MRK ondersoek rassisme in sy eie kringe

Chantal Kisoon (Foto: MRK)

Die Menseregtekommissie van Suid-Afrika (MRK) sê as ʼn instansie wat grondwetlike demokrasie ondersteun, wil hy die publiek gerus stel dat hy nie rassisme of enige ander skending van die regte, soos vervat in die Grondwet, goedkeur nie.

“Die kommissie betreur die voorval op 23 Februarie waar die voormalige waarnemende uitvoerende hoof, Chantal Kisoon, glo ʼn rassistiese uitlating teen personeel van die kommissie gebruik het,” lui ʼn verklaring. “Die kommissie sal geen steen onaangeroer laat om die voorval te ondersoek nie en nie huiwer om op te tree nie indien die persoon in ʼn onafhanklike proses skuldig bevind word. Die kommissie het onverpoosd baklei teen rassisme en sal daarmee voortgaan, selfs in sy eie kringe.”

Ná die bewering dat Kisoon na senior bestuurders as “swart babas” verwys het tydens ʼn bedryfsplanvergadering, het die kommissarisse reeds verskeie stappe gedoen.

“Daar is dadelik ʼn vergadering belê met die senior bestuurders en die waarnemende uitvoerende hoof, sodat die kommissarisse ʼn beter insig kan hê in die feite en konteks waarin die beweerde oortreding plaasgevind het.”

ʼn Onafhanklike persoon sal aangestel word om die voorval te ondersoek en die bevindings en aanbevelings aan die kommissie voor te lê. Só onafhanklike persoon kan ʼn afgetrede regter of senior prokureur of senior advokaat wees. Die proses om die persoon aan te stel het reeds begin.

Kisoon is voorlopig geskors hangende die ondersoek.

Lorinda Lynn, waarnemende finansiële hoof, is intussen aangestel as tydelike uitvoerende hoof. Iemand anders sal aangestel word om op te tree as hoof- finansiële beampte.

“Die kommissie sal steeds voortgaan met sy mandaat om menseregte sonder vrees, guns of vooroordeel te beskerm, te bevorder en te monitor.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Di ·

AG ASB! Die grootste RASSISTE is die ANC regering en al hulle kaders. ALmal staat hulle blind teen die paar gevalle wat hulle totaal uit verband ruk. Kyk maar rond hoe word daar teen blankes opgetree in die land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.