#NationalShutdown: Vreedsaam of nie, ‘skade is gedaan’

 

‘n Versperde pad tydens die EFF se nasionale stilstand. (Foto: RAJESH JANTILAL / AFP)

Groot dele van die land het dalk nie Maandag soos tydens die onluste van Julie 2021 gebrand nie, maar die skade is gedaan: Buitelanders het opnuut ’n gly in Suid-Afrika gekry.

Kenners sê ná afloop van die EFF se #NationalShutdown-betogings dié protesaksie het nie net misluk om ’n einde aan pres. Cyril Ramaphosa se termyn óf beurtkrag te bring nie, dit het die land uiteindelik ook meer skade berokken as wat dit goed gedoen het.

Dit het ook meer vrees as hoop ingeboesem.

Dís waarom

“Indien die shutdown ’n geïsoleerde geval was, was dit nog oukei, want daar word ook soms in ander lande betoog,” sê Theo Neethling, professor verbonde aan die departement van politieke studies en regeerkunde aan die Universiteit van die Vrystaat (UV).

“Dit het egter die afgelope 15 jaar al meer van ’n gereelde verskynsel in Suid-Afrika geword.”

Neethling is veral bekommerd oor die negatiewe uitwerking wat nóg ’n betoging op buitelandse beleggings het.

En al het geen eiendom of infrastruktuur dié keer in vlamme opgegaan nie, is buitelanders ongelukkig salig onbewus hiervan, sê Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling by die Solidariteit Beweging.

Kleynhans sê verskeie invloedryke Amerikaanse en Europese mediahuise het in aanloop tot die nasionale betoging berig oor die beplande protesoptrede.

Dit was baie duidelik uit dié beriggewing dat daar in die buiteland gevrees word dat die geskiedenis hom Maandag kan herhaal en die EFF se nasionale betoging in onluste soortgelyk aan dié van 2021 kan ontaard.

Kleynhans sê toe dit nie gebeur nie, het die meeste buitelandse media egter nie weer die moeite gedoen om ’n opvolgberig te plaas nie.

“Die berigte voor die tyd was baie meer as na die tyd,” verduidelik hy.

Ondersteuners van die EFF tydens die nasionale stilstand. (Foto: RODGER BOSCH / AFP)

Kleynhans verwys onder meer na ʼn spesifieke berig van Bloomberg waarin die joernalis dit duidelik gestel het dat die nasionale stilstand nie aan verwagtinge voldoen het nie.

In die invloedryke Wall Street Journal en New York Times het geen haan egter weer ná die aanvanklike berigte gekraai nie.

“My kommer is dat daar ’n persepsie is van ’n toenemend onstabiele Suid-Afrika,” sê Kleynhans nadat hy ’n wesenlike toename in negatiewe beriggewing oor Suid-Afrika wêreldwyd oor die afgelope twee weke opgemerk het.

Volgens Kleynhans is daar sover as China en Indië berig oor die EFF se retoriek en partyleier Julius Malema se wilde uitsprake oor hoe die EFF nie sal huiwer om gewelddadig te raak nie.

Suid-Afrikaners was verlig toe dit nie gebeur nie, maar “die skade is gedaan”, sê Kleynhans.

Hy waarsku dat Suid-Afrikaners hulself nie in negatiewe beriggewing oor Suid-Afrika moet verlekker nie, “want dit raak ons almal”.

Ondersteuners van die EFF tydens die nasionale stilstand. (Foto: EMMANUEL CROSET / AFP)

Maroela Media het boonop vandeesweek berig dat die ekonomiese uitwerking van die 2021-onluste byna twee jaar later stééds gevoel kan word.

“Dit skep die indruk dat Suid-Afrika ’n risiko-land is,” sê Neethling oor die opstande. “Binnelandse en buitelandse beleggers hou daarom eenvoudig terug, want hulle weet nooit wanneer daar weer opstande kom nie.”

Neethling en Kleynhans is dit ook eens dat die EFF se voornemens nie noodwendig edel was nie, of dat die party in landsbelang opgetree het nie; albei kenners vermoed dat die party eerder steun in aanloop tot volgende jaar se verkiesing probeer werf het.

Die DA het vroeër gewaarsku dat ʼn ganse stilstand van die ekonomie, selfs net vir ʼn enkele dag lank, die land ʼn geraamde R1,2 miljard in gegenereerde welvaart sou kos.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.