor, en oor moedertaalonderrig, duidelik niks meer as goedkoop politiekery van pres. Ramaphosa wees nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Papsak ·

Ramaphosa is oor niks ernstig nie hy kan net lieg hy miet begin belangstel en ernstig raak dan doen hy tenminste iets !!!!!

Psyggie ·

Afrika uit sy vel uit!!!
Belowe en belowe en draai die mantel na waar die wind die voordeligste waai vir jou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.