Nasionale Filharmoniese Orkes stil-stil op die been gebring

Bongani Tembe, uitvoerende hoof van die orkes (Foto: Friends of the Johannesburg Philharmonic Orchestra/Facebook)

Die Demokratiese Alliansie verwerp die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, se jongste voorstel om ʼn nasionale filharmoniese orkes te stig teen R30 miljoen vir die eerste jaar.

“Dit lyk of die minister niks geleer het uit sy vlagpaal van R22 miljoen en debakel oor die Afrikaanse Taalmuseum en -monument nie,” sê Veronica van Dyk, die DA se skaduminister oor sport, kuns en kultuur.

Die DA glo die projek, wat onverwags aangekondig is, is onnodig en onbekostigbaar. “Ons stem ook saam die uitvoerende hoof van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes, Louis Heyneman, dat die projek onnodig sal wees, omdat daar reeds opleidingsprogramme is wat jong musikante help.”

Die DA het ook verskeie besware oor die vorming van die orkes en of die korrekte prosesse en prosedures gevolg is.

“Alhoewel die moontlike vestiging van só orkes ʼn enkele paragraaf was in die hersiene Witskrif oor Kuns, Kultuur en Erfenis wat die kabinet in 2018 goedgekeur het, was dit nie tot die afgelope paar weke dat daar weer sprake was om ʼn Nasionale Filharmoniese Orkes te vestig nie. Dit is nie eers in die departement se jaarlikse prestasieplan vir 2022/23 genoem nie,” voeg Van Dyk by.

“Wat uiters kommerwekkend is, is dat dit lyk of daar geen vaste planne is oor hoe die orkes bedryf sal word nie. Alhoewel die uitvoerende hoof van die orkes, Bongani Tembe, se verslag baie dubbelsinnig is, verstaan die DA dat daar geen behoorlike gesprekke was tussen Tembe, die kunsdirekteur van die Johannesburgse Filharmoniese Orkes en die KwaZulu-Natalse Filharmoniese Orkes, en enige van die hoofde van die ander Filharmoniese Orkeste nie.”

Die DA doen ʼn beroep op die parlementêre portefeuljekomitee oor sport, kuns en kultuur om minister Mthethwa en Tembe voor die parlement te roep sodat hulle die konsepdokumente, werksplan en implementeringsplan vir die orkes kan voorlê. “Indien die minister die regte prosedures gevolg het, sou dit reeds gedoen gewees het.”

Die DA het ook die memorandum van verstandhouding versoek tussen die Nasionale Kunsteraad en die departement, asook die memorandum van ooreenkoms tussen die departement en die Nasionale Filharmoniese Orkes oor die finansiering van die orkes. “Dit is ook nog nie aan die komitee voorgelê nie.”

Van Dyk benadruk die minister en Tembe moet ook ʼn gedetailleerde sake- en bedryfsplan voorlê, insluitend hoe die uitvoerende hoof beoog om 254 musikante in diens te neem; hoe die orkes met streeksorkeste sal saamwerk om die beloofde konserte te verseker; hoe die orkes die hoë gehalte uitvoerings sal verseker wanneer musikante slegs ʼn beperkte tyd sal hê om saam te oefen; en watter prosesse in plek gestel word om seker te maak dat ander orkeste nie ondermyn word nie.

“Dis uiters kommerwekkend dat die eerste konsert reeds oor twee weke in Johannesburg sal plaasvind wanneer die Nasionale Filharmoniese Orkes nog nie eers formeel aangekondig is nie, en twee internasionale datums ook reeds op die kalender is vir Indonesië en Algerië. Dit, en die Suid-Afrikaanse toer wat vir Desember 2022 beplan word, sal ʼn groot klomp geld kos.

“Dit is absoluut verstommend dat die minister kies om R30 miljoen te spandeer op ʼn orkes wat nog nie gestig is nie, terwyl streeksorkeste sukkel en nou eers weer op hul voete probeer kom ná twee jaar van Covid-19-afsonderings.”

Van Dyk meen minister Mthethwa het weer die bal laat val en bewys hy is “heeltemal buite voeling met die bedrywe wat hy veronderstel is om te dien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Annelie ·

Rerig. Nou weer n ander kanaal wat hul gebruik om korrupsie te laat seevier.

Gerhardus ·

Wanneer iemand soveel kere, en so kort op mekaar, “projekte” probeer aanpak van miljoene rande, dan laat dit my wonder of die persoon nie al klaar die miljoene rande laat “verdwyn” het nie en nou iets soek om aan te pak om die besteding van die miljoene rande te regverdig, of te probeer verduidelik, nie.

Bertie ·

Die kaders hou net aan om hulle vlak van onvermoë keer-op-keer ten toon te stel. En hulle kan of wil ook nie uit hulle foute leer nie.

annie ·

Duur instrumente pasella en groot salarisse vir die ontelbare gegriefde artists in ons midde? Ander rade sukkel om aan de lewe te bly. Die ANC moet eerder net die woord Sesame as landswapen-onderskrif gebruik by die trom wat dalk aanleiding gegee het tot die kitsorkes se vorming… Put their money where your mouth is… Boem, boem!

Swerwer ·

Asseblief hoeveel miljoene het hierdie Kommuniste om nog te mors.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.