Nehawu ‘se moeilikheid geboek’ ná stakings

(Foto: Nehawu/Facebook)

Nehawu is dalk nou in sy noppies met wat hy tydens sy landwye staking vermag het, maar gaan waarskynlik binnekort met strafregtelik en siviele aanklagte gelooi word.

Regskenners het dit eens dat die vakbond aanspreeklik gehou kan word vir die meer as vier sterftes wat die afgelope twee weke regstreeks met die onbeskermende staking verbind is. Dit gaan egter nie maklik wees om te bewys dat die vakbond of sy lede bloed op hul hande het nie, sê Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof van regsake by Solidariteit.

“Skadevergoeding is baie makliker om te bewys as sterftes. Jy gaan moet bewys dat indien dit nie vir ’n derde party se optrede was nie, sou die persoon nog geleef het.”

“Dit gaan báie moeilik wees,” beaam die arbeidsregkenner Michael Bagraim.

Hy stel egter voor dat ontwrigte staatshospitale se gemiddelde aantal sterftes per dag vergelyk word met die aantal sterftes wat elke dag tydens die staking aangemeld is. “Dit sal jou in staat stel om te sê die sterftes het met ʼn sekere aantal toegeneem,” verduidelik Bagraim.

Maroela Media het vroeër berig grootskaalse ontwrigting is die afgelope paar weke by staatshospitale aangemeld voordat Nehawu Woensdag sy staking afgelas het.

Dít nadat die vakbond tot ’n ooreenkoms met die regering ingestem het om onderhandelinge oor die 2022-salarisverhogings te heropen. Volgens die departement van gesondheid kan “meer as vier” sterftes met die betogings verbind word, maar wou nie spekuleer voordat alle inligting ingevorder is nie.

Van der Bijl sê “die eerste stop” gaan waarskynlik wees om stakers in hul private hoedanigheid aanspreeklik te hou vir die beskadiging aan hospitaaleiendom en ontwrigte bedrywighede. Beeldmateriaal en ooggetuies kan in die geval ingespan word.

Maar die vakbond self?

Van der Bijl en Bagraim sê albei dit hang af in watter mate die vakbond beheer oor sy lede tydens die staking uitgeoefen het.

“’n Vakbond kan uiteraard nie vir ál sy lede se dade pa staan of aanspreeklik gehou word vir iemand wat totaal en al buite die mandaat van die vakbond opgetree het nie.

“Maar indien ’n vakbond bewus is daarvan dat lede die reëls oortree en versuim om op te tree, kan die vakbond beslis aanspreeklik gehou word,” sê Van der Bijl.

Die feit dat die staking ten spyte van verskeie interdikte voortgegaan het, help ook nie die vakbond se saak nie, sê Bagraim.

Bagraim sê sover sy kennis strek, is ’n Suid-Afrikaanse vakbond nog nooit suksesvol vir ’n sterfte aanspreeklik gehou nie. Daar is wel verskeie sake waarin ’n vakbond aanspreeklik gehou is vir onder meer aanranding en die beskadiging van eiendom tydens ’n staking.

Een só ʼn voorbeeld is gebeure by die onderneming Marley Pipe Systems in Nigel in Gauteng.

Die arbeidshof het in 2020 beslis dat tientalle werknemers met ’n gemeenskaplike doel opgetree het toe hulle Ferdinand Steffens, hoof van menslike hulpbronne by die onderneming, tydens ’n onbeskermende staking aangerand het.

Altesaam 12 werkers het in beeldmateriaal verskyn wat wys hoe Steffens deur ’n ruit gestoot word voordat hy met klippe bestook en geskop is.

Die werkgewer het egter destyds aangevoer dat al die werknemers hul ontevredenheid in die vorm van ’n gruwelike misdaad gerig het – diegene wat die hoof van menslike hulpbronne persoonlik gekonfronteer en fisiek aangerand het, en diegene wat die ander aangehits om hom aan te rand.

Nie minder nie as 148 werkers is gevolglik ontslaan.

Die metaalwerkersvakbond Numsa het egter geappelleer en die Konstitusionele Hof het later beslis dat die arbeidshof gefouteer het en die beslissing ter syde gestel.

Altesaam 41 van die werkers is gevolglik weer aangestel.

Nehawu het intussen gesê die staking het “aansienlike sukses en uitkomste gelewer”.

Maroela Media het die departement van gesondheid weer Donderdag genader om meer te wete te kom oor die aantal sterftes wat met die staking verbind word en of die departement enige stappe teen Nehawu oorweeg.

’n Woordvoerder van die departement het egter geen inligting hieroor beskikbaar gestel nie en het net weereens bevestig dat die situasie by gesondheidsfasiliteite reg oor die land gestabiliseer het en dat hulle nou saam met provinsiale departemente werk om te verseker dat agterstande wat deur die staking veroorsaak is, ingehaal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.