MRK kry klagtes oor NSFAS

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) het verskeie klagtes van voornemende TVET-kollege en universiteitstudente ontvang oor die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS).

“Hierdie voornemende studente, en studente wat tans ingeskryf is by instansies vir hoër onderwys en opleiding, veroordeel die manier waarop NSFAS hul aansoeke vir finansiële hulp hanteer het,” het Gushwell Brooks, woordvoerder van die MRK, in ʼn verklaring gesê. “Die klagtes handel ook oor die toeganklikheid en foute in NSFAS se appèlprosedures vir studente wie se aansoeke nie goedgekeur is nie.”

Brooks het gesê die MRK is veral besorg oor die implikasies op die studente se reg tot verdere onderrig, kragtens artikel 29(1)(b) van die Grondwet.

“Die kommissie is ook besorg oor mediaberigte wat ʼn donker prentjie skets oor hoe aansoeke vir finansiële hulp bestuur word, gegewe die feit dat registrasie by universiteite landswyd binnekort sluit. Die kommissie is bekommerd dat ʼn beduidende getal studente nie bystand sal ontvang voor die sluitingsdatum vir registrasie nie. Dit skend hul reg tot gelykheid, menswaardigheid en toegang tot verdere onderrig.”

Brooks sê die kommissie sal in gesprek tree met NSFAS en die departement van hoër onderwys en opleiding. “Die doel van dié gesprekke sal wees om huidige aansoeke te prioritiseer en om te bepaal wat die omvang is van die uitdagings wat studente en NSFAS beleef. Die kommissie sal ook ander inisiatiewe van stapel stuur om dié klagtes te hanteer, insluitend om hande te vat met ander hoofstuk 9-instansies om die uitdagings in die hoër onderwyssektor te ondersoek.”

Intussen het dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, Maandag gesê alle behoeftige studente wat verlede jaar vir NSFAS-finansiering gekwalifiseer het, wie se finansiële posisie steeds binne NSFAS-perke val, en die vereiste akademiese sukses behaal het soos in die NSFAS-regulasies vervat, sal weer vanjaar volle NSFAS-finansiering ontvang. Lees meer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Suzette ·

NSFAS is net nog ‘n mislukking onder die huidige regering, maar dan wil hulle kom inmeng met die mediese fondse ook deur die national health insurance bill te implementeer. Dit gaan ook in die drein afgaan… soos al die ander goed.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.