Net 31% van SA’ners ‘voel veilig’ – AA

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Jason Blackeye/Unsplash)

Minder as ʼn derde van Suid-Afrikaners voel meestal of heeltemal veilig in die land, terwyl nog ʼn derde ietwat veilig voel, 22% skaars veilig voel en 15% van mense hoegenaamd nie veilig voel nie.

Dít is van die bevindinge wat die Automobiel-Assosiasie (AA) in sy verslag oor die stand van veiligheid (SoS) gemaak het.

Navorsers het tussen Maart en April vanjaar ʼn opname onder 1 450 respondente gedoen om te bepaal hoe veilig Suid-Afrikaners werklik voel. Dít, tesame met die amptelike misdaadstatistieke, het ʼn donker prentjie geskets.

Luidens die AA se bevindinge het ʼn driekwart, oftewel meer as 1 100 van die respondente, aangedui dat hulle al ʼn slagoffer van ʼn misdaad in Suid-Afrika was.

Dit is sommige van die hoofredes waarom byna die helfte van die respondente onveilig voel in openbare ruimtes en 25% wanneer hulle na die werkplek of skool pendel.

Altesame 36% van die respondente voel nie effens (29%) of enigsins (7%) veilig in hul eie huis nie. Slegs 30% voel veilig in hul huis, 20% voel baie veilig en 14% geweldig veilig.

Die polisie se jongste misdaadsyfers is Dinsdag bekendgemaak en hoewel die syfers effens beter lyk as vorige kwartale, is dit steeds nie goeie nuus nie.

Altesame 6 289 mense is tussen Januarie en Maart vanjaar in die land vermoor. Benewens moord het die meeste ander soorte kontakmisdaad ook in hierdie tydperk toegeneem.

“Hierdie syfers is nie net ʼn aanduiding van die nagmerrie wat baie Suid-Afrikaners daagliks ervaar nie, maar ook ʼn aanduiding van ʼn regering wat die geveg teen misdaad verloor het,” sê Willem Groenewald, uitvoerende hoof van die AA.

“Hierdie statistieke wys, onrusbarend, waarom 81% van Suid-Afrikaners meer vertroue in private veiligheidsdiensverskaffers as die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het.”

Altesame 88% van die respondente wat aan die AA se opname deelgeneem het, het ook aangedui dat hulle glo misdaad gaan in die toekoms toeneem.

“Gegewe die statistieke is dit geen verrassing nie dat al hoe meer mense geld bestee aan persoonlike veiligheid soos diefwering, alarmstelsels en sekerheidskameras by hul huise,” sê Groenewald.

Die AA REMI-toestel is een van die produkte wat mense onlangs begin aankoop het om veiliger te voel. Dit is ʼn draagbare toestel wat 200 private veiligheidsmaatskappye kan aktiveer wanneer die gebruiker bedreig voel.

“Ons land is ʼn gevaarlike plek, daarom glo ons hierdie toestel is ʼn betroubare en doeltreffende oplossing vir almal om veilig te voel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Wondermaarnet ·

Die 31% is seker die “fat cats” wat persoonlike lyfwagte het waarvoor die belastingbetaler opdok.

M ·

Iewers klop die genoemde persentasies van “veilig voel” hoegenaamd nie soos wat ek met baie vriende/familie ( oor dié saak ) gesels het nie.

Stephanus Hendrik ·

Die 31% wat veilig voel in Suid-Afrika is seker die regering wat so bewaak. Niemand is veilig in Suid-Afrika nie. Kyk maar na die hoë moord en misdaad syfers. Die polisie het hul doel verloor en misdaad wen. Net die onbevoegde regering is verantwoordelik vir dit.

Charmain ·

Sal interessant wees om te sien waar bly die 31% en wat is hulle inkomste

Daizee ·

As dit nié regerings ampenare is nie wil ek net weet wáár bly dié 33%?!!!!

Heila Isabella ·

Hoe kan mens op n getal van 1450 respondente so n verslag doen ? Maak glad nie sin nie

Leon ·

Dis verseker nie waar nie , waar woon die 31% seker ryk mense met alle moontlike sekuriteit wagte ens, net jou rykdom sal jou red in SA

Delia ·

Net 1450 respondente uit die hele RSA. En dit regverdig n media artikel. Dis mos nou belaglik. Gee vir ons n uitleg van ras, geslag, ouderdom, woonarea ens.

Jasmyn ·

Ek is seker as daar aan ELKEEN se deur geklop moet word sal dit nie 31%wees nie maar wel 1%. Suid-Afrika het die goorste land geword om in te bly, in die stad sowel as op die platteland.

Papsak ·

Dit net SA wat so gevaarlik geword jy nie in jou eie huis meer veilig nie n skande regtig

Niklaas ·

Ek ken niemand in SA wat veilig voel of gerus is oor die land se toekoms nie. Die kastige 31 % is dalks ‘n verdigsel of dit verwys na kaders wat omring is deur lyfwagte , as hul dit buite hul kastele waag.

Lillian ·

Nee wat ek dink dis dalk nader aan 1%. Hierdie statistiek is seker ook soos die misdaad syfers gekook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.