Myeni sink ooreenkoms wat SAL kon red

(Foto: Suid-Afrikaanse Lugdiens)

Die voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens, Dudu Myeni, het glo ter elfde ure ʼn ooreenkoms tussen die lugredery en Emirates in 2015 gesink. Dié ooreenkoms sou die sukkelende lugredery glo miljoene in die sak gebring het, het die Noord Gautengse hooggeregshof Maandag gehoor.

Nico Bezuidenhout, SAL se voormalige uitvoerende hoof, het vir die hof gesê Myeni het die ooreenkoms in die wiele gery, enkele ure voor ʼn amptelike ondertekening in Parys. Bezuidenhout het getuig as deel van ʼn hofaansoek deur die Organisasie Teen Belastingmisbruik (Outa) en die Suid-Afrikaanse Vlieëniersvereniging (Saapa) om Myeni as ʼn misdadige direkteur te laat verklaar.

Hofstukke het verlede week aangedui dat Emirates SAL in 2015 genader het met ʼn voorstel vir ʼn “verbeterde kommersiële verhouding”. Die voordele van dié ooreenkoms het ingesluit ʼn definitiewe jaarlikse wins van $100 miljoen (ongeveer R1,4 miljard). Dit sou SAL in staat stel om ʼn winsgewende daaglikse diens tussen Johannesburg en Dubai te lewer.

Argieffoto

Myeni wou egter niks van dié ooreenkoms weet nie, het Bezuidenhout Maandag getuig. “Ek het herhaaldelik e-posse aan haar gestuur met die insette van kenners in die lugvaartbedryf. Meeste van haar raadslede was ook ten gunste van die ooreenkoms.”

ʼn Dag voordat die ondertekening tydens die Parys-lugskou sou plaasvind, het Myeni nog steeds nie toestemming gegee dat die ooreenkoms kan voortgaan nie. “Emirates het toe besluit om die saak direk met pres. Jacob Zuma op te neem. Myeni het my 02:00 die volgende oggend wakker gebel en uitgeskel omdat ek die land en die presidente in die verleentheid gebring het (omdat Emirates die president direk gekontak het),” het Bezuidenhout gesê. “Sy het later vir my gesê om nie die ooreenkoms te teken nie en dat die president nie wou hê ek moes die ooreenkoms teken nie.” Nog later het Myeni hom glo via ʼn WhatsApp-boodskap aangesê om nie die ooreenkoms te onderteken nie. Hy het die boodskap onder die ander beamptes wat saam met hom in Parys was vir die ondertekening, gesirkuleer. “Sommige was reeds in uniform vir die ondertekening van die ooreenkoms.”

Bezuidenhout getuig Dinsdag verder.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JANINE ·

Liewe Dudu is seker ietsie belowe as sy ‘n stokkie voor die transaksie steek …

Morne ·

Dit is swak van Dudu daar is dalk mense wat hulle werk kan verloor deur iemand wat nie n idee het van besigheids bestuur het nie. Ons moet net elke jaar maar betaal. Sluit haar toe en gooi sleutel weg.

Hekwag ·

Dieselfde met Denel Aerostructures; ook mense “wat nie n idee het van besigheids bestuur het nie”

quartus ·

Was dit nie agv zumpie en sy gupta maaitjies wat die roete wou kanaliseer na die guptas toe nie?,,kan nie mee tred hou met al die korrupsie en baaintjies vir boeties nie…so gooi n klip in die bos hier nou

Scalla ·

Wonder saam met wie almal wat gunsies uit die transaksie gekry het die auntie ge dudu.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.