ʼn Motoris is dood en twee ander mense gered ná vloede in Mogwase in Noordwes.
“Swak sig weens die swaar reën het vermoedelik die ongeluk Donderdagmiddag veroorsaak,” het Lesiba Kgwele, woordvoerder vir die provinsiale regering, gesê. “Die ongeluk het op die Mogwase-Sun City-pad plaasgevind.”
Kgwele kon nie bevestig of die motoris ʼn man of ʼn vrou was nie.
Twee ander motoriste is Vrydagoggend omstreeks 05:45 op die Mogwase-Northam-pad deur die polisie se duikspan gered. Hul motors is Donderdagaand deur die vloede meegesleur.
Kgwele sê ʼn ondersoek sal Vrydag bepaal wat is die omvang van die skade op die paaie ná die vloede.
Intussen duur die soektog voort na twee kinders wat Donderdagmiddag deur vloedwater naby Mogwase informele nedersetting meegesleur is. -SAPA