Munisipaliteit moet ook opdok ná seksuele aanranding

hof-hamer

(Argieffoto)

Die Dr. Beyers Naude-munisipaliteit, met Graaff-Reinet as setel, moet saam met een van sy werknemers R3,9 miljoen opdok nadat die werknemer homself op ʼn kollega probeer afdwing het.

Volgens die regsfirma Webber Wentzel bevestig die uitspraak van die hooggeregshof in Makhanda die potensiële gevolge vir ʼn werkgewer wat nie ʼn veilige werksomgewing aan werknemers bied nie, waaronder seksuele aanranding of ander vorme van teistering.

Die vrou, wat in die uitspraak slegs as “E” geïdentifiseer word, is 12 jaar gelede seksueel deur haar lynhoof aangerand. Sy het as ʼn administrateur vir die munisipaliteit gewerk toe haar onmiddellike hoof, Xola Jack, op ʼn Maandagoggend in haar kantoor ingestap het. Hy het haar gegroet, na haar lessenaar geloop en sy mond op hare gesit en sy tong in haar mond probeer dwing. Sy het op haar tande gekners maar is ondanks dit met ʼn mond vol van sy speeksel gelaat.

Toe E by haar werkgewer oor die voorval gekla het, is sy vir twee dae op “spesiale verlof” geplaas. Jack is nie geskors nie en hy is versoek om nie weer E se werkplek te besoek nie, aangesien sy kantoor op ʼn ander perseel is.

By minstens twee gevalle het Jack egter nie hieraan voldoen nie en daar is weer eens geen stappe gedoen teen hom nie. Sowat ses maande ná die voorval is Jack tydens ʼn dissiplinêre verhoor daaraan skuldig bevind dat hy homself op ʼn ondergeskikte afgedwing het en hy is vir twee weke sonder betaling geskors.

Volgens Webber Wentzel het E verkies om ʼn siviele eis vir skadevergoeding in die hooggeregshof in te stel aangesien sy die regmatigheid van haar voormalige werkgewer se gedrag in die hantering van haar seksuele aanranding betwis het, en nie die regverdigheid daarvan nie.

Die hooggeregshof het bevind dat die tugverhoor onvoldoende was aangesien die werkgewer, ʼn staatsorgaan, verplig was om die bevindings van die interne tugverhoor te betwis, maar dit nie gedoen het nie. Die werkgewer kon ook nie ʼn veilige werksomgewing aan E bied nie, wat katastrofiese gevolge vir haar emosionele en sielkundige welstand gehad het. Dit het haar voortgesette diens ondraaglik gemaak en sy het later bedank.

E het skadevergoeding van meer as R8 miljoen geëis. Jack het nie die eis teengestaan nie, maar die munisipaliteit het wel aangevoer dat hy nie aanspreeklik gehou kan word nie aangesien hy alles in sy vermoë gedoen het om die werknemer te beskerm.

Die hof het in 2016 in E se guns beslis en bevind dat die werkgewer en Jack gesamentlik en afsonderlik aanspreeklik is. Die hof het vroeër vandeesmaand uiteindelik beslis dat E skadevergoeding van R3,9 miljoen moet ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jr ·

Ha ha weereens is die onskuldige taxpayer by die huis ook skuldig van seksuele aanranding want sy geld word nou gebruik om die vent se mannewalus te betaal. Die govt, munsipaliteit het nie n dooie sent nie dis ons geld MY JY MOET VIR DIT BETAAL. Dis hoekom die govt werkers worry nie oor hierdie goed. Iemand anders sal HOES

Sarel ·

Probleem is eis moes persoonlik gewees het en niecteen die Minisioaliteit nue. Nou betaal Belastingbetalers en ue skuldiges nie. So word mensd nou ryk op die rug vsn die Belastingbetaler

Elizabeth ·

Bly dat E voortgaan het net haar siviele saak. Mag daar ‘werkgewers en werknemers’ (boewe) kennis neem dat ons nie almal sal stilbly nie

Adri ·

Klink na ‘n billike hofbeslissing vir ‘n slag – al is dit jare te laat. Ongelukkig gaan die skuldige waarskynlik nie geskors word nie en dalk ook nie hoef te betaal nie omdat hy nie oor die fondse beskik nie. Uiteindelik betaal die belastingbetalers …

Elsabe ·

‘ondergeskikte’… bog man, wie is die slang in hierdie verhaal?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.