Nat somer vir SA voorspel

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Mike Kotsch / Unsplash)

Die Suid-Afrikaanse weerdiens (SAWD) het Maandag in ʼn verklaring gesê dat bogemiddelde reënval tussen September en November vir die grootste dele van somerreënvalgebiede in die land voorspel word. Bogemiddelde reënval sal tussen November en Januarie ook in dié dele van die land voorkom wat nie gewoonlik in die somer reën kry nie.

Die oorvloed reën word hoofsaaklik toegeskryf aan die weerfenomeen La Niña, wat in Suid-Afrika vanjaar reeds vir baie reën gesorg het. Dié weerfenomeen, wat wêreldwyd ʼn invloed het op temperature en die afgelope jaar droogtes en oorstromings veroorsaak het, het gedurende die Suid-Afrikaanse winter voortgeduur en sal volgens die SAWD nog tot die einde van die jaar duur.

La Niña verwys na die grootskaalse verkoeling van oppervlaktemperatuur in die sentrale en oostelike ekwatoriale Stille Oseaan. Dit vind elke twee tot sewe jaar plaas en die huidige uitgerekte La Niña het die wêreld al sedert 2020 in sy greep.

Reënval in die provinsies

Luidens die SAWD se voorspellings gaan twee provinsies, Noordwes en die Vrystaat, tussen September en Januarie bogemiddeld baie reën kry – veral tussen Oktober en Januarie.

Groot reën sal van September af ook oor dele van KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap, Limpopo, Gauteng en die oostelike dele van die Wes-Kaap uitsak en tussen Oktober en Januarie aansienlik toeneem.

Die Noord-Kaap kan ook tussen Oktober en Januarie meer reën as gewoonlik verwag, hoewel ondergemiddelde reënval gedurende September vir sommige dele voorspel word.

Ondergemiddelde reënval word tussen September en Desember vir dele van die Wes-Kaap voorspel, hoewel die kans op reën van Oktober af al hoe groter word. Tussen November en Januarie word reën vir die grootste dele van dié provinsie voorspel.

Mpumalanga sal ook tussen Oktober en Januarie aansienlik baie reën kry. 

Skermskoot uit SAWD-verklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.