Moordverdagte spog glo met slagoffer se motor

Die verhoor sal vir die volgende twee weke duur. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Die tweede getuie in die dubbelmoord op ʼn paartjie van Sasolburg het Dinsdag in die rondgaande hof in Parys getuig dat die hoofverdagte in die saak die naweek van die slagoffers se moord skynbaar met hul motor in die township gespog het.

“Hy het glad nie verdag opgetree nie, hy het heel gemaklik in die motor gelyk.”

Dié getuie woon in dieselfde gebied waar Stanley Lingena (38) woonagtig was voordat hy Augustus verlede jaar in hegtenis geneem is vir die moord op Annie Liebenberg (62) en haar lewensmaat, Michael Zantow (64). Die paartjie is iewers in die naweek van 20 tot 22 Augustus vermoor.

Volgens die getuie het Lingena hom op Vrydag 20 Augustus 2021 om 16:00 in ʼn motor genader wat hy nog nooit vantevore gesien het nie. Die getuies in die saak het gevra dat hul name nie in die media genoem word nie, uit vrees vir intimidasie.

“Ek was op pad na my ouerhuis nadat ek leerders by die skool gaan afhaal en by hul onderskeie huise afgelaai het. Hy [Lingena] het my voorgekeer en gesê hy het die lotto gewen en dat ek saam met hom moet gaan bier drink.”

Lingena het glo in hierdie tyd ook die getuie meegedeel dat hy die motor vir homself aangeskaf het.

“Dit was die eerste keer dat ek hom in hierdie motor gesien en uitgevind het dat hy weet hoe om te bestuur.”

Die getuie en Lingena is glo nie boesemvriende nie, maar eerder kennisse wat af en toe mekaar in die straat raakloop. Hulle ken wel van dieselfde mense.

Op versoek van die staatsaanklaer het die getuie beskryf hoe die motor gelyk het waarin Lingena gestop het. Dit was ʼn wit Volkswagen, soortgelyk aan die motor wat in Liebenberg en Zantow se besit was voor hul moord.

Die getuie beweer dat hy Lingena die Vrydag in ʼn Volkswagen Golf gesien het, maar het toegegee dat dit moontlik ʼn ander model was, aangesien hy nie die verskil tussen die soorte Volkswagen-modelle ken nie.

Hy het egter by verskeie geleenthede bevestig dat die motor wat hy Lingena op 20 Augustus in gesien het, dieselfde is as ʼn foto van ʼn wit motor wat as ʼn bewysstuk by die hof ingedien is. Hierdie foto is dae later, op 22 Augustus, deur die polisie geneem nadat daar op die betrokke motor beslag gelê is.

Maroela Media het vroeër berig dat die polisie een van Liebenberg en Zantow se motors in die betrokke township gewaar het, kort nadat Liebenberg se liggaam aangetref is. Daar is op die motor beslag gelê en later bevestig dat dit inderdaad Liebenberg en Zantow se voertuig is.

Volgens die getuienis het Lingena die betrokke dag verskeie ongelukke met die motor gemaak deur eerstens in ʼn sloot in te ry en toe amper ʼn fietsryer om te ry.

Verdediging sê dis ‘leuens’

Die verdediging het in die kruisondervraging van die getuie gesê dat sy weergawe van gebeure nie ooreenstem met dit wat Lingena destyds uitgelê het nie.

Volgens Lingena se regsverteenwoordiger het hy eintlik ʼn sportweddenskap gewen – nie die lotto nie – en dat dit nie ʼn beduidende bedrag was nie. Beslis nie ʼn groot genoeg bedrag dat Lingena vir hom ʼn motor sou kon aanskaf nie.

“Hy [Lingena] sê dat hy toestemming van die eienaar van die motor gehad het om op daardie dag met die motor rond te ry,” het die regsverteenwoordiger gesê.

“Hy het vir my gesê hy het die motor gekoop en nooit iets anders daaroor gesê nie. Hy het ook nie enige bewyse gelewer dat hy die lotto of ʼn sportweddenskap gewen het nie,” het die getuie teruggekap.

Een van Zantow se kinders was volgende om te getuig. Haar getuienis sal Woensdag voortgaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Harley Davidson ·

Dit kom neer op kriminele wat geen vrees meer het vir die belasting diewe in blou wat hulself “polisie” noem nie.

Anel ·

Hoe dom dink die verdediging is ons? Maar nou ja, dit is seker hulle plig om die moordenaars te verdedig. Wonder net altyd waar kry hulle die geld vandaan. En as dit staatsverdediging is, hoekom moet die belastingbetaler vir ‘n moordenaar se verdediging betaal? Die hele stelsel is verkeerd!!!!

Lillian ·

Ek wonder soms hoe kriminele prokureurs met hulself saamleef … gaan seker ook maar net oor die geld en niks anders nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.