Nasionale betoging ‘onwaarskynlik’

Argieffoto bloot ter illustrasie.

Gerugte van ʼn nasionale betoging (#nationalshutdown) eerskomende Vrydag, hoofsaaklik oor verhoogde brandstofpryse, het Suid-Afrikaners die afgelope paar dae onrustig gelaat.

AfriForum het egter Woensdag aan Maroela Media gesê dat ʼn landwye ontwrigting in dié stadium “onwaarskynlik” is.

“Volgens die nuutste inligting is daar geen sentrale organisasie met ’n nasionale voetafdruk wat ʼn sogenaamde ‘shutdown’ dryf of organiseer nie. Daar is wel organisasies wat beweer dat hulle so ’n betoging sal ondersteun, indien dit plaasvind.

“As gevolg hiervan raak die waarskynlikheid vir landwye georkestreerde protesaksies al hoe kleiner, aangesien niemand leiding neem of verantwoordelikheid aanvaar nie,” het Guido Urlings, bestuurder van ondersteuningsdienste vir AfriForum se gemeenskapsveiligheidsafdeling, gesê.

Luidens inligting wat op sosiale media versprei word, word die landwye betogings deur die Suid-Afrikaanse Taxivereniging (Santaco) beplan, en sou die EFF ook deel vorm van die betogings.

Santaco kon nie Woensdag vir kommentaar bereik word nie, maar het in ʼn plasing op hul Facebookblad ontken dat hulle enigsins betrokke is by die organisasie van só ʼn optog, hoewel hulle van mening is dat die regering dringend moet ingryp by die stygende brandstofprys.

Urlings sê daar bestaan altyd  ʼn moontlikheid dat kleiner groepe mense wel in sekere gebiede betogings onder dié vaandel tot hul eie voordeel kan dryf.

“Hierdie betogings is baie moeilik om te voorspel en plaaslike veiligheidstrukture behoort meer akkurate inligting aan hulle gemeenskappe te kan voorsien in die verband.”

Hy sê verskeie rolspelers wat met die SAPD saamwerk, het aangedui dat hulle die gerugte ook moniteer en dat die nodige rolspelers se gebeurlikheidsplanne gereed is, sou daar wel betogings plaasvind. “Ons herhaal dat groot betogings selde op ’n Vrydag plaasvind. Dis te naby aan ’n naweek en die deelname is gewoonlik laer.”

Grandi Theunissen, VF Plus-raadslid en burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid in die Tshwane-metro, het gesê daar is in dié stadium baie min besonderhede oor die sogenaamde betoging beskikbaar.

Theunissen sê hy kan wel bevestig dat die metro in samewerking met die SAPD en ander instansies planne gereed het.

AfriForum het die volgende wenke gegee indien daar wel enige onrus Vrydag sou plaasvind:

  • Beplan ʼn alternatiewe roete saam met jou hoofroete indien jy Vrydag wil of moet reis. Hoewel die risiko vir ’n “national shutdown” aansienlik kleiner geraak het, is dit steeds moontlik dat daar plaaslik klein betogings kan plaasvind.
  • Indien jy Vrydag ry, sal dit goed wees om vooraf met die betrokke plaaslike owerhede en veiligheidstrukture te skakel om uit te vind of jou roete veilig is en of daar ’n alternatiewe roete beskikbaar is.
  • Skakel in by jou plaaslike (AfriForum-) buurtwag, plaaswag en/of GPF, sodat jy inligting oor jou omgewing by hulle kan kry.
  • Sorg dat jou gebeurlikheidsplanne op datum is.
  • Hou jou tweerigtingradio aangeskakel, indien jy een besit.
  • Moenie ongeverifieerde plasings rakende die “national shutdown” of plasings wat paniek veroorsaak, deel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Renier johannes ·

Tyd gaan kom wat hulle gaan val met n bang wag en sien

KatjieDeKat ·

My mening is dat elke liewe volwassene in hierdie land, ongeag van ras, Moet opstaan en Saamstaan teen die stygende brandstof en kos pryse. Die vraag is net, hoe kan dit gedoen word sonder ontwrigting en anargie? Wat kan ons doen? Ek wil nie geweld en brandstigting en diefstal (looting) he nie. Maar So kan dit ook nie aangaan nie. Wat kan hierdie nasie doen om die regering te laat verstaan ons Kan nie meer so finansieel verkrag word nie?

Laksman ·

“onwaarskynlik” ………net nie weer met die broek af betrap word soos in KZN wanneer sommiges besluit dis dalk weer tyd vir n “uitstappie” nie.

annie ·

Sulke groepe hoop op massa-aksie want so kan vervolging vrygespring word met die verrassingselement as ‘n gegewe; wolf-wolf totdat niemand meer reageer nie en dan slaan hulle toe op ‘n tyd en plek wat nie verwag word nie. Bloedvergieting word al meer moontlik omdat verset deur aggressie gevolg word om human rights-onderdrukking aan te voer. Dinge gaan viesliker raak soos die finansiële druk vererger.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.