NDBV gaan nie bes gee oor uitvoer van lewende skape

(Foto: NDBV/Facebook)

Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) sê hy het nog lank nie die stryd gewonne gegee om die uitvoer van lewende skape te stuit nie.

Duisende skape, bestem vir die vleismark in Koeweit en Oman, het Vrydag met die Al Mesilah daarheen vertrek. Die NDBV het vroeër ʼn lasbrief bekom om die skip te deursoek, maar dit is opgeskort nadat die eienaars van die skip, Al Mawashi, dit betwis het. Die Oos-Londen-landdroshof het wel aan die vereniging ʼn hofbevel toegestaan wat hom sou toelaat om die skip te inspekteer.

“Dit was niks minder as ʼn opdraande stryd nie. Hofverrigtinge, uitdagings om toegang tot die dokke te kry, werkers, agente en medewerkers van Al Mawashi en die Page Farming Trust wat ons inspekteurs met minagting behandel … Ondanks al dié uitdagings en terwyl hulle goed weet wat die uiteinde vir dié diere gaan wees, was ons span bankvas agter die stemloses,” het die NDBV gesê.

Meg Wilson, ʼn woordvoerder van die NDBV, het gesê na raming is sowat 54 000 skape op die skip gelaai. In September verlede jaar is nagenoeg 70 000 skape op dieselfde manier uitgevoer.

“Ondanks die hofbevel om die skip te inspekteer nadat dit gelaai is, is ons senior inspekteurs en veearts beveel om die skip te verlaat nadat hulle ʼn beseerde dier uitgewys het.”

Volgens die vereniging is dit minagting van die hofbevel.

Die NDBV sê hoewel Al Mawashi die publiek en howe beloof het dat die diere se welstand ʼn prioriteit is en dat ʼn onafhanklike veearts aan boord van die skip sou wees, was daar geen veearts in sig nie.

“Al Mawashi, ook bekend as KLTT, is berug vir sy wreedheid en gebrek aan menslikheid aan boord van skepe. Dit is geen verrassing dat hulle ons so gou moontlik van die skip wou afhê nie. Dié onetiese maatskappy het nou ʼn reputasie in Suid-Afrika dat hy nie wetgewing hier respekteer nie.”

Wilson sê die NDBV gaan intussen voort om ʼn verbod op dié soort uitvoere te laat plaas. Sy sê diere word ieder geval by hul bestemming geslag. Dit kan in Suid-Afrika gedoen word en nie net die diere groot lyding bespaar nie, maar ook werksgeleenthede help skep.

Die NDBV sê hy gaan steeds probeer om die uitvoer van skape op hierdie manier te stuit. (Foto: NDBV)

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van die burgerregtegroep AfriForum, het gesê die organisasie het aanvanklik by die kwessie betrokke geraak om toe te sien dat skaapuitvoere sonder reputasieskade vir die plaaslike bedryf kan voortgaan deur druk op Al Mawashi te plaas om sy huis in orde te kry.

Kriel sê dit was veral nodig ná die verdoemende LWCC-verslag, wat deur AgriSA aangevra is en wat nie geïgnoreer kon word nie. Luidens dié verslag is daar onder meer bevind die skip is onveilig vir die vervoer van skape omdat dit nie daarvoor ontwerp is nie, dat diere kan gly en beseer word, dat te veel skape gelaai word en daar nie genoeg vars lug vir die diere is nie.

“Intussen het die gesprekke waarby AfriForum se regspan betrokke is om ʼn protokol vir skaapuitvoere na die Midde-Ooste ingestel te kry, goed gevorder en was dit nie wenslik vir AfriForum om by enige verdere regstappe betrokke te raak nie,” het Kriel gesê.

“Gevolglik was AfriForum nie betrokke by verlede week se hofsaak tussen die NDBV en Al Mawashi nie en beplan ons ook nie tans verdere regstappe nie. Ek het vertroue dat ʼn protokol vir skaapuitvoere, soortgelyk aan die bestaande protokol vir beesuitvoere na Mauritius, in belang is van die volhoubaarheid van skaapuitvoere, die goeie naam van die skaapbedryf, boere en die ekonomie. Daarom werk ons steeds volstoom om so ʼn protokol onderteken te kry.”

Kriel het gesê daar is veral in die buiteland ʼn groeiende veldtog teen die eet van vleis.

“Die beste manier om dit teen te werk is om te sorg dat ons alles moontlik doen ten einde protokol behoorlik in te stel, asook alles reg laat verloop om nie aan dié teenvleisgroeperings skietgoed te gee nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johan Venter ·

Selfs skape (en ek praat hier van diere) het nie eens meer regte nie.

Grassie ·

Dit lyk vir my asof Afriforum ‘n toets gedop het met hierdie saak. Ek hoop nie hulle gooi tou op nie. Hierdie soort dieremishandeling hoort nie in ons land nie.

Hoe nou? ·

Enige mens wat so laag daal om besigheid te doen het geen maar geen besigheidsvernuf nie. Eintlik pateties. Dalk sal moeder natuur hier ook ingryp. Intussen gee hulle gas DBV

George ·

Hoekom is daar nie n protokol vooraf in plek gestel nie? Hoekom is die skip nie vooraf geinspekteer nie?

Wilmar ·

Die skip is inspekteer deur 3 Veeartse. Asook deur DBV se veearts.

Hennie ·

Ons howe buig agteroor om te voldoen aan ‘n geloof se vereistes – absoluut absurd dat diere so behandel word…

Wilmar ·

Die berriggewing is nie heeltemal korrek. Ek en my man (veearts) sou op die boot klim. Agvd Covid 19 met gepaardgaande kwarantyn, asook lande wat toemaak vir vreemdelinge, kon ons nie op die boot klim nie. Ons het ook saam met die DBV gewerk om seker te maak, dat slegs gesonde diere op die boot klim. My beskeie mening is dat die skaap oor die algemeen, in ñ baie goeie toestand was. Ek weet hoe lyk dit in die Karoo as diere vrek van die honger. Die Dbv kan liewer die miljoene rande spandeer aan hofsake (en wat hulle verloor saak na saak), gebruik om diere wat dit regtig nodig het, te subsideer. Baie plattelandse DBV’s is bankrot en kan die broodnodige geld, plaaslik bestee word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.