Moontlike korrupsie met kwarantynfasiliteite onthul

Die gebou by die Polisie-opleidingsentrum in Pretoria-Wes word glo opgeknap om as kwarantynfasiliteite gebruik te word (Foto: Maroela Media)

Deur Elaine Krige en Anja van der Merwe

Al meer vrae ontstaan oor die koste en gehalte van die regering se kwarantynfasiliteite en daar is selfs sprake van korrupte staatsamptenare wat geld vir duur kwarantynfasiliteite in eie sak steek en tweederangse, onvoldoende fasiliteite aanskaf.

Die regering weier boonop om ʼn volledige lys van kwarantynfasiliteite landswyd bekend te maak.

Patricia de Lille, minister van die departement van openbare werke en infrastruktuur, het aangedui dat sy ʼn “slenter” ondersoek waar beamptes van haar departement reisigers na terreine skuif wat nie goedgekeur is vir kwarantyn nie en die geld wat vir hotelle geoormerk is, in hul eie sakke druk.

Dit volg nadat verskeie groepe Suid-Afrikaners wat op pad was huis toe, ure lank op lughawens moes wag omdat daar skynbaar verwarring was oor waar hulle in kwarantyn geplaas moes word.

“Daar blyk grootskaalse verwarring en wanbestuur te wees,” het Samantha Graham-Maré, DA-skaduminister vir openbare werke en infrastruktuur, gesê.

Philip van Staden, die VF Plus se woordvoerder vir gesondheid, stem saam. “Iets is beslis nie pluis nie; ons is nog net nie seker wat nie.”

Toiletgeriewe is vuil by die Zithabiseni-kwarantynkamp (Foto: Verskaf)

Maroela Media het die afgelope paar weke berig oor haglike toestande by kwarantynfasiliteite in Limpopo en Mpumalanga, waar Suid-Afrikaners wat van buurlande gerepatrieer is, noodgedwonge moes tuisgaan. Dié geriewe was vuil, onveilig en klaarblyklik nie gereed om ʼn groot groep reisigers te akkommodeer nie.

Die departement van openbare werke en infrastruktuur het Maandag tydens ʼn komiteevergadering onder kritiek deurgeloop toe hy bekend gemaak het dat hy tussen R850 en R1 050 vir ʼn enkelkamer in ʼn een-, twee- of driesterfasiliteit opdok. “As ons soveel betaal, hoekom is van die fasiliteite in so ʼn haglike toestand?” wou Van Staden weet. “Daarom wil ons graag ʼn lys van fasiliteite hê sodat ons self kan ondersoek instel, maar die departement weier dit.”

Departementele woordvoerders het aan Maroela Media gesê dié bedrae is bloot vooruitskattings en is deur tesourie goedgekeur.

Luidens die departement se voorlegging, wat Maroela Media onder oë gehad het, het die departement al R28 miljoen spandeer aan die huur van privaat fasiliteite soos City Lodge, Birchwood Hotel en Emperors Palace.

Birchwood Hotel het egter Woensdagaand in ʼn verklaring gesê dat hulle nie ʼn kontrak met die departement het om as kwarantynfasiliteit te dien nie, maar wel die departement van tyd tot tyd uithelp omdat hulle so naby aan die OR Tambo-lughawe geleë is. ʼn Groep Suid-Afrikaners moes egter Maandag vir ure lank op die lughawe wag nadat verblyf by dié hotel glo ter elfder ure gekanselleer is. Hulle is later in alternatiewe fasiliteite geakkommodeer wat inderhaas gereël moes word.

De Lille het in daardie stadium gesê dit is omdat sy nie vroegtydig ingelig is oor die vlug nie en dus nie betyds die verkryging van ʼn fasiliteit kon finaliseer nie. Maar Graham-Maré sê dié verskoning is “belaglik”. “Hierdie persele moes lankal gereed gewees het, aangesien hulle vir geen ander doel gebruik word nie. De Lille se versoek dat sy 72 uur voor die tyd in kennis gestel word, sal boonop verdere uitdagings veroorsaak aangesien nog vlugte vol Suid-Afrikaners binnekort verwag word.”

City Lodge het aan Maroela Media gesê drie van hul fasiliteite is wel die afgelope maand vir kwarantynfasiliteite gebruik, maar hul kontrak met die departement verval binnekort.

Esselen Park School of Rail Campus dien as kwarantynfasiliteit (Foto: Maroela Media)

ʼn Groep Suid-Afrikaners se vlug vanaf Doha in Katar is Dinsdag op die nippertjie gekanselleer en hulle moes ook vir ure lank op die lughawe vertoef. Passasiers is ingelig dat hulle nie kan vlieg nie, aangesien daar geen kwarantynfasiliteite vir hulle beskikbaar is nie. Woordvoerders van die departement het egter aan Maroela Media gesê daar is nie ʼn tekort aan fasiliteite nie en dat 331 fasiliteite, wat 24 568 persone kan akkommodeer, tot dusver deur die departement nagegaan en goedgekeur is. Van dié fasiliteite is 116 (wat 11 369 beddens bevat) tot dusver geaktiveer.

Die departement het dit egter nodig geag om ʼn verdere R5 miljoen beskikbaar te stel vir die opknap en toerus van bykomende fasiliteite by die Suid-Afrikaanse Polisiekollege in Pretoria-Wes en Salvokop in Pretoria se middestad. Dit is ondanks fasiliteite wat deur Transnet beskikbaar gestel is en nog nie volkome gebruik word nie, het Maroela Media se ondersoek aangedui.

Die gebou by die Polisie-opleidingsentrum in Pretoria-Wes wat glo op die oomblik opgeknap word om in die toekoms as kwarantynfasiliteite gebruik te word (Foto: Maroela Media)

Volgens die departement se voorlegging Maandag kan fasiliteite in Pretoria-Wes en Salvokop saam ongeveer 100 persone in kwarantyn huisves. Maroela Media het die betrokke fasiliteite in Pretoria-Wes besoek en gesien dat voorbereiding voortduur om persone, wat in kwarantyn moet bly, in te neem. Niemand word nog hier gehuisves nie, maar die fasiliteite lyk skoon en netjies.

Eskom en Transnet het in Maart bekendgemaak dat hulle van hul fasiliteite in Midrand, Kempton Park en Johannesburg aan die departement as kwarantynfasiliteite beskikbaar sal stel.

Maroela Media het ook van dié persele besoek. Beamptes by Eskom se Academy of Learning in Midrand het Maroela Media nie toegelaat om die perseel te betree nie, aangesien daar tans mense in kwarantyn in dié fasiliteit gehuisves word. Die ander fasiliteite waar joernaliste wel toegelaat is, was egter skoon en behoorlik toegerus om mense wat in kwarantyn moet bly, te huisves.

Transnet se fasiliteit by Park Hill in Germiston word volgens beamptes daar nog nie gebruik nie, hoewel dit beskikbaar is as kwarantynfasiliteit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Marius ·

Wanneer gaan iemand iets doen oor al die bedrog Cele wil niks aan sy maatjies doen maar eerder sy groot mond rek in die publiek oor wie waar mag loop en ry maak my siek die spul

JohanR ·

Hoekom is ek nie meer verbaas nie? Cele het groter vis om te braai, soos om al die tyd te dreig om die hele land van 58 miljoen mense in die tronk te prop, en dit nogal sonder drank of sigarette. Hy moet bietjie sy hoed af haal, sodat daar bietjie sonlig en Vitamin D by sy klein brein kan uitkom! Hy is ook amper soe stadig as onse President Nkosazana Dlamini-Zuma.

marius ·

Hoe dan anders ? Daar is nie ‘n sent oor van die sogenaamde hulpfonds nie . Glo dit maar .

ElizeK ·

Nou wat spook hulle so in ander provinsies om kwarantyn fasiliteite te kry.
Is mos net die Wes Kaap wat deurloop onder covid19 volgens die ANC.
Toets julle mense en gee eerlike syfers deur dan sal die DA beheerde Kaap nie soos n seer oog uitstaan nie.
Hoop dit beantwoord jou vraag Cherokee.
Is daar iets waaraan hulle raak wat nie korrupsie en leuens insluit nie?

Cherokee ·

Dit doen so Elize, en bewys wel dat die ANC gebruik maak van covid in hul aanval op die DA.

Boortor ·

“Moontlike” korrupsie!? Korrupsie virseker! Selfde met die sogenaamde”grens” draad en AL die ander goed soos kospakkies ens. Die lys is baie lank! Maar…soos almal se..wat het ons verwag? Wens net ons kan dit stop sit!

Louis ·

Als wat te doen hetet die korrupte regering is n korrupspul.en die wannabe cowboy cele wil net maak en breek soos hy wil.dit is tyd dat die hele korrupte spul tot n val kom.dankie Afriforim en Solidariteit wat jul vir ons mense doen

antieke antie ·

en as van die mense weggaan is die meeste van alles wat waarde het ook weg…. affrika demokrasie

Francois ·

Wanneer gaan almal besef die ANC foen dit al vir 20 jaar. Hulle sal altyd geld verduisel en in hulle sakke steek. En dit geld die ministers ook

Train ·

Ek haat hierdie korrupte regering. Ek wens ek het geld gehad om uit hierdie land te trek. Dis nie meer wat dit was nie. Ek sien nie ‘n blink toekoms vir my of my kinders hier nie. Maar ons het nie geld nie. Ons moet maar hier sit en leef, dag vir dag. In vrees. Belaglik.

Jan ·

Alles waaraan De Lille en haar departement nog aan geraak het in hierdie krisis is n gemors. Kyk maar na die heining fiasko ook

Riana ·

Hierdie is maar net nog n geval om van siek te word, enige iets wat die regering doen is om hulle self te verryk. Hulle gee nie ‘n duit om vir enige iemand anders as hulle self nie en niemand doen iets daaromtrent nie. Ek as ‘n gewone mens het van die begin af geweet hierdie gaan met nog n bedrog spul wees. Sien niemand die groot vet skrif teen die muur nie

lekkerdink ·

Die GEHEIME COUNCIL . Ek hoop die hof aansoek slaag . Wat was nou makliker as om die name bekend te maak met die lockdown . Is iemand bang? Net n paar mense moes daar gewees het .CR, TITO, MKHIZE en miskien Pravin . Die res is USELESS . Ek het voorheen opgemerk dat daar geld in die sakke van sekere mense beland met die kwarantyn faislileite , en nou? De Lille praat twak met haar 72 uur . Sy doen nie haar werk nie . Kom ons kyk wat sy nou gaan doen .

Sarel ·

Patricia De Lill hoekom self ondersoek en nie aan die Valke oorhandig nie. Jammer met jou rondspringery en in die bed met ANC het ek alle vertroue in jou verloor.
Wat van ander Dept. Gesondheid , Polisie ens. Dit is seker een van die laagste waartoe mense kan daal. Goeie voorbeeld ontvang van Politieke Leiers.

Sarel ·

My groot vraag.. tydens die stryd om die vieslike fasiliteite waar mense aangehou was ….waar was Politieke Partye soos DA & VF Plus????

Jack ·

Hierdie is niks nuuts nie. Ons land gaan al vanaf 1994 onder hierdie pandemie wat korrupsie genoem word gebuk. In effek is hierdie optrede in lande soos China met die dood strafbaar omdat dit beskou word as sabotasie. Nou ja by ons is dit n kwalifikasie om n senior pos in die staatsdiens te kry lyk dit my.

Susan ·

Niks wat hulle doen verbaas my meer nie!! Korrup tot op die been!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.