Nederland vry na Afrikaanse IT-spesialiste

Argieffoto van Amsterdam in Nederland. (Foto: Unsplash)

Nederlandse maatskappye is gretig op soek na Suid-Afrikaners en dit blyk dat Afrikaanssprekende IT-spesialiste veral gesog in die land van tulpe, stroopwafels én tegnologiereuse is.

Nederland word deesdae as ’n IT-kern in Europa beskou ten spyte daarvan dat die land ’n ernstige tekort aan vaardighede ondervind. Afrikaanse IT-spesialiste in Suid-Afrika word daarom nou die een ná die ander na Nederland weggeraap danksy hul uitstekende vaardighede (én aanpasbaarheid).

Ir. Olav’s Globetrotters, ’n werwingsmaatskappy wat spesifiek IT-spesialiste vir Nederlandse maatskappye werf, het die afgelope jaar niks minder nie as 12 Suid-Afrikaners vir die Nederlandse nutsmaatskappy Budget Thuis in Amsterdam gewerf.

Dié maatskapy het die afgelope 18 maande ongeveer 100 Suid-Afrikaners in die IT-bedryf vir maatskappye oor Nederland gewerf. Die meeste van die Suid-Afrikaners het vantevore in Pretoria en Johannesburg gewoon voor hulle sonnige Suid-Afrika vir Nederland verruil het.

“Dit is ’n maklike som om te maak,” verduidelik Diane van Galen Last, besturende direkteur van Ir. Olav’s Globetrotters, oor waarom juis Suid-Afrikaners so gesog is.

Sonja Poortman en Diane van Galen Last van Ir. Olav’s Globetrotters. (Foto: Verskaf)

Van Galen Last sê Suid-Afrikaanse IT-spesialiste word nie net vir hul vaardigheid in die vreemde ingespan nie, maar ook hul werksetiek, aanpasbaarheid en persoonlikhede.

“Nederlandse maatskappye hou van hoe Suid-Afrikaners dink en hoe hulle dinge doen. Hulle dink uit die boks. Suid-Afrikaners is ook gemotiveerd en gretig om te werk,” sê Van Galen Last.

Dit help natuurlik ook dat Afrikaanssprekendes Nederlands makliker verstaan en aanleer weens die ooreenkomste tussen die twee tale.

“Daar is ook min of geen tydsverskil tussen Suid-Afrika en Nederland nie,” wys Sonja Poortman, besturende vennoot van Ir. Olav’s Globetrotters, daarop.

Van Galen Last en Poortman was pas in Suid-Afrika om moontlike kandidate te ontmoet en sê hulle was weereens beïndruk met die kaliber van die 15 kandidate.

Poortman sê dit is jammer dat soveel mense “so ’n pragtige land soos Suid-Afrika” verlaat. “Baie mense wil egter in Nederland werk en ons kan daarmee help,” voeg Van Galen Last by.

Wendy Nelson, bedryfsbestuurder vir Ir. Olav’s Globetrotters in Suid-Afrika, sê sowat 20 kandidate per kwartaal word eindelik met behulp van Ir. Olav’s Globetrotters in Nederland gevestig.

“Dit wys jou net hoe groot die belangstelling is,” sê Nelson.

Ir. Olav’s Globetrotters vereis onder meer dat kandidate minstens oor ’n universiteitsgraad beskik om in aanmerking te kom vir werksgeleenthede in Nederland.

Van Galen Last en Poortman sê die opleiding wat Suid-Afrikaanse IT-spesialiste by Suid-Afrikaanse universiteite en tersiëre instellings opdoen, is van wêreldgehalte.

Argieffoto van Amsterdam in Nederland. (Foto: Unsplash)

SA’ner in Nederland vertel

Die Pretorianer en oud-Tukkie Chris Dreyer (26) is een van die Suid-Afrikaners wat met behulp van Ir. Olav’s Globetrotters die skuif na Nederland gemaak het.

Dreyer was die tweede Suid-Afrikaner by Budget Thuis toe hy middel verlede jaar by dié maatskappy as sagteware-ingeneur aangesluit het. Tien ander Suid-Afrikaners is sedertdien by dié maatskappy aangestel.

Hy vertel dat hy en sy vrou, Renate, al jare daarvan droom om hulle in ’n ander land te gaan vestig.

“Ek het so twee jaar gelede ’n artikel gelees oor hoe Nederland besig is om ’n IT hub in Europa te word. Ek het navorsing begin doen en redelik vinnig verlief geraak op die idee. Hoe meer jy lees, hoe cooler raak Nederland.”

Chris en Renate Dreyer saam met hul kat, Eiffel, in Nederland. (Foto: Verskaf)

Toe Dreyer in April verlede jaar van ’n kollega hoor wat met behulp van die maatskappy verhuis, het hy óók besluit om die skuif te maak.

Binne vier weke was hy, Renate én hul kat, Eiffel, gevestig in Amersfoort, ’n dorp sowat 50 km buite Amsterdam. Renate werk ook in die IT-bedryf en het relatief maklik werk in Amsterdam gevind.

“Daar is regtig baie werk in ons veld,” sê Dreyer.

“Ek dink Nederland boks in ’n hoër gewigsklas ten spyte daarvan dat dit ’n baie klein land is. Nederland is maar twee keer so groot soos Gauteng. Maar hier is baie groot maatskappye en net nie genoeg mense om die werk te doen nie.”

Dreyer glo ook Nederlandse maatskappye vind aanklank by die hardwerkende Suid-Afrikaners. “Hulle werk baie doeltreffend en ons werk van nature baie hard. Ons pas ook baie maklik aan in die kantoor.

“Ek het in Suid-Afrika vir ’n Afrikaanse maatskappy gewerk en my kantoorlewe hier voel baie dieselfde.”

Dreyer sê sy gesin verlang gereeld terug na hul mense en land, maar beplan glad nie om gou na Suid-Afrika terug te keer nie.

Hy gee toe dat hy aanvanklik geworstel het met die idee dat hy sy land agterlaat. “Nie almal kom egter hiernatoe om vir ewig te bly nie. Baie kom vir die ervaring en om geld te verdien om later terug te neem Suid-Afrika toe.

“Ons sal graag, as alles goed uitwerk, vir ewig hier wil woon. Ons geniet dit om fiets te ry en ons geniet die natuur. Die veiligheid is ook ’n groot trekpleister vir ons …

“Maar dit is nie vir almal nie,” erken hy ook.

“Dis ’n besluit waaroor jy mooi en lank moet dink. Dit ís moeilik om weg te wees van jou familie en vriende en jy voel nooit werklik of jy deel is van die gemeenskap nie. Maar dit is iets wat jy moet doen om te sien of dit vir jou is.

“Ek sal dit ten sterkste aanbeveel.”

Vir meer inligting oor Ir. Olav’s Globetrotters klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Errol ·

Voorspoed julle almal. Die regering daar sal julle soos mense behandel.

De Bok ·

Ek ervaar eerstehands hoe sterk hierdie Nederlandse flikflooi. Ek kry amper maandeliks ‘n e-pos of LinkedIn boodskap. Ek kan ook maklik gaan, want ek, en my vrou, en ons kinders het Nederlandse paspoorte.
So hoekom gaan ek nie?
Want dit is verskriklik moeilik om jou kinders gelowig groot te maak in daardie land. Die skole daar is byna almal gekaap deur die linkse woke kommuniste. Meeste van die kerke ook.
Alles is nie maanskyn en rose in Nederland nie, kyk maar na die boere-betogings in daardie land. As hulle nie hulle boere se regte kan respekteer nie, hoekom sal hulle enige-iemand s’n kan respekteer.
Ek skaar myself veel liewer by die Afrikaaners as by die Nederlanders. As ek gedwing word om uit Pretoria te trek, vat ek my gesin (en my vaardighede) Orania toe voor ek dit Europa toe vat.

Hendrik ·

De Bok jy is welkom om ons te besoek en is net oos van Pretoria op Kleinfontein. Veilig, skoon water en werk hard om van die netwerk te kom. Persoonlik is ek al 7 jaar heeltemal van Eskom af . Ek werk ook in Centurion en ons het goeie toegang tot die N4. Ons bly al 14 jaar hier en dit is ongelooflik.

George ·

Met alle respek, het jy geen idee oor wat jy praat oor die skole nie, het menige vriende wat almal in Christlike skole is.

George ·

“boere” is ook nie the begin en einde soos hulle wereldwyd hulself sien nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Maar julle het steeds Nederlandse paspoorte? Seker net vir ingeval…

De Bok ·

Ja, as dit om oorlewing gaan. En om familie daar te kan besoek sonder visas etc.

JohanNL ·

Ek is sommer al klaar hier, met ‘n kind in basisschool (laerskool). En jys reg, die skole is sekulêr en die kerke loop leeg hier, nes in SA.

As jy staatmaak op ‘n skool of ‘n kerk om jou kind(ers) “gelowig op te voed” of ‘n morele kompas te gee (in die geval van ongelowige ouers, ons bestaan ook ????), dan het jy ander probleme oor ouerskap, hier of enige ander plek in die wêreld.

De Bok ·

Mens moet jou kinders skool toe stuur of homeschool. In Suid Afrika is daar nog ‘n klomp betroubare Christelike skole, wat nog werklik so is, en nie net in naam nie. Hier is ook beter tuissskool opsies, sou die skole val.

Ook, as jy nie in ‘m kerk is nie, is jy nie werklik ‘n Christen nie (en ek sal op hierdie heuwel sterf). So ‘n ordentlike kerk is belangrik. Ek weet hoe my familie in Ndl sukkel.

Geen gesin is ‘n eiland nie. It takes a village to raise a child, ek soek ‘n Christen village

Delarey ·

Dis no soseer dat jy van die skool verwag om jou kind gelowig op te voed nie, maar eerder wat in plaas daarvan aan jou kind opgedis word sonder dat jy dit eers weet. Heelwat later sit jy met die gebakte pere.

Moenie wie jy is en wat jy glo onderskat nie. Dis goud en jy hoekom SA’ners so gesog is. As jou kinders daar grootword kan jy egter seker wees dat hulle sal integreer.

Miskruier ·

Was Vrydag by die chiro…..een van die min wat nie ge emmigreer het nie.

Pieter ·

Ek is in die IT bedryf en 6 van die mense wat ek ken is al oor Nederland toe. Almal is Afrikaans behalwe een ou – hy het ‘n deaurbraak gemaak in IT wat VSA nie eers kon doen nie en het sy idee gepantenteer – ‘n maand later nooi Holland hom om vir hule te kom werk teen ‘n astronomiemse salaris. So ja- daar gaan ons experts….

Marthinus W ·

Die Nederlanders is baie woke, soos De Bok noem. Hulle is ook baie nou betrokke by Navo en Amerikaanse instellings, en groot ondersteuners van Zelenski. Giftige organisasies soos bv Bellingcat, word nou vanuit Nederland bedryf, en n Nederlander is al aan die VSA oorgelewer omdat hy hulle stelsels gekraak het.

Nettie ·

Ja-nee. Ek kan ook getuig hiervan. Almal betrokke in die IT sien en hoor dit.

Ek hoop net mense besef wanneer WW3 uitbreek, gaan die hele Europa betrokke wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.