Musk looi Duitsers oor reddingspogings wat migrante in Italië aflaai

Elon Musk. (Foto: Patrick Pleul
/AFP)

Miljardêr Elon Musk het dit Saterdag op Duitse politieke gebied gewaag te midde van hewige debatte in Europa oor immigrasie. Musk voer aan migrante-reddingsoperasies in die Middellandse See kan as ʼn “inval” van Italië beskou word.

Musk, gebore in Suid-Afrika, nou met Kanadese burgerskap en woonagtig in die VSA, het ʼn plasing gedeel waarin gevra word vir ʼn oorwinning vir die verregse AfD-party ʼn week voor streeksverkiesings in twee groot Duitse state.

Berlin is gewikkel in ʼn twis met Italië oor nieregeringsorganisasies se seereddingsoperasies, met Italiaanse eerste minister Giorgia Meloni wat Vrydag geëis het dat welwillendheidskepe die migrante in hul eie lande gaan aflaai.

Musk het ʼn plasing deur X-gebruiker (voorheen Twitter) “Radio Genoa” gedeel wat die bedrywighede van Duitse nieregeringsorganisasies in die Middellandse gebied gelooi het en die hoop uitgespreek het dat “AfD die verkiesing wen om hierdie Europese selfmoord te stuit”.

Op ʼn vraag van Musk – oor “of die Duitse publiek bewus is hiervan” – het die Duitse departement van buitelandse sake kortaf geantwoord: “Ja. En jy noem dit die red van lewens.”

Die minister van buitelandse sake se antwoord het tot verdere fel kritiek van Musk gelei en in ʼn plasing vroeg Saterdagoggend het hy geskryf: “Om eerlik te wees, ek twyfel of die meerderheid Duitsers dit ondersteun.”

“Het julle ʼn peiling gedoen? Sekerlik moet dit ʼn skending van Italië se soewereiniteit wees as Duitsland groot getalle onwettige immigrante op sy grondgebied kom aflaai. Lyk soos ʼn inval,” het Musk geskryf.

Meloni het onlangs ʼn brief aan die Duitse kanselier, Olaf Scholz, geskryf oor haar “stomme verbasing” dat Duitsland welsynsgroepe finansier wat onwettige migrante in haar land help.

Gevra oor die brief, het Berlyn bevestig dat hy tussen €400 000 en €800 000 (tussen R8 miljoen en R16 miljoen) aan twee migranteprojekte gee. Die geld is vir steun in Italië aan diegene wat ter see gered word, het die Duitse regering gesê.

Duitsland se minister van buitelandse sake Annalena Baerbock, het die afgelope week Berlyn se steun aan reddingsoperasies verdedig. “Vrywillige seereddingswerkers het die taak om lewens in die Middellandsee gebied te red,” het sy gesê.

Meer as 130 000 migrante het net vanjaar in Italië aangekom, byna dubbel die getal van ʼn jaar gelede.

In Duitsland het immigrantegetalle ook skerp toegeneem. Berlyn het in reaksie daarop Woensdag aangekondig dat hy die polisiëring van sy grense met Pole en die Tsjeggiese Republiek gaan verskerp in ʼn poging om smokkelaars van mense te stuit.

Streeksverkiesings word binnekort in Bavaria en Hesse gedoen en immigrasie is ʼn sleutelonderwerp. Inwoners van Bavaria bestempel dit as die belangrikste onderwerp in ʼn peiling wat onlangs gedoen is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Republikein in die Wes Kaap ·

Duitsland het kop verloor. Eintlik ‘n las vir Europa.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.