Naka Drotské, die oud-Springbok-haker en Cheetah-afrigter, is glo weer in ʼn kritieke toestand in die waakeenheid van ʼn hospitaal opgeneem.
Drotské sou na verwagting dié week saam met sy familie ʼn rustige vakansie in Jeffreysbaai gaan hou het nadat hy verlede week ontslaan is, maar het blykbaar ʼn terugslag gehad voordat dié planne kon realiseer.
Steven Drotske, Naka se neef, het Woensdagmiddag op sy Facebook-blad gevra dat mense vir Naka bid. “Hy veg vir sy lewe in ʼn kritieke kondisie in ICU. Ek is seker ons Hemelse Vader het nog baie planne vir hom en sy toekoms, [sic]” het Steven geskryf.
Marzanne, Naka se vrou, kon nie Woensdagmiddag onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.
Maroela Media het vroeër berig Naka het op 29 November by sy broer, Tinus Drotské, op ʼn kleinhoewe in Kameeldrift-Oos in die noorde van Pretoria gekuier toe gewapende rowers op die huis toegeslaan het. Naka is in sy regterarm, regterbors en in sy maag geskiet.
Marzanne het Maandag aan Maroela Media gesê die koeël is uit Naka se bors verwyder en dokters het besluit om die koeël in sy buik te los. Sy het gesê sy bloeddruk en suikertelling is laag en hy het nog baie seer, maar dat dit onder omstandighede met hom goed gaan.
Hou Maroela Media dop vir meer.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
24 Kommentare
Here raak hom aan, U is ons Groot Geneser. Baie sterkte aan Naka en sy gesin
As n oud bloemfonteiner is ek n groot Naka fan…..VASBYT NAKA ou maat…..ek weet God is by jou en jou familie.
Here sal u hom behoed, bewaar en genees om Jesus naam Amen
Baie sterkte en ons glo die Here van wonders sal onderneem.
Nee! Naka ons dra jou op aan ons Hemelse Here ! So onnodig ! ☹️