ʼn Nat vakansiedag voorspel

Argieffoto (Foto: Megan Swart, Maroela Media)

Suid-Afrikaners wat beplan om Vrydag Geloftedagverrigtinge by te woon, moet hul reënjasse en sambrele saamneem.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) voorspel swaar reën vir die hele land vir die vakansiedag, met waarskuwings vir swaar reën- en donderbuie wat uitgereik is.

Die weerdiens het ʼn waarskuwing vir swaar reën- en donderbuie, hael en sterk winde uitgereik vir Vrydag in Gauteng, die suidelike dele van Limpopo, die Hoëveld van Mpumalanga, die KwaZulu-Natalse Middelland en platorandgebiede, die Wes-Kaapse, Oos-Kaapse en Noord-Kaapse binneland, en die uiterste westelike dele van Noordwes.

“Die moontlikheid vir kitsoorstromings kan weens die swaar reën ontstaan en mense word dus ernstig versoek om ekstra waaksaam te wees,” sê Kgoloselo Mahlangu, ʼn weervoorspeller verbonde aan die weerdiens.

Volgens Mahlangu is daar ʼn 80%-kans vir reën oor dele van Gauteng, die Hoëveld van Mpumalanga en die uiterste suidelike dele van Limpopo.

ʼn 60%-kans vir reën word vir die oostelike dele van die Vrystaat, Noordwes, die hele Gauteng, Limpopo (buiten die Laeveld), die KwaZulu-Natalse Middelland en platorandgebiede, Mpumalanga asook die Wes-Kaapse en Oos-Kaapse binneland voorspel.

Daar is ook ʼn 30%-kans vir reën vir groot dele van die Noord-Kaap.

Volgens Mahlangu word dieselfde weerstoestande vir Saterdag voorspel en teen Sondag sal die reën aan die westelike dele van die land begin opklaar. Die noordoostelike dele van die land kan dan nog reën verwag.

Reënweer woed al vir amper twee weke in die sentrale en oostelike dele van die land met oorstromings en kitsoorstromings wat op plekke, veral in Gauteng, aangemeld is.

Die weerdiens het ook ʼn waarskuwing uitgereik teen sterk winde van 70 km/h en 80 km/h en rowwe seetoestande aan die kus tussen Saldanhabaai en Kaap Agulhas, asook sterk winde oor die Mopani- en Vhembe-distrik in Limpopo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

miche ·

As die Voortrekkers deur reën, modder en hael kon voortbeur met Ossewaens oor die Drakensberge behoort ‘n paar druppels, ‘n wolkbreuk of iets dergliks ons nie te keer om Geloftefees/ diens by te woon nie.

miche ·

Daar is darem baie pret en vermaaklikheid ook by dié feeste Johan, dalk moet jy dit eendag probeer.

Johan Tredoux ·

As dit nie vir die Godsdienstige aspek was nie, sou ek dalk.

Nettie ·

So die “godsdiensaspek” pla jou, maar jy verwerdig jou toe om ‘n groep mense se Heilige Dag te kritiseer dat hulle nie “so ernstig moet wees daaroor nie”, wetend dis vir hulle godsdiens Heilig? Sê jy aan die Moslems ook om hul Rahamadaan nie so ernstig op te neem nie, Johan?

Gert ·

Die ongelowige sal altyd agter die gelowiges aan loop en spot omdat daar nie regtig n’ ander pad is om te loop nie. Hul is dalk finansieel ryk maar geestelik arm. Elkeen van hulle begeer diep binne dat daar darem miskien n’ teken of gebeurtenis, selfs n’ ontmoeting met God moet plaasvind sodat hulle kan deel in die geloof. Andersins loop hul net agterna en spot.

Gert ·

Mens kry gewoonlik ongelowiges waar gelowiges n’ gesprek deel en nie andersom nie. Dit is omdat die ongelowige se gees nogsteeds aan God behoord en weet iets is kort en soek na iets om die leemte te vul.

Paul ·

Jou kommentaar bewys hoe min jy die betekenis van Gelofte Dag verstaan. Dit gaan ALS oor die geestelike aspek. Daar was Goddelike ingryping daardie dag. Menslike gesproke het ons menseslagting en uitwissing in die gesig gestaar. Ons het ‘n Gelofte gemaak aan die Lewende God (wat ons na geslag ingesluit het) dat as God ons sou spaar en die oorwinning gee, ons dit jaarliks sou vier. Dit gaan nie oor swart en wit nie.

Kokkies ·

Wie van ons sal ooit weet of een van ons familie lede dalk op daai dag, 16 Desember 1838, gespaar was nie. Dalk sou ek nie hier kon getik het nie en nooit bestaan het nie, as die Here nie ingegryp het nie. Ek kan dalk vandag hier wees deur n persoon wat daai dag gespaar was. Johan, dit geld vir jou ook, maak nie saak hoe jy daaroor voel nie, jy is dalk ‘n nasaad van iemand wat oorleef het toe die Here die voortrekkers gespaar het. Dankie Here dat U die voortrekkers se gebede verhoor het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.