Mosambiekse oudminister aan VSA uitgelewer

Manuel Chang, oudminister van Mosambiek (Foto: Wikus de Wet/AFP)

Die voormalige Mosambiekse minister van finansies, Manuel Chang, wat daarvan beskuldig word dat hy gehelp het om ’n finansiële korrupsieskandaal te orkestreer waartydens hy Amerikaanse beleggers bedrieg het, is Woensdag aan Amerika uitgelewer om aanklagte in die federale distrikshof die hoof te bied.

The New York Times berig Chang het met sy uitlewering alle oortredings ontken.

Hy is in die bewaring van Amerikaanse amptenare oorgeplaas en het Suid-Afrika vanaf die Lanseria-lughawe, noord van Johannesburg, verlaat.

Chang is in die VSA en ook in Mosambiek gesoek vir beweerde sameswering om bedrog te pleeg en omdat hy glo miljoene dollars in omkoopgeld aanvaar het. Die beweerde oortredings hou verband met ʼn $2 miljard-leningskandaal wat ook twee internasionale banke betrek.

Die lenings is vir die Mosambiekse parlement weggesteek, maar die skuld het in 2016 aan die lig gekom, waarna skenkers, waaronder die IMF en die Wêreldbank, versoek is om finansiële steun terug te trek.

Chang – wat die lenings afgeteken het en vroeër vanjaar ’n stryd teen uitlewering verloor het – word daarvan beskuldig dat hy die Amerikaanse finansiële stelsel gebruik het om die bedrieglike skema uit te voer.

Hy is in Desember 2018 by die Internasionale Lughawe OR Tambo in hegtenis geneem. Hy was onderweg na die Verenigde Arabiese Emirate.

Mosambiekse amptenare het geveg om hom terug na die land te laat uitlewer om aanklagte daar aan te hoor, maar burgerlike organisasies het aangedring om hom aan Amerika uit te lewer, met die argument dat Chang voorkeurbehandeling van sy politieke bondgenote in sy tuisland sou kry.

Suid-Afrikaanse amptenare het ingestem om Chang na Mosambiek terug te stuur, maar ’n Suid-Afrikaanse hof het die besluit omgekeer en beveel dat hy uitgelewer word aan die Verenigde State, waar hy na verwagting in die federale hof in Brooklyn sal verskyn.

“Ons wil hê Chang moet praat in ’n regbank waar hy nie as koning behandel word nie en waar hy soos ’n gewone burger hanteer word, wat nie die geval in Mosambiek sou wees nie,” sê Adriano Nuvunga, die voorsitter van Fórum de Monitoria do Orçamento, ’n burgerlike samelewingsgroep gebaseer in Mosambiek se hoofstad, Maputo.

Die groep het die hofuitdagings ingedien wat uiteindelik daartoe gelei het dat Chang na die Verenigde State oorgeplaas is.

Die forum hoop dat ’n verhoor van Chang in die Verenigde State uiteindelik sal help om die ongeveer halfmiljard dollar wat nog nie verantwoord is nie, op te spoor en te identifiseer aan wie Chang die bevele gegee het om daardie onwettige verbande te onderteken, sê Nuvunga.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Miena ·

So wat is die verskil tussen hierdie uitlewerings geval en die arrestasie-lasbrief wat wag vir n sekere persoon wat SA bodem betree binnekort – m.b.t. gehoor gee en verantwoordbaar is vir n geldige en duidelike opdrag?

Anel ·

Nou wat is die verskil tussen hierdie een en die Guptas, of nog beter, wat is die Russe beter!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.