ʼn Tweede kans op lewe ná beenmurgoorplanting

Daniella van Zyl (Foto: Verskaf)

Twee jaar nadat Daniella van Zyl (28) ʼn beenmurgoorplanting gekry het, is sy in remissie en gryp sy die lewe met albei hande aan.

Toe leukemie op 3 Maart 2020 by dié jong vrou van Krugersdorp, Gauteng, gediagnoseer is en sy moes hoor dat sy net sowat ses tot agt maande het om te leef, het sy daar en dan besluit dat sy nie gereed is om dood te gaan nie.

Maroela Media het destyds berig Van Zyl het aan die begin van 2020 blou kolle op haar arms en bene begin opmerk. Sy het nie veel daarvan gedink nie, want sy erken dat sy soms lomp kan wees en haarself stamp sonder dat sy dit besef.

Dit was eers toe sy klein blou kolle op haar gesig en in haar mond opgemerk het dat sy besef daar is iets anders fout.

Nou glo sy vas dat sy ʼn tweede kans op die lewe gekry het.

“Ek was oortuig dit is nie die Here se plan dat ek my stryd teen kanker verloor nie,” vertel Van Zyl.

Van Zyl het ná haar diagnose gewag en gebid dat ʼn geskikte beenmurgskenker na vore kom. Talle mense is getoets, maar nie een was ʼn geskikte skenker nie. Sy het egter nie moed verloor nie.

Van Zyl se pa het hom laat toets en daar is bevestig dat sy stamselle gedeeltelike geskik is vir die oorplanting.

Daniella en haar ma in 2020 (Foto: Facebook)

Van Zyl het op 22 Desember die beenmurgoorplanting ondergaan – sonder enige komplikasies. Sy was vir ʼn week daarna erg siek – met simptome soos haarverlies, koors en diarree.

Sy was vir 14 dae in die hospitaal voordat sy ontslaan is en moes toe vir 100 dae in totale isolasie verkeer.

“Tydens die isolasietydperk was daar baie reëls wat ek moes volg. Ek mag net sekere kossorte geëet het en mag nie met plante, diere of kinders in aanraking gekom het nie, omdat dit die kans op infeksie sou vergroot. Slegs van my naaste mense – soos my ma, pa en ouma – was in my huis toegelaat.”

Van Zyl sê toe sy fisiek sterker begin word, het sy en haar ma smiddae gaan stap.

“Met wilskrag het ek myself fisiek en emosioneel sterk probeer hou. As dit nie vir die stap en my geloof was nie, sou ek in ʼn gat van depressie geval het.”

Van Zyl het ná haar isolasietydperk ʼn vierpotige kind, Romeo, ryker geword en dié is nou haar beste maatjie. Sy het sedertdien ook teruggekeer werk toe.

“Ek kan egter nie meer voldae werk soos ek altyd het nie, omdat ek gouer moeg word. Dit is die impak wat kanker op my het en ek moet aanpassings in my lewe maak. Ek vat elke dag uur vir uur.”

Sy beleef ook ander newe-effekte weens die kanker en voer tans ʼn stryd met die sogenaamde “graft versus host”-siekte. Dit is ʼn siektetoestand wat ná ʼn allogene oorplanting ontwikkel wanneer die skenker se selle die ontvanger se liggaam begin aanval.

Sy kry tans behandeling daarvoor en het nog tien van 16 behandelingsessies oor.

Van Zyl moet weekliks vir ʼn opvolgbesoek by die dokter gaan sodat hulle kan monitor of sy nog in remissie is.

Skarebefondsing help met mediese koste

Die mediese fonds het destyds nie die oorplantingskoste gedek nie. Die oorplanting sou ʼn geskatte R1,5 miljoen gekos het as niks skeefloop nie. Omdat Van Zyl se prosedure seepglad verloop het, het die oorplanting haar egter heelwat minder uit die sak gejaag.

ʼn Rekening is op die sakefinansieringplatform Back a Buddy oopgemaak om geld vir die oorplanting in te samel. Die teiken vir die insameling was R1,5 miljoen en al dié geld is uiteindelik ingesamel.

“Ná my oorplanting het daar ʼn geldjie oorgebly, wat ek vir my dokter oorbetaal het om ander pasiënte in nood se medikasie en behandelings te help dek,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.