‘Motor het benoud geruik’; skoonseun getuig in Vaalharts-moorde

Die beskuldigdes in die Brand-gesin se moordsaak van links voor: Donald Seoleseng, Tshepo Visagie, Kgomotso Mpulwana en links agter: Tsepaone Melato (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Dit het gelyk of Elzabie Brand (54) se silwerkleurige Mazda CX5 wat tydens haar en haar ouers, Dan (83) en Breggie (73) Brand, se moord gesteel is, onlangs gewas is. Daar was ook bloedvlekke in die motor.

Só het die egpaar se skoonseun, Jacobus Frederick de Beer, Dinsdag in die hooggeregshof in Kimberley getuig. De Beer is ʼn paar dae ná die moord op die drie lede van die gesin na die polisiestasie op Hartswater ontbied waar hy hul gesteelde voertuie – die Mazda en ʼn rooi Nissan Micra – moes uitken.

Hy het getuig die Mazda was nog die enigste “lopende motor” wat hy toe in sy besit geneem het.

“Die agtersitplek, matte en kattebak was nog klam en dit was duidelik dat die kar onlangs gewas is,” het De Beer getuig.

“Die motor het vir ʼn paar dae in die son toegestaan en het ʼn verskriklike benoude reuk gehad.”

Die 20-jarige Realeboga Manyedi het in September as staatsgetuie aangevoer dat hy die beskuldigdes, Tshepo Visagie (36), Donald Seoleseng (21) en Tsepaone Melato (20), die dag van die Brand-gesin se moorde gehelp het om die Mazda te was.

Elzabie, Breggie en Dan Brand.

Manyedi het getuig die motor se bagasiebak was vol bloed en Visagie – sy halfbroer – het hom verseker dat dit die bloed van ʼn donkie was waarteen hulle vasgery het.

Seoleseng, Visagie en Melato is saam met Kgomotso Mpulwana (43) die beskuldigdes in die moordsaak.

Die vier staan tereg op drie aanklagte van moord, een aanklag van roof met verswarende omstandighede, drie aanklagte van ontvoering en drie aanklagte van dwarsboming van die gereg. Seoleseng word ook daarvan aangekla dat hy uit aanhouding ontsnap het.

Die Brand-gesin is op 26 Julie 2020 op hul kleinhoewe by Magogong, naby Hartswater, ontvoer en vermoor.

Volgens De Beer het die Mazda altyd ʼn Gauteng-nommerplaat gehad, maar toe hy die voertuig ontvang het, het dit ʼn Noord-Kaap-nommerplaat gehad.

Hy het ook getuig dat die linkeragterwiel – wat die motor se spaarwiel was – se wielvelling stukkend en die band pap was. Daar was ook ʼn groot duik op die motor se voorste buffer.

“Ek het die motor na ʼn motorbesigheid toe gevat wat vasgestel het die wielvelling het ʼn gat in. Dit blyk asof die motor oor ʼn klip gery het wat ʼn gat in die wielvelling geslaan het,” getuig De Beer.

Seoleseng, Manyedi en Mpulwana is op Dinsdag 28 Julie 2020 op die N8-roete naby die Podimoe-kruising naby Rooiwal in die Mazda in hegtenis geneem.

Seoleseng is by sy inhegtenisneming agter in ʼn polisievoertuig gesit om hom polisiestasie toe te neem. Terwyl die polisie ʼn soektog na die vermiste Brand-familie uitgevoer het, het Seoleseng ontsnap. Hy is later weer vasgetrek.

Die egpaar se gesteelde Nissan Micra is ʼn dag later verlate in ʼn steengroef naby die Majaneng-nedersetting gevind. Die slagoffers se liggame is kort daarna opgespoor.

Dan en Elzabie se liggame is in ʼn beboste gebied in die Diretseleng-omgewing in Taung gekry en Breggie se liggaam is in ʼn blou duvet in ’n watergat in die Taung-omgewing aangetref.

  • Lees ook Maroela Media se vorige berigte oor die moordsaak hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Harley Davidson ·

En so is 90% van die gevalle voorheen benaadeeldes wat huidige benaadeeldes vermoor as ons ons eie land gehad het en onself kon regeer sou 90 persent van ons vermoorde mense vandag nog ‘n positiewe invloed op ons samelewing gehad het.

domheks ·

Hoop hulle geniet die besoek aan die tronk! 3X Lewenslank!

Jannie van Niekerk ·

Al kry hulle 25 keer lewenslank gaan hulle presies een en ‘n half minuut na hulle vonnis vry gelaat word. Onthouidie goed is Cele se helde

Pablo ·

Die prentjie raak net al hoe erger en die ANC is nie in n posisie om hulle gemors op te klaar nie. Genade wat n disaster om die minste te sy. Gee pad terwyl jy kan.

Lillian ·

Hoe ontsnap ‘n verdagte uit ‘n poisievoertuig … hy is mos veronderstel om geboei te wees …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.