Natter herfs, vroeë winter verwag

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Jessica Knowlden / Unsplash)

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) voorspel dat die noordoostelike dele van die land tussen April en Julie bogemiddelde reënval kan kry, terwyl die suidwestelike dele ʼn laer as normale reënvalseisoen kan verwag. Die noorde van die land sal ook na verwagting ʼn warmer winter en die suide ʼn kouer winter as vroeër jare ervaar.

Volgens die weerdiens se seisoenale voorspelling sal die La Niña-weerstelsel, wat verantwoordelik is vir baie reën, regdeur die middelherfs en vroeë winterseisoene heers, maar wel effens swakker wees as dié stelsel wat die afgelope twee jaar reeds in die land heers. Dit kan daartoe lei dat vloede en oorstromings nog dwarsdeur herfs op plekke in die land kan voorkom.

Dié weerstelsel sal dan met die volgende somerseisoen stelselmatig plek maak vir die droër El Niño-stelsel.

Volgens die weerdiens word bogemiddelde maksimum temperature in die sentrale en noordoostelike dele van die land vir die komende winter voorspel. Ondergemiddelde temperature vir die seisoen word weer vir die suidwestelike dele van die land voorspel.

Die land het die afgelope somer ʼn bogemiddelde reënval beleef, met oorstromings en vloede wat plek-plek aangemeld is.

Uitwerking op landbou

Die ongewone reënval wat vir die komende wintermaande voorspel word, kan moontlik ʼn uitwerking op wintergewasse in verskillende dele van die land hê.

Die weerdiens sê met die bogemiddelde reënval wat voorspel word, is daar ʼn verhoogde risiko dat grond vinniger ʼn versadigingspunt kan bereik en só oesskade kan veroorsaak.

Boere in die suidwestelike dele van die land kan weer effens droër toestande verwag weens die ondergemiddelde reënval wat voorspel word. Die weerdiens moedig rolspelers in die landbou aan om boere in hierdie streke raad te gee hoe om water spaarsamig te gebruik en water vanaf alternatiewe bronne in te win.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Henri ·

Weer- en pandemievoorspellers leer statistiek en interpretasie daarvan seker in dieselfde skool. Ons moes volgens die weerprofete ‘n uiters nat Februarie en Maart beleef het, maar die 6 siklone wat Madagaskar getref het, het al ons vog uit gesuig en oor die see gaan gooi. Derhalwe het ons ‘n uiters droë en warm 2 maande hier in Limpopo beleef.

Prediker sê mos “Wie die wind bly dophou, saai nie, wie na die wolke bly kyk, oes nie.”

LD ·

Stem saam Henri. Die reën seisoen het goed begin in Limpopo maar vinnig afgeneem en het ons ‘n uiterse droë Februarie en Maart gehad! Moet sê in die deel van Limpopo waar ek woon is daar geen genade in die somer nie, 35°+ maar hierdie somer seisoen was die hitte aanvaarbaar en nie so uitermatig warm nie. Ons aande is nou koeler waar dit gewoontlik eers in Mei maand begin koeler raak. So dalk gaan ons ‘n vroeë winter beleef. Hoop maar net ons dam bly vol tot die volgende reën seisoen!

Grond ·

Geen vertroue meer in die Suid-Afrikaanse Weerdiens nie. Luister eerder na onafhanklike wetenskaplike voorspelers soos Johan van den Berg

Alfred E Neuman ·

Weervoorspellery is maar soos om die uitkoms van die lotto te voorspel. Blote bespiegeling.

Robert ·

Ek het weer ‘n gevoel ons gaan ‘n besonder koue winter beleef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.