Munisipaliteit bied Eskom plase as sekuriteit aan

(Argieffoto: pixabay)

Die Majhabeng-munisipaliteit in die Vrystaat het ingestem om 139 plase wat aan hom behoort aan Eskom te oorhandig as sekuriteit vir sy uitstaande skuld van R3,4 miljard aan die kragvoorsiener.

Die plase is glo nagenoeg R2,5 miljard werd.

Die titelaktes van die grond sal ten gunste van Eskom geëndosseer word tot die dispuut tussen die twee partye opgelos is. Die ooreenkoms is ook ʼn bevel van die hof gemaak.

“Die stap deur Eskom is die gevolg van herhaalde versuim deur die munisipaliteit om sy betalingsverpligting aan Eskom vir grootmaatkragvoorsiening na te kom,” het Eskom Dinsdag gesê.

As deel van die ooreenkoms het die munisipaliteit ingestem om sy aansoek, waarin hy vra om die bevel waarvolgens Eskom vroeër op een van sy bankrekeninge beslag gelê het, te laat vaar. Eskom het dié rekening aan die munisipaliteit teruggegee. Die geld in die rekening – sowat R2,7 miljoen – bly in die sorg van die balju.

Eskom is sedert 2014 betrokke by verskeie hofprosesse in ʼn poging om die munisipaliteit se uitstaande skuld van R372 miljoen te probeer invorder. Eskom sê die plaaslike owerheid kom nie betalingsooreenkomste of hofbevele na nie, wat beteken die munisipaliteit se skuld het die afgelope paar jaar tot R3,4 miljard toegeneem.

Munisipaliteite landwyd het Eskom teen einde Julie ʼn gesamentlike R31 miljard geskuld. Die kragvoorsiener sê dit bedreig sy volhoubaarheid.

Eskom het intussen ook toestemming gekry om te appelleer teen ʼn hooggeregshofuitspraak wat hom verbied om sogenaamde kragvermindering na Standerton in Mpumalanga en Parys in die Vrystaat in te stel.

Regter Anthony Millar het Eskom einde verlede maand in die Pretoriase hooggeregshof verbied om verdere kragvermindering in die munisipaliteite van onderskeidelik Lekwa en Ngwathe in werking te stel.

Die hof het Eskom Maandag toestemming gegee om teen die hele uitspraak en die bevele daarin te appelleer.

Eskom stel die kragvermindering in om die dorpe te dwing om binne Eskom se maksimum vraag na elektrisiteit te bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Dries ·

Genade! En hier dog ek die boere besit al die plase in die land, en moet dit ‘teruggee’, want dis dan die boodskap wat daar die heeltyd in parlement verkondig word deur sekere politieke partye.

Kokerboom ·

Die munisipaliteite skuldsage kom al aan sedert ANC dorpe gevat en verwoes het. Die wil ontbreek by Sentrale Regering om die probleem op te los weens gebrek aan kennis asook die wil. Intussen ly die getroue belastingbetalers daaronder. OUTA het ‘n groot taak. Forensiese oudits vir 26 jaar moet op elk van skuldige munisipaliteite uitgevoer word en ALLE skuldige kaders aan volle mag van gereg blootgestel word. SO GOU MOONTLIK!! Is dit dan nou soo moeilik en onverstaanbaar????

Willem ·

Nou wil ek net weet hoe gee jy staatsgrond aan ń staatsmaatskappy vir sekeriteit. Wonder maar net

Jaco ·

Wat verstaan die mense nie. Die geld vir die krag is aan dorp betaal. Hulle moet nou die geld aan Eskom oorbetaal. Waar is die geld?

Casper ·

Hoe het die munisipaliteit eerstens die plase bekom.Dit blyk dus die plase was onproduktief.Dit is 139 boere wat ten minste die grond kon gehuur het dan kon hulle escom daarmee betaal het of sou hulle.Gebruik dan die plase vir vir die EFF se grondhervorming.Wie is dan verantwoordelik vie die finansies by munisipaliteite.As jy nie betaal nie skort krag op tot jy betaal.

Louwrens ·

Waar kry die munisipaliteit 139 plase? Wie boer of woon daar?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.