‘n Lewendige geskiedenis: Volg die Rebellie van 1914-15 op Facebook

‘n Kommando rebelle van 1914 nuttig ontbyt te velde. Foto: fak.org.za

‘n Kommando rebelle van 1914 nuttig ontbyt te velde. Foto: fak.org.za

Maroela Media het onlangs met ʼn sosialemedia-veldtog begin waar die dag tot dag-gebeurtenisse van Die Rebelle van 1914 en die Unieregering van die dag weergegee word. Jackie Grobler verduidelik in dié stuk wat destyds gebeur het en gee ʼn voorsmakie van wat lesers kan verwag. Klik hier om Die Rebelle op Facebook te volg en klik hier om Die Unieregering op Facebook te volg.

Teen die middel van 1914 was dit vir politieke waarnemers in Suid-Afrika duidelik dat daar ’n beduidende getal Afrikaners was wat nie tevrede was met die gang van Suid-Afrikaanse politiek na Unifikasie in 1910 nie. In die eerste plek was daar nie voldoen aan die verwagtinge wat talle Afrikaners gehad het dat dit met hulle sou beter gaan in die nuwe bedeling met hulle eie, eertydse kommandant-generaal, Louis Botha, as regeringshoof nie. Inteendeel, ekonomies het dit bitter swaar gegaan, en polities het die Britse vlag steeds oor hulle gewapper en moes hulle steeds by openbare geleenthede die Britse Volkslied sing. Hulle het, soos dit direk na die oorgawe in 1902 die geval was, soos verslane vreemdelinge in hulle eie land gevoel.

Dit was veral ’n prominente groep Bittereinders van die Anglo-Boereoorlog wat vir Botha en sy vertroueling, Jan Smuts, daarvan beskuldig het dat hulle toenadering tot Brittanje onvanpas was omdat die Britte tradisioneel die aartsvyand van die Afrikanergemeenskap was. Sommige van die aanhangers van hierdie anti-Britse sentiment het gevoel hulle enigste redding sal wees om die Boererepublieke her op te rig. Die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in Augustus 1914 is deur die ontevredenes, wat in die geskiedenis as “Die Rebelle” bekendstaan, as ’n ideale geleentheid beskou om so iets te vermag. Brittanje sou, volgens hulle, so betrokke by die stryd teen Duitsland en sy bondgenote wees dat die Britte niks sou kon doen om die Afrikaners in Suid-Afrika van hulle selfbeskikkingsreg te weerhou nie.

Botha en De la Rey op 12 September 1914

Botha en De la Rey op 12 September 1914

Nie alle Afrikaners het so gevoel nie. Die regering van generaal Botha het die posisie van die Unie van Suid-Afrika as deel van die Britse Ryk aanvaar. Wat Botha betref het Suid-Afrika eintlik geen keuse gehad nie. As deel van die Britse Ryk was dit die Unie se plig om Brittanje by te staan. Hy het dan ook in antwoord op ’n navraag uit Londen belowe dat Suid-Afrika self sy verdediging in die oorlog sou behartig en boonop ingestem om Duits-Suidwes-Afrika (tans Namibië) namens die Britse Ryk in te val. Die Suid-Afrikaanse parlement het tydens ’n spesiale sitting op 12 September 1914 in Kaapstad met ’n groot meerderheid stemme Botha se standpunt ondersteun met ’n formele besluit om Brittanje in die oorlog teen Duitsland by te staan.

Een van die mees vooraanstaande Afrikanerleiers wat in die parlement Botha se oorlogsplanne bevraagteken het, was die legendariese generaal Koos de la Rey. Hy het gewetensbesware teen die beplande aanval op Duits-Suidwes-Afrika gehad. Onmiddellik na afloop van die parlementsitting het hy per trein van die Kaap na Pretoria teruggekeer. Sy plan was om prominente eertydse Boeregeneraals soos Christiaan Beyers, Jan Kemp en Manie Maritz, wat nou al drie senior offisiere in die Unieverdedigingsmag was, oor moontlike Afrikanerprotes teen Botha se planne te pols.

Beyers, wat op 15 September as kommandant-generaal van die Unieverdedigingsmag bedank het, het De la Rey later op dieselfde dag in Pretoria ingewag. Vroegaand het hulle per motor na Potchefstroom vertrek. Hulle roete het hulle deur Johannesburg gevoer. Wat hulle nie geweet het nie, was dat die polisie dieselfde middag ’n padblokkade in Langlaagte in Johannesburg opgerig het in ’n poging om die berugte Fosterbende, wat destyds op die Witwatersrand aktief was, te probeer vastrek.

Toe De la Rey-hulle by die blokkade kom, het hy moontlik gedink dat die polisie hom wou stuit. Gevolglik het hy die motorbestuurder beveel om deur te ry. Een polisieman het een skoot afgetrek wat die pad getref het. Die opslagkoeël het vir Da le Rey in die rug getref en hy het nog dieselfde aand gesterf.

Die nuus van De la Rey se dood het skokgolwe deur Afrikanergeledere gestuur. Daar is gefluister dat hy opsetlik vermoor is, wat ongetwyfeld nie die geval was nie. Sy oorskot is na sy tuisdorp Lichtenburg vervoer, waar hy onder blyke van groot meelewing begrawe is. Louis Botha en Jan Smuts, hegte vriende van die De la Rey-gesin, was ook teenwoordig. Talle begrafnisgangers het hulle kil ontvang. Die eertydse legendariese Boeregeneraal Christiaan de Wet het in sy huldeblyk die hoogste lof aan sy ontslape wapenbroer opgedra. “Hy was die dapperste van die dapperes, die getrouste van die getroues.”

Koos de la Rey

Koos de la Rey

Die Rebellie het kort ná De la Rey se begrafnis gevolg. Die rebelle kon nie insien waarom Suid-Afrika vir die Britte (hulle aartsvyand twaalf jaar tevore) teen die Duitsers, wat na hulle mening die Boere goedgesind was, moes veg nie. Hulle was boonop onthuts omdat Botha en Smuts die aktiewe burgermag opgekommandeer het vir die onuitgelokte inval van Duitswes. De Wet, Beyers, Kemp en Maritz het die leiding geneem. Aanvanklik het De Wet en Kemp bloot gedink aan iets soos “gewapende protes” met perdekommando’s op prominente plekke. Spoedig het dinge egter handuit geruk en het die owerheid begin optree om die Rebellie te onderdruk. Dit was Maritz, wat in bevel was van die Unieverdedigingsmag se militêre kamp op Upington, se besluit op 9 Oktober om na die Duitsers oor te loop wat geweld onafwendbaar gemaak het.

Die rebelleleiers het veral in die Noord-Vrystaat en in Wes-Transvaal, die hartland van De Wet en De la Rey, groot steun verkry. Na raming het sowat 7 000 Vrystaters en 3 000 Transvalers by hulle aangesluit. Die regering het in opdrag van Botha net Afrikaanssprekende soldate opgekommandeer om die Rebellie te onderdruk. Die rebelle se grootste tekortkoming was dat hulle nog, soos tydens die Anglo-Boereoorlog, bloot met gewere bewapen in perdekommando’s kon veg, terwyl die Unieverdedigingsmag militêre voertuie en masjiengewere tot sy beskikking gehad het. Boonop was die rebelleleiers verdeeld oor presies wat hulle wou doen en het misverstande hulle optrede gekenmerk.

Die Rebellie was uiteindelik ’n totale mislukking. Na enkele gevegte was al die rebelleleiers aan’t vlug. Beyers het in die proses in die Vaalrivier verdrink. De Wet is na ’n geveg waarin een van sy een seuns gesneuwel het, weswaarts die dorsland in, maar is naby Kuruman gevang. Kemp en sy volgelinge het op 2 Februarie 1915, na ’n epiese tog te perd deur die Kalahari-woestyn, oorgegee. Maritz het ontsnap deur na Duits-Suidwes-Afrika te vlug.

Die mees omstrede insident tydens die Rebellie was ongetwyfeld die teregstelling van Jopie Fourie op Sondagoggend 20 Desember 1914. Fourie was ’n offisier in die Unie-Burgermag, maar het by die Rebellie aangesluit sonder om sy pos of sy rang neer te lê. As kommandant van ’n Rebellekommando het hy aan ’n hele aantal gevegte teen die regeringsmagte deelgeneem waartydens heelparty manne aan weerskante gesneuwel het, totdat hy op 16 Desember gevange geneem is. Hy is van verraad aangekla en sy verhoor voor ’n spesiale krygshof het een dag lank geduur. Hy is skuldig bevind en het vroeg die volgende oggend voor ’n vuurpeleton gesterf. Fourie het onmiddellik ’n martelaar van die Afrikanervolk geword.

Christiaan de Wet

Christiaan de Wet

’n Volgende omstrede uitvloeisel van die Rebellie was dat die legendariese generaal Christiaan de Wet die vernedering van gevangenisstraf vir sy leidende rol in die “gewapende protes” moes uitdien. Hy is na sy gevangeneming na Johannesburg geneem waar hy in die Fort (vandag Constitution Hill) opgesluit is. In Junie 1915 is hy in die Hooggeregshof in Bloemfontein aan hoogverraad skuldig bevind, tot ses jaar gevangenisstraf veroordeel en ’n boete van £2 000 opgelê. De Wet het onskuldig gepleit op die klag, maar bygevoeg dat hy wel skuldig aan oproer was. Na vonnisoplegging het hy sy verbasing uitgespreek dat sy straf so lig was. Ook ander Rebelleleiers het hierdie lot te beurt geval. Hulle ondersteuners was in sak en as.

Die Rebelleleiers se skuldigbevinding en vonnis het direk uitgeloop op een van die merkwaardigste gebeure in die politieke geskiedenis van die Afrikanergemeenskap, naamlik die Vroueoptog van 1915. Tussen 3 000 en 6 000 vroue het naamlik op 4 Augustus ’n betoging in die vorm van ’n optog na die pas voltooide Uniegebou in Pretoria gehou waar hulle aan die goewerneur-generaal, S.C. Buxton, ’n versoekskrif oorhandig het. Die versoeke was om De Wet vry te laat, om aan al die Afrikaners wat vir hulle deelname aan die Rebellie gevonnis is, amnestie te verleen en om diegene wat na die betoging nog verhoor sou word, vry te skeld. Die vroue het daarop aanspraak gemaak dat hulle meer as 65 000 vroue landswyd verteenwoordig het. Buxton het die versoekskrif in ontvangs geneem, maar kon uit die aard van die saak niks belowe nie.

Wat die 61-jarige generaal De Wet se lot betref: Sy boete is binne enkele maande deur ’n spontane fondsinsameling vereffen. Na verskeie pleidooie om begenadiging, asook die gemelde vroueoptog, het die Botha-regering in Desember 1915 tot die grootmoedige daad oorgegaan om hom onder sekere voorwaardes vry te laat. Ook die ander rebelleleiers is spoedig vrygelaat. Wat betref die boetes wat aan talle rebelle opgelê is, en eise om skadevergoeding wat teen hulle ingedien is: dit is betaal deur die Helpmekaarbeweging wat landswyd op spontane wyse geld vir hierdie doel ingesamel het.

Intussen het daar ná die Rebellie van 1914/1915 dekades van agterdog en verdeeldheid onder Afrikaners gevolg. Mites rondom die Rebellie, wat van jaar tot jaar en van geslag tot geslag spontaan gegroei maar ook doelbewus onder Afrikaners versprei is, het ’n belangrike draer van Afrikanernasionalisme geword.

Eerste Minister Louis Botha se steun aan Brittanje in die Eerste Wêreldoorlog het hom heelwat steun uit Afrikanergeledere gekos. Dit het veral duidelik geblyk uit die uitslag van die algemene verkiesing van parlementslede in Oktober 1915. Botha se Suid-Afrikaanse Party het 94 000 stemme getrek en generaal Barry Hertzog se Nasionale Party 78 000. Daar was steeds tienduisende Afrikaners wat Botha gesteun en met sy politieke rigting saamgestem het, maar dit was duidelik dat talle Afrikaners ten gunste van ’n toekoms vry van Britse bande was.

Dr. Jackie Grobler, verbonde aan die departement historiese en erfenisstudies aan die Universiteit van Pretoria, verskaf daaglikse inligting waarmee die Facebook-bladsye opgedateer word. Dr. Grobler maak van verskeie historiese bronne gebruik om seker te maak die inligting is feitelik akkuraat.

Klik hier om Die Rebelle op Facebook te volg.
Klik hier om Die Unieregering op Facebook te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

trienie.oosthuysen ·

My oupa, Pieter Barend Swart, het aan die rebellie deelgeneem. Hy was van Lichtenburg (Kaalpan) wat ‘n jammerte dat daar nie die tegnologie van vandag beskikbaar was sodat ‘n mens foto’s kon sien nie.

Gert Coetzee ·

My Oupa was ook deel van 1914 se dinge maar ek weet bitter min daarvan.
Het foto van hom en Gnl. Van Deventer met manne op kamele in n woestyn area.
Self is hulle op perde.Indien iemand dit sou kon gebruik of vir my meer inligting daaroor sou kon gee is ek bereid om te help met wat ek het.

Grassie ·

Sommige van die feite in die berig is so ‘n bietjie verdoesel. Dit gaan egter nie nou help om daaroor te stry nie, Hou net in gedagte dat die wenner altyd die geskiedenisboeke skryf. My oupa was in daardie opstand gewond.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.