Moot-matriek se somme klop – altyd!

Jean Goodey van Hoërskool Oos-Moot. (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

ʼn Slimkop van die Moot het Pretoria én Oos-Moot se naam hoog gehou toe Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, hom uitgesonder het as een van die slimste matriekleerders in die land.

Jean Goodey van Hoërskool Oos-Moot het naasbeste gevaar in wiskunde van al 2023 se matrikulante. Hy het altesaam sewe onderskeidings in die matriekeksamen ingeoes.

Motshekga het die land se topmatrikulante Donderdagoggend tydens ʼn ontbyt in Johannesburg onthaal. Hoewel geen van dié leerders toe al geweet het wat hul matriekuitslae is nie, was hulle daarvan verseker dat hulle die uitblinkers is.

Die matriekuitslae is Vrydag landwyd bekendgemaak, maar Motshekga het Donderdagaand tydens ʼn glansgeleentheid onthul watter matrikulante die heel beste gevaar het.

Jean het gesê hy was geensins gespanne oor sy matriekuitslae nie.

“Ek was rêrig nie bekommerd nie. Ek voel ek het hard gewerk vir wat ek wil bereik, so ek is eintlik opgewonde om dit te kry,” het hy toe gesê.

Somme is beslis Jean se sterkpunt, want wiskunde en rekeningkunde was sy brood en botter op skool, terwyl hy “effens gesukkel het” met tale.

Jean beplan om oor ʼn paar weke by die Universiteit van Pretoria aan te meld om aktuariële wetenskappe te studeer.

Hoewel hy graag sy studie in Suid-Afrika wil voltooi, oorweeg hy die moontlikheid om eendag die buiteland aan te durf om sy passie vir wiskunde uit te leef.

“Ek dink nog daaraan of ek in Suid-Afrika gaan bly, maar as ek die geleentheid kry, sal ek beslis oorsee gaan werk,” het hy gesê.

Motshekga het Jean en sy mede-topmatrikulante geloof vir die vasberadenheid en toewyding wat hulle tot op hierdie punt gekry het.

Motshekga het gesê hierdie portuurgroep het die uitdagings van die Covid-19-pandemie aangedurf en die “storm deurstaan”.

“Die feit dat julle hier is, is ʼn bewys van jul veerkragtigheid en uithouvermoëns,” het sy gesê.

“Jul aanpasbaarheid deur die onstuimige paar jaar is ʼn voorbeeld vir ander dat jy groot sukses te midde van teëspoed kan behaal.”

Kyk hier wat Jean en sy ouers verder te sê het:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.