Brent Henry en Juane Jacobs is Vrydag in die Wes-Kaapse hooggeregshof skuldig bevind aan moord op Carl Schoombie (27).
Lee Schoombie, Carl se broer, het gesê geregtigheid het geskied. “Die afgelope 15 maande het my oë vir soveel goed in die lewe oopgemaak. Dit het my nederig gemaak en ʼn ander uitkyk op die lewe gegee.” Lee het die publiek bedank vir hul ondersteuning aan hom en sy gesin. “Die volgende hoofstuk is die vonnisoplegging en ons is reg daarvoor.”
Schoombie het op 21 November 2015 saam met vriende by ʼn nagklub in Claremont in Kaapstad gekuier toe ʼn geveg uitgebreek het. Hy was nie daarby betrokke nie en het die klub in ʼn taxi verlaat.
Die taxi is in die rigting van Rondebosch deur ʼn ander voertuig, met twee mans daarin, van die pad af gedruk. Die twee het Schoombie en sy vriende daarvan beskuldig dat hulle die geveg begin het. Schoombie en sy vriende het herhaaldelik gesê hulle was nie betrokke nie, maar is nogtans erg aangerand.
Schoombie is met ernstige kopbeserings in ʼn hospitaal opgeneem waar hy ʼn paar dae later dood is.
Henry is kort ná die moord in hegtenis geneem, terwyl Jacobs in Februarie 2016 in Johannesburg in hegtenis geneem is. Henry is vroeër op borgtog van R1 000 vrygelaat. Jacobs het sy borgtogaansoek laat vaar.
Henry se borgtog is Vrydag teruggetrek en hy is in hegtenis geneem. Die saak is tot 18 April uitgestel vir vonnisverrigtinge.
Lees alle vorige berigte oor Carl Schoombie op Maroela Media.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
15 Kommentare
Moordenaars hoort in die tronk! Sluit hulle toe. Hulle het hierdie onskuldige man agtervolg en vermoor vir niks. Hoop die familie vind bietjie closure nou.
Lewenslank sonder parool. SA se howe moet strenger raak.
En so vernietig hulle maar net hulle eie toekoms ook …hoe dom ! !
Lewenslank, sonder parool asseblief!
Nogsteeds staan ons nie saam nie, maar vermoor mekaar… ai