‘Moordenaar’ terug agter tralies ná eenheid ingryp

Argieffoto (Foto: VBlock/Pixabay)

Sewe jaar se gebrek aan optrede deur die owerhede het vandeesweek binne net drie dae tot ’n einde gekom toe AfriForum se privaatvervolgingseenheid ingegryp het. Vermeende moordenaar Jan de Klerk van Wyk is Donderdag in hegtenis geneem en het in die Boksburg-landdroshof verskyn. Van Wyk bly tans in aanhouding.

Barry Bateman, woordvoerder van die eenheid, sê Van Wyk is op 29 September 2016 skuldig bevind op aanklag van moord met voorbedagte rade op Izak van Zweel. Hy is lewenslange tronkstraf gevonnis.

Van Wyk het egter suksesvol geappelleer weens ’n tegniese punt dat die landdros versuim het om hom in te lig van sy reg om te versoek dat assessore tydens die verhoor aangestel word. Sy skuldigbevinding en vonnis is tersyde gestel, en die hof het beveel dat die saak van voor af aangehoor word – dít het nooit gebeur nie.

Die suster van die oorledene, Lizette Brooks, het die eenheid genader ná jare se pogings om antwoorde van die owerhede te kry oor hoekom Van Wyk nie weer verhoor is nie. Die eenheid het dadelik aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) geskryf en antwoorde geëis.

Bateman sê die eenheid het op 7 Februarie ’n brief namens Brooks aan die NVG geskryf. Die NVG het op 8 Februarie gereageer en gesê dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) versuim het om ’n bevel van ’n aanklaer na te kom en dat die saak as afgehandel gemerk is.

“Daar is vasgestel dat alle getuies beskikbaar was, en ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming is bekom. Van Wyk is op 9 Februarie in hegtenis geneem en hy het in die hof verskyn.”

Die saak is uitgestel vir ’n formele borgtogaansoek en die beskuldigde bly in aanhouding. Van Wyk sal weer vir die moord op Van Zweel verhoor word.

Bateman het die NVG vir hul vinnige reaksie bedank. “Die ongelukkige werklikheid is dat dit nooit hierdie punt moes bereik het nie. Vir sewe jaar smag ’n gesin na geregtigheid, maar weens pure onbevoegdheid of nalatigheid loop ’n vermeende moordenaar vry rond. Dit is weereens bewys dat die enigste manier waarop lede van die publiek geregtigheid kan verkry, is wanneer hulle deur organisasies soos AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig word.”

’n Emosionele Brooks het die eenheid vir hulle hulp bedank nadat hulle van hierdie verwikkeling ingelig is. Die saak is na die landdroshof in Vosloorus oorgeplaas.

Van Wyk sal op Dinsdag 14 Februarie aansoek doen om borgtog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eugene ·

So is honderde sake moord sake onopgelos weens erge nalatigheid en agterlosigheid van die sapd. Ek noem hulle slapgatte, maar hulle word salaris Betaal. Eks Bly vir Lizette brooks se onthalwe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.