Moordverhoor lê soos ʼn berg voor familie

Annie en Michael was smoorverlief. (Foto: Verskaf)

Die oorlede Annie Liebenberg en Michael Zantow se voormalige tuinier en sy medepligtige sal na verwagting Maandag in Parys in die Vrystaat verhoor word vir hul beweerde betrokkenheid by die gru-moorde op die paartjie van Sasolburg.

Die verdagtes, wie se name nog nie bekend gemaak is nie, sal vir twee weke in ʼn sitting van die rondgaande hof in Parys verhoor word.

Hulle is destyds ure ná die moord op Liebenberg (62) en Zantow (64) in hegtenis geneem. Die slagoffers se liggame is in Augustus verlede jaar in twee verskillende huise aangetref. Albei is grusaam vermoor.

Liebenberg en Zantow het skaars hul lewe saam begin voordat hulle vermoor is. Hulle is in 2020 herenig, nadat hulle jare gelede kontak verloor het.

Maryke Liebenberg, Annie se dogter, het vandeesweek aan Maroela Media gesê die verhoor lê soos ʼn berg voor haar.

“Ek sien so op daarna en ek wil dit eerlikwaar net agter die rug kry,” sê sy.

“Dit is iets wat ek nie eintlik wil herleef nie, ek sal dit nie eens my ergste vyand toewens nie. Dit voel onwerklik dat ons dít moet deurgaan.

“Maak nie saak wat gebeur nie, ons hoop dat regverdigheid geskied. Ongeag die uitspraak sal dit nooit die seer of die werklikheid van wat gebeur het, wegvat nie. My ma gaan nooit weer terugkom nie.”

Ondanks die ou wonde wat volgende week opnuut oopgekrap gaan word, is Annie se gesin dankbaar dat die polisie in Sasolburg vinnig werk daarvan gemaak het om die saak tot verhoor te kry.

“Die ondersoekbeampte, konst. Chrissie van der Linde, en haar span se pogings is rêrig prysenswaardig.”

‘My ma en Michael was goed vir hulle’

Volgens Maryke was die twee verdagtes in haar ma-hulle se moord werksaam by die paartjie. Hulle het egter hul poste verbeur omdat Annie en Michael geglo het die verdagtes steel by hulle.

“Op Michael se verjaarsdag het die twee by die huis aangeklop en gesê hulle is honger. Met my ma se sagte hart het sy vir hulle ʼn tweede kans gegee.”

Annie is sowat twee weke later buite hul huis vermoor. Michael se liggaam is ʼn dag later by ʼn huis in Lateganstraat aangetref. Die huis is vermoedelik dié van sy oorlede ma.

Maryke sê haar ma-hulle was goed vir die twee verdagtes en het hulle gedurig uitgehelp met basiese benodighede.

“Dit voel onwerklik dat hulle teregstaan op my ma en Michael se moord.”

Die twee verdagtes het reeds twee keer aansoek om borgtog gedoen, maar die aansoeke is albei kere van die hand gewys.

‘ʼn Deel van my is dood’

“Ek en my ma was baie na aan mekaar. Ons het daagliks gepraat en haar dood het ʼn groot leemte in my lewe gelaat,” sê Maryke.

“Dit is asof ʼn deel van my ook dood is. Sy was ʼn steunpilaar en sy is heeltemal weg.”

Maryke en die res van die gesin vind tog vertroosting daarin dat Annie se geliefde katte, wat soos haar eie kinders was, nou by Maryke woon.

“Selfs my ma se katte het getreur en hulle het aanvanklik moeilik aangepas. Maar ʼn dier is ʼn wonderlike ding in ʼn mens se lewe. Dit is asof ʼn deel van haar nog by my is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Ovelia ·

Ek dink aan julle en bid vir julle. Ons bly in Parys maar is ook deur sulke trauma. My broer is vermoir en 28 jaar later ht ons uitgevind wie… sy sersant, di het later selfmoord gepleeg. Al is di verrigtinge hoe seer om weeer deur te maak, later bring dt tog n mate van berrusting. God laat julle nooit alleen ni

SjN ·

Weereens n bewys, moet nie n tweede kans gegee word nadat hul alreeds goed was vir die ondankbare uitvaagsels nie.

Christine ·

Dankie dat hierdie polisie-tak darem iemand daar het wat verantwoordelik en empatiek met die saak werk en sorg dat die skuldiges in die tronk bly en borgtog geweier word. Ek hoop hierdie misdadigers kry wat hy toekom, en dit is elk 2 lewenslange vonnisse vir hul dade.

Danie ·

Die oopkrap van ou seer wonde en die gesloer van ons wonderlike strafregstelsel kan nie maklik wees nie.Sterkte aan die familie.

Roek ·

Staan vas en glo , hulle is die beskuldiges , die berg moet jul moed gee om te klim vir die wat hul lewe verloor het , Baie sterkte !!

Dries ·

Ja, SjN, uitvaagsels hier tussen ons. Hoe kan ons waaksaam genoeg wees?

Swerwer ·

Baie sterkte aan die familie. In vandag se tyd is dit ongelukkig die hand wat voer wat eerste uit die weg geruim word. Geen wese kan meer vertrou word nie. Menslikheid bestaan nie by hul nie. Hoe meer jy vir die wesens doen hoe harder slaan hul toe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.