ʼn Kat, ʼn draadloos en sy Bybel: Alleen in sy bakkie bid hy vir werk

Johan Erasmus en sy katjie, Babatjie (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Johan Erasmus (51) sit aan die bestuurderskant van sy Datsun-bakkie terwyl musiek op die klein swart draadloos in die agtergrond blêr. Die bakkie se deur is oop en Erasmus vryf oor sy dun vingers.

“Die winterlug van die Oos-Vrystaat sny weer vandag,” sê hy.

In die waskom langs hom op die passasiersitplek lê ʼn klein swart-en-wit katjie. Hy is snoesig toegedraai in ʼn kombers en bak sorgeloos in die son.

Agterop die bakkie is ʼn klein matras gegooi met komberse waaronder Erasmus saans slaap.

Hy woon nou al amper twee maande lank in sy bakkie net buite Bethlehem saam met sy optelkat wat nou sy enigste “maatjie” is.

(Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Erasmus is in Oktober verlede jaar by ʼn ingenieursonderneming op Dundee in KwaZulu-Natal, waar hy as passer-en-draaier gewerk het, afgelê. Die onderneming het tydens die Covid-19-pandemie begin swaarkry en moes sy deure sluit.

“Die eienaar het die werkers een vir een laat gaan. Ek was die laaste ou wat oorgebly het en ek is in Oktober retrench.”

Nou wag hy vir sy uitbetaling van die Werkloosheidversekeringsfonds (WVF) wat verlede maand reeds gedoen moes word. Hy het aansoek gedoen vir dié vergoeding, maar sê daar is elke keer ʼn probleem wat opduik wanneer hy die geld wil onttrek.

“Ek gaan nêrens totdat ek my geld kry nie.”

Pak op en ry

(Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Erasmus het op die werksterrein in Dundee gewoon en daar aangebly selfs nadat hy afgelê is. Hy het daarna ook onbetaald werkies gedoen. Hy moes egter sy goed pak en ʼn ander heenkome vind toe die onderneming einde Maart verkoop is.

Ná daardie dag het hy nie meer ʼn sent op sy naam nie, sê hy.

“Ek het my matras, komberse, waskom waarin ek klere was, draadloos en my gereedskap in my bakkie gelaai en die pad gevat. Ek moes my groot goed soos my ketel, stoof en mikrogolfoond daar los.

(Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

“Ek was ook baie hartseer oor my 20 katte wat ek daar moes los, want ek het geweet ek sal nie vir hulle kan sorg nie.”

Hy het intussen ook probeer om van sy waardevolle gereedskap vir ʼn paar rand te verpand.

Erasmus het net begin ry en sê hy het nie geweet waarheen om te gaan nie. Sy enigste familielid is sy ma wat in ʼn ouetehuis in Pretoria woon.

“Ek het in Bethlehem beland en is nou al amper twee maande hier.”

Hy het op die pad die kat, wat hy Babatjie gedoop het, gered.

(Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

(Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

“Die outjie het by die dood omgedraai. Hy het amper verkluim van die koue. Ek dink hy het wel effense breinskade opgedoen.”

Erasmus het in hierdie tyd probeer werk soek, maar helaas nog nie reggekom nie.

Sommige inwoners van die gebied het hulle wel oor Erasmus begin ontferm. Mense hou daagliks by hom stil om kos vir hom en Babatjie af te laai. Een vrou het selfs vir hom ʼn mussie gebring as pantser teen die Vrystaatse koue.

“Ek kry nie elke dag kos nie, maar gaan darem nie dood van die honger nie. Ek maak net seker die katjie kry eerste kos, want hoe verduidelik ek vir haar dat daar nie kos is nie?”

ʼn Man het ook aangebied om ʼn maand se huurgeld namens Erasmus te betaal om in ʼn huis in die Christenburg-gemeenskap buite Bethlehem nes te skop.

“Dan het ek darem ʼn dak oor my kop.”

ʼn Ander vrou het ook aangedui dat haar broer op Frankfort moontlik vir hom ʼn werksgeleentheid en blyplek kan gee sodra sy probleme met die WVF uitgestryk is.

Praat met die ‘Man daarbo’

(Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Erasmus vertel hy was teleurgesteld in die kerke op die dorp, wat hom glo nie wou help toe hy daar om hulp aangeklop het nie.

“Daar was een kerk wat my aan die begin bietjie gehelp het; die res wou niks weet nie.”

Bedags luister Erasmus radio of lees sy Bybel. En as hy ʼn geldjie kry om lugtyd te koop, bel hy gewoonlik sy ma.

“Ek probeer elke dag met haar praat, al is dit net vir ʼn paar minute tot die lugtyd opraak.”

Soms oorval die mismoedigheid hom, maar dan praat hy met “die Man daarbo”.

“Ek voel baie keer negatief oor wat met my gebeur het, maar ek is nie die soort wat my eie lewe sal neem nie. Ek lees my Bybel en glo die Here sal die regte deure vir my oopmaak. Ek kan net hoop. Ek het ook nog die katjie om voor te sorg, so ek kan nie nou tou opgooi nie.”

Erasmus wou nie in die dorp met sy bakkie stilhou nie omdat dit volgens hom nie veilig is nie.

“Dit is nie eens voor die polisiestasie veilig nie, anders sou ek daar gaan staan het.

“Ek wil ook nie tussen die ander op straat gaan sit en drink nie. Dan bid ek eerder hier eenkant op my eie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Melissa ·

Ai baie mense sit vandag sonder werk. Ek hoop maar mnr Erasmus kry vinnig weer n werk. Ek is ook April 2023 retrench en sukkel om op my ouderdom van 53 weer n werk te kry.

Danie ·

Erasmus vertel hy was teleurgesteld in die kerke op die dorp, wat hom glo nie wou help toe hy daar om hulp aangeklop het nie.

Baie kerke op die platteland is reeds sonder predikant omdat hulle nie meer een kan bekostig nie. Daarby saam kan hulle maandeliks dalk ook net-net hulle uitgawes dek. Ek vermoed dat die mense wat wel kos vir hom bring juis mense uit daardie gemeentes is. En dit is trek dalk ook al daarby, wanneer hulle vir hom kos bring hulle self ‘n ete oorslaan.

Dat hy sukkel om as ambagsman, waarvan daar selfs in ons land ‘n tekort is, werk te kry is heel moontlik as gevolg van SEB.

Almal was so uiters trots op die inperk, wat blykbaar na 2 weke al die probleme sou oplos. Dit veroorsaak nou na die tyd baie meer dood as wat die kat op ‘n warm plaat redenasie ooit kon.

JvR ·

Seker twintig jaar gelede toe sit ek skielik sonder werk. Ek vra ons predikant van destyds of ek die pastorie, wat leeg staan, want hy bly in luukse meenthuis, kan huur want ek begin met eie onderneming. Meeste van die kamers was net lee stoorplek. DIe antwoord. Onomwonde nee. Al kon die kerk ekstra inkomste kry. Nodeloos om te se, ek het kerk met spoed van wit lig verlaat

Hendrik ·

Aaai, dis so hartseer. Maak ‘n mens net van voor af besef hoe gelukkig ons is om nog ‘n werk en huis te kan he.

JvR ·

Jy het al die gereedskap om n klein onderneming te begin. Moet nie wag vir guns van samaritane nie. Koop groot, verkoop klein. Al begin jy met n kassie tamaties

Yvonne ·

En die wat werk het is nie tevrede met net n salaris nie en soek nog meer en meer…..
Here hoor asb die versugtinge van elke hart…Amen

Nicola ·

Johan ek wil net vandag vir jou sê dat ek vir jou bid en soveel ander wat in die situasie sit van niks hê nie. Ek self is ook sonder werk en dis absoluut hel om deur die dae te gaan en te sien alles waai net weg. God sal jou vas hou en God sal vir jou sorg. Dis Sy belofte aan ons. Moed hou Johan, God is in beheer.

Sharmane ·

Dit is so sad, so baie mense wat baie meer het kla elke dag. Dan lees jy so iets en maak n mens bitter hartseer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.