Moord op polisiehoë: Seun nou aangekla

(Argieffoto)

Die seun van die afgetrede misdaadintelligensie-offisier genl.maj. Hendrick Mogoerane (60) word daarvan aangekla dat hy sy pa vermoor het.

Thabiso Mogoerane (26) is Donderdag deur die Valke in sy huis vasgetrek en het Vrydag in die landdroshof in Kempton Park, Gauteng, op aanklag van moord verskyn. Hy is borgtog van R10 000 toegestaan.

Mogoerane is in Januarie 2018 dood op die agtersitplek van sy motor in Norkem Park, Kempton Park, aangetref. Hy het kort voor sy dood afgetree uit die polisie. Sy vrou, Cordelia Mogoerane, en sewe ander beskuldigdes het in Junie 2018 in die hof verskyn in verband met sy dood, het Maroela Media destyds berig. Hulle is almal destyds op borgtog vrygelaat.

Die Valke is oortuig daarvan dat Thabiso ook bygedra het tot sy pa se dood. “Thabiso sal na verwagting Maandag saam met sy mede-beskuldigdes in die Suid-Gautengse hooggeregshof verskyn,” sê kapt. Ndivhuwo Mulamu, woordvoerder van die Valke.

Die saak word steeds ondersoek.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.