Namibiese sprokiestroue vir voormalige Mej. Supranasionaal

Chanique en Kyle Honeyborne is in die Namib-woestyn getroud. (Foto: JCclick Wedding Photography)

Die Namibiese skoonheid en voormalige Mej. Supranasionaal, Chanique Rabé, staan voortaan as mevrou Honeyborne bekend nadat sy verlede maand in Namibië getroud is.

Chanique en die Suid-Afrikaner, Kyle Honeyborne, is op 23 September in die Namib-woestyn getroud. Hulle het mekaar sewe jaar gelede in Swakopmund, Namibië, ontmoet en is al vyf jaar ʼn paartjie.

Volgens The Namibian het die paartjie besluit om in Swakopmund voor die kansel te staan aangesien dit hulle “gunsteling-plek op aarde” is.

“Dit was vir my belangrik om dié spesiale dag in my geboorteland deur te bring. Aangesien soveel gaste nie van Namibië afkomstig is nie, het ek en Kyle besluit om ʼn naweek daarvan te maak sodat almal die geleentheid kon hê om werklik ons pragtige kus te ontdek en geniet,” het Chanique aan die Namibiese publikasie gesê.

Die tema van die troue was “safari chic” en die gaste het ook die geleentheid gehad om vierwielfietse en kamele te ry, vis te vang en bootvaarte te onderneem.

Kyle en Chanique. (Foto: JCclick Wedding Photography)

“Die seremonie was ʼn pragtige, eenvoudige uitleg omring deur niks behalwe die duine en die blou lug nie. Na afloop van die seremonie het ʼn vioolspeler die gaste na die volgende duin gelei, waar hulle verras is met ʼn pragtige onthaalsaal van glas en hout in die middel van die pure, goue Namibiese duine,” het Chanique vertel.

Anel Botha, ʼn Suid-Afrikaanse ontwerper, het haar rok gemaak. Sowat 110 gaste het die geleentheid bygewoon en is in die Bay View-hotel gehuisves.

Willem Botha, Suid-Afrikaanse sanger en fotograaf en ʼn vriend van die paartjie, was die seremoniemeester.

Chanique is in 2021 as Mej. Supranasionaal gekroon. Suid-Afrika se Lalela Mswane het haar in 2022 opgevolg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.