‘Moordenaar, maar steeds my pa’ – Ewa Walus vertel

Ewa Walus, Janusz Walus se dogter. (Foto: Verskaf)

Toe Janusz Walus se dogter, Ewa, hom ʼn paar dae voor haar 14de verjaarsdag groet, het sy nie besef sy sal hom eers weer sien wanneer haar eie dogter amper net so oud is nie.

Sy was die betrokke dag in 1992 nog ontevrede omdat hy nie ʼn paar dae langer in Pole kon aanbly om haar verjaarsdag te vier, voordat hy terugkeer na Suid-Afrika nie.

“Ek onthou hy was haastig en ietwat op sy senuwees gewees. Maande later, toe hy aangekla word van die moord op Chris Hani [destydse leier van die Kommunistiese Party] het ek gedink dit was dalk omdat hy toe reeds betrokke was in die Suid-Afrikaanse politiek,” vertel Ewa vanuit Pole aan Maroela Media.

Om te probeer vergoed dat hy haar partytjie misgeloop het, het Janusz 32 jaar gelede vir sy enigste dogter ʼn ring van edelstene geskenk gegee. Sy het dit steeds.

Skok oor Paasnaweek

Hani is op 10 April 1993 in die oprit van sy huis in Dawn Park, Boksburg, doodgeskiet.

Ewa was besig om na ʼn film op die televisie te kyk die Saterdagaand, oor Paasnaweek, toe haar ma haar vra om na ʼn nuuskanaal oor te skakel. “Ek was vies gewees, want ek wou die film kyk, maar het nietemin oorgeskakel. Toe sien ons die berig dat ʼn Poolse immigrant iemand met die naam Chris Hani in Suid-Afrika vermoor het. Hulle het nie die naam van die verdagte bekendgemaak nie en ons het nog gewonder of ons die persoon sou ken, want die Poolse gemeenskap in Suid-Afrika was destyds nie so groot nie.”

Die volgende dag, Opstandingsdag, was haar pa se naam oral op die nuus.

“Dit was vir ons ʼn groot skok gewees. Ons het gedink daar moes ʼn fout wees, of dat hy ʼn maklike teiken is om vir die moord te blameer. Ons het geen idee gehad dat hy in die politiek betrokke was nie. Dit is eers later, toe al die besonderhede uitgekom het, dat ons dit begin glo het.”

Die volgende weke is sy en haar ma onophoudelik deur joernaliste geteister, wat meer wou uitvind oor wat gebeur het.

Ewa sê dit was baie swaar vir haar ma, Wanda, al was sy en haar pa van mekaar vervreem sedert hy in 1981 Pole vir Suid-Afrika verruil het. Wanda en Janusz is uiteindelik in 1998 amptelik geskei. Wanda is intussen oorlede.

Telefoonoproep ver

‘n Argieffoto van Janusz Walus. (Foto: Walter Dhladhla/AFP)

Hoewel Ewa haar pa nooit in die tronk besoek het nie, het hulle gereeld lank oor die foon gesels.

“Hy wou nie hê ek moes hom in die tronk besoek nie. Hy het gedink dit sou onveilig vir my wees, aangesien ek my identiteit aan tronkbeamptes sou moes bekendmaak.

“Die telefone het nie altyd gewerk nie, maar wanneer dit gewerk het, het ons ure lank gesels. Dit kon ons al twee darem effens opbeur.”

Ná haar pa 20 jaar tronkstraf uitgedien en parool geweier is, het sy besluit om by sy stryd om vryheid betrokke te raak. Sy het geld begin insamel vir sy regskoste. Die regstryd sou ʼn verdere nege jaar  duur.

“Ek het nooit sy politieke oortuigings gedeel nie en as jy ʼn misdaad gepleeg het, moet jy jou tyd uitdien. Ander gevangenes, sommige wat van verskeie ernstige misdade soos marteling aangekla is, het egter korter as hy tronkstraf uitgedien. As hulle ʼn tweede kans verdien, waarom nie hy ook nie?”

In hierdie tyd is haar dogter, nou tien, gebore. “Ek het gedink my dogter verdien dit om ʼn oupa te hê, aangesien haar ouma voor haar geboorte reeds oorlede is.”

Toe die Konstitusionele Hof eindelik in November 2022 beveel dat Janusz wel op parool vrygelaat moet word, kon Ewa dit amper nie glo nie.

Hoofregter Raymond Zondo het tydens sy uitspraak gesê Janusz het meer as 25 jaar van sy lewenslange vonnis uitgedien, aan elke vereiste voldoen om sy kanse om parool te verbeter, ʼn skoon dissiplinêre rekord oor die jare gehandhaaf, langer as ʼn dekade verskeie pogings aangewend om vrygelaat te word en die familie meer as een keer om verskoning gevra.

“Ek is van mening dat dit regverdig is vir hierdie hof om die minister te beveel om die applikant op parool te plaas,” het Zondo gesê.

Ewa sê sy het aanvanklik gedink sy het die uitspraak verkeerd verstaan. “Ek het vanuit Pole na ʼn regstreekse uitsending van die uitspraak geluister. Ek het in daardie stadium begin hoop verloor dat hy ooit weer vrygelaat sou word.”

Seer, maar onvermydelik

‘n Ou foto van Chris Hani. (Foto: Facebook)

Janusz is op 7 Desember amptelik op parool vrygelaat en woon tans in Suid-Afrika. Ewa het verlede jaar na Suid-Afrika gekom en hom vir die eerste keer in meer as 30 jaar weer van aangesig tot aangesig gesien. “Dit was ʼn baie emosionele herontmoeting. Ek was nie seker of ek hom ooit weer gaan sien nie.”

Weens sy streng paroolvoorwaardes wil Ewa nie verklap waar in Suid-Afrika haar pa hom tans bevind nie, maar sê dat hy gesond is. Oor sy tyd in die tronk sê Ewa hy het hom besig gehou deur te studeer en veral ander tale aan te leer. Hy het ook karate beoefen.

En wat sê hy van Hani se moord?

“Hy dink nog steeds dit was iets wat gedoen moes word. Dat daar geen ander opsie was nie. Hy weet egter ook dat dit ʼn baie wrede ding was om aan Hani se familie te doen en hy is spyt oor die pyn wat hy hulle veroorsaak het.”

Ewa werk nou aan ʼn dokumentêr en ʼn boek oor haar ervaring van die afgelope drie dekades. “Daar is baie ander gesinne wat weens verskeie redes ook van mekaar geskei is. Ons storie kan vir hierdie mense hoop bring. Dit is ook ʼn goeie manier vir my om my gedagtes te orden en sin te maak van alles wat gebeur het.”

Janusz moet nog ten minste tot Maart 2025 in Suid-Afrika bly. Dan wil Ewa hom saam met haar terugneem na Pole, sodat hy sy kleindogter kan ontmoet. “Ek hoop dat hy by ons sal woon en ʼn pa en oupa sal wees, maar ek weet nie wat sy planne is nie.”

Vir eers is dit genoeg om te weet hulle sal gou weer bymekaar wees in Pole.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Danie ·

‘n Held. ‘n Man wat van die Suid-Afrikaanse weergawe (en nog baie slegter) van Stalin ontslae geraak het. Gegroet dapper held.

Susanna ·

Ek stem saam Katinka! Saluut! Om iemand se lewe te neem is nie reg nie. Chris Hani was deel van ‘n groep terroriste wat bomme geplant het en ander gesinne in hartseer gedompel het en nooit daarvoor geboet het nie. Janusz is ‘n held in my oë.

Nici ·

Daars beslis dubbele standaarde wat straf aanbetref. Hani se dood was voorspelbaar. Hy het konstant opruiende opmerkings gemaak.

Thys ·

Hy het suid Afrika verlos van ‘n opperste terroris en moordenaar

Casper ·

Die vraag wat nog altyd by my opkom is dit,wat sou sy opruiende uitsprake in ons land veroorsaak het,was dit dalk die antwoord dat hy moes gaan.

Anel ·

Na regte kon hy al lankal by julle gewees het. Ek glo die tyd wat hy dan saam met julle sal deurbring sal net mooi herhinnering vir eendag nalaat. En Hani was ‘n misdadiger wat een of ander tyd maar moes gaan. Hy is op die regte tyd uitgehaal. Sterkte vir die Walus familie!

Republikein in die Wes Kaap ·

Die ANC was verlig toe Hani van die toneel verdwyn het. Hy sou Mbeki en Zuma beveg het en waarskynlik die ANC se einde bewerkstellig het.

Amelia ·

En hoeveel plaasmoordenaars is 25 jaar in tronk en hoeveel kinders en vroue om verskoning gevra en dit bedoel sommiges nie eers verskoning gevra nie maar is uit tronk

Gaitsigubib ·

Rep die “NP” was verlig gewees, want hulle het baie tyd, geld en beplanning spandeer aan hul nuwe leier wat die land moes oorneem. Dis nie n teorie nie dis n feit, soos ook in die bekendie boek, “tomorrow is another country” in fotos en woorde uitgepen. Hierdie arme man was die intellegensie diens se pion gewees. Hy was aan sy neus gelei en kon die val vat sonder dat die konkelaars hul gesigte hoef te wys. Hy was van die min mense wat uit beginsel opgetree het op daardie stadium. Of dit nou reg of verkeerd was debateer ek nie.

Bolandse Nooi ·

@Susanna, hoe redeneer jy dan ook? Hani en sy trawante hét bomme geplant en sabotasie gepleeg wat mense se lewens geëis het. Maar Nelson Mandela en Mkhonto we Sizwe (nie MK Party nie!) het OOK!!! Walus is ook ‘n moordenaar.

Ek wonder soms … as mense in gedagte neem wat nóú in SA aan die gang is, wat sou gebeur het as Chris Hani nie “uitgehaal” was nie. Sou daar nie dalk ‘n beter regime aan bewind gekom het, wat ALMAL se belange gedeel het nie?

RS ·

Ek voel jammer dat sy haar pa nie in haar lewe gehad het nie, maar dankie aan hom vir wat hy vir ons gedoen het.

Di ·

Ek wonder nou ng wie hom “gehuur” het om Cgris Hani te vermoor. Baie bespiegel dat dit iemand binne in die ANC kringe is, daarom wou hy nooit met die waarheid vorendag kom nie.

SjN ·

Mag hy terug gaan na Pole en tyd spandeer saam met sy geliefdes, hy moes jare terug al op parool vrygelaat gewees het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.