‘Net son- en kernkrag kan Eskom nou red’

V.l.n.r. Piet Croucamp, Dirk Hermann, Malegapuru Makgoba, Ghaleb Cachalia

In sy huidige vorm is daar geen omdraaikans vir Eskom nie. André de Ruyter, oud-Eskomhoof, het Saterdagaand tydens ʼn gesprek by die Woordfees in Stellenbosch aangevoer Suid-Afrika se kragsentrales het net sowat ʼn dekade van bruikbaarheid oor weens die vervalle infrastruktuur.

De Ruyter het uit Connecticut in die VSA ingeskakel by die gesprek onder leiding van politieke ontleder Piet Croucamp.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, Ghaleb Cachalia, die DA se woordvoerder oor openbare ondernemings, en prof. Malegapuru Makgoba, voormalige tussentydse voorsitter van Eskom en skrywer van die nuwe boek, Leadership for Transformation, het by hulle aangesluit.

Croucamp wou by De Ruyter weet of sy boek, Truth to Power: My Three Years Inside Eskom, nie buitensporige oordrywing was nie. De Ruyter ontken dit. “Trouens, ek het waarskynlik die kriminaliteit en korrupsie onderspeel. Ek put genot uit dit wat nou op die lappe kom en dit is interessant dat die korrupsie deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens blootgestel word, nie deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens nie.”

Probleme met Eskom-leierskap

Makgoba sê in die 29 jaar sedert die aanvang van demokrasie het die land se presidente verskeie leierskapseienskappe getoon.

Nelson Mandela het versoening nagestreef; Thabo Mbeki was aksie-georiënteerd en wou transformasie teweeg bring; Jacob Zuma was baie gewild, maar het dom besluite geneem; en pres. Cyril Ramaphosa vermy alles.

Hy voeg by daar is twee probleme met die raad van Eskom: politieke inmenging en knoeiery, en die bestuur van Eskom wat aan te veel verskillende takke van die regering moet antwoord gee.

Volgens Makgoba is meeste van die raadslede nie aangestel vir hul kennis of aangestel op meriete nie, maar eerder weens hul politieke lojaliteite.

Hy benadruk die rol van die raad was strategiese oorsig en daar moet ʼn skeiding kom van pligte. In ʼn gesprek met De Ruyter op 16 Januarie 2020, toe daar besluit is dat hy die gesig sal wees van Eskom, het die raad benadruk dat hulle rol strategiese oorsig sal wees, en nie om by bedrywighede betrokke te raak nie.

Hoë salarisse by Eskom?

In reaksie op ʼn vraag van Croucamp dat Eskom-werkers, aldus ekonoom Mike Schüssler, sowat 45% meer verdien as ekwivalente poste in die privaat bedryf en dat dit weens gewelddadige stakings bekom is, het Hermann gesê dit is “lui” somme van Schüssler.

Hermann het bevestig dit is wel so dat salarisse vir die topvlakke “ontplof” het en die onderste posvlakke inderdaad hoër salarisse verdien as die res van die mark, maar gesê die ambagslui op vaardigheidsvlakke verdien nie meer as die privaat bedryf nie. Dis juis hoekom daar ʼn spesialistekort is by Eskom, aldus Hermann, “en hulle in Australië vir mekaar in Afrikaans e-posse kan stuur”, met verwysing na die groot hoeveelheid tegnici wat landuit is.

Hermann het die vraag ook as “lui” bestempel en gesê dit trek ʼn kwas oor die werk wat Solidariteit se lede by Eskom doen. “Hulle het hoegenaamd nie aan enige gewelddadige stakings deelgeneem nie. Inteendeel, hulle is met petrolbomme aangeval indien hulle dit gedurf het om te gaan werk.”

De Ruyter voeg by selfs al werk almal by Eskom verniet, sal dit geen impak hê op die inkomstebalansstaat nie.

Sakemodel onvolhoubaar

André de Ruyter (Foto: Maroela Media)

Volgens De Ruyter is die huidige inkomstemodel verkeerd en ʼn geleidelike verhoging van tariewe moet ingestel word. “Die agterstand is egter só groot, dat die skok op die ekonomie te groot sal wees indien mens sou poog om die agterstand te probeer inhaal. Dit kan bloot nie herstel word nie, veral nie as mens die koste in ag neem om die infrastruktuur te vervang nie.

Nog ʼn probleem is munisipaliteite wat kies om Eskom nie te betaal nie, en Eskom word dus as’t ware gedwing om elektrisiteit gratis te verskaf.

“Ons kragsentrales het slegs ʼn dekade oor weens die toestand van die infrastruktuur. Daar is nie ʼn kans dat Eskom sal kan terugkeer na sy glorieryke dae toe hy die laaste kragtariewe ter wêreld gehad het nie.”

De Ruyter meen ontbondeling en magskeiding moet dringend ingestel word en Eskom moet dadelik sy koolstofvoetspoor verklein.

Hy sê sonkrag en windkrag, verreweg die goedkoopste energie, moet so vinnig as moontlik deel vorm van die kragopwekkingspakket. Die koste per MW-uur moet so laag as moontlik gehou word. “Privaat ondernemings is gretig om dit in te stel, maar die regering staan in die pad.”

Cachalia voeg by Eskom se raad het planne om die Wêreldbank te nader vir nog ʼn lening van $1 miljard (sowat R19 miljard). “Die Wêreldbank gaan dan egter beheer wil neem, en [minister van openbare ondernemings] Pravin Gordhan gaan as ʼn ou kommunis, ʼn ou kontroleur, nie dáárvan hou nie.”

“Skeppende vernietiging”

Hermann meen beurtkrag het bevryding gebring vir die land. “Sodra iets vernietig word, word iets daardeur geskep.”

Hy verduidelik daar word tans sowat 5 000 MW opgewek weens sonkragpanele op privaat persone se dakke.

“Dit het die regering 12 jaar en R200 miljard gekos om Kusile te bou wat uiteindelik slegs sowat 4 700 MW kan produseer.”

De Ruyter voeg by regulasies oor terugvoertariewe moet so vinnig as moontlik ingestel word en die netwerk moet gerat wees om krag van privaat kragopwekkers te kan inskakel.

Politieke inmengery

Makgoba het verwys na ʼn gesprek tussen die destydse hoof van Eskom, dr. John Maree, met oudstaatspresident PW Botha. “Maree het aan die Groot Krokodil gesê: Bly jy by die politiek, moenie inmeng by die wetenskaplike en tegniese kennis nie. Die oomblik toe politici begin inmeng het, het Eskom ʼn politieke speelbal geword.”

Makgoba sê selfs as ʼn lid van die raad van Eskom, weet mens nie wat agter jou rug gebeur nie.

“Ek woon soms partytjies of begrafnisse by saam met mense met wie ek in die politiek grootgeword het. Dan sal iemand na my toe kom en sê daar is ʼn probleem met dié of daai hospitaal en hulle wil weet of daar nie dalk ʼn politieke oplossing is nie. Dit is nie wettiglik verdedigbaar nie. Die dinge gebeur dus by partytjies, nie in formele vergaderings nie.”

Makgoba benadruk Maree en Botha se gesprek moet die riglyn wees: “Los dit vir die kenners. Eskom hoef nie te privatiseer nie, maar dit moet bestuur word deur mense wat weet wat hulle doen.”

Die Fivaz-vraag

Croucamp wou by De Ruyter weet of hy spyt is oor sy besluit, as ʼn wit man, om George Fivaz se maatskappy te gebruik vir ʼn forensiese ondersoek na korrupsie by Eskom.

De Ruyter het in 2021 die privaat ondersoek ter waarde van R50 miljoen van stapel gestuur. Fivaz het ʼn verdoemende verslag gepubliseer oor misdadigheid by Eskom waarin staatsamptenare geïmpliseer is. Gebaseer op inligting uit dié verslag, het De Ruyter verskeie bewerings gemaak in ʼn eNCA-onderhoud met Annika Larsen. Kort ná dié verslag het De Ruyter as hoof van Eskom bedank en hy is landuit uit vrees vir sy veiligheid. Joernalis Jacques Pauw het daarna in ʼn artikel aangevoer die verslag “bevat geen feite nie” en is “heeltemal waardeloos”. Pauw het aangevoer die ondersoek het staat gemaak op inligting wat bekom is deur ʼn voormalige Vlakplaas-agent, Tony Oosthuizen. Volgens Pauw het Oosthuizen rassistiese sienings gehad en by hom gespog oor moorde tydens apartheid.

De Ruyter het gesê hy is baie gemaklik dat hy die regte ding gedoen het en dat hy dit op ʼn wettige manier gedoen het.

“Nie ʼn enkele sent van Eskom is vir die ondersoek gebruik nie. Die kontrak vir die ondersoek was boonop tussen donateurs en George Fivaz Forensic and Risk. Daar was gerugte oor wanadministrasie, maar dit is presies wat ek wou ondersoek. Fluitjieblasers word baie skerp geoordeel in die land,” sê De Ruyter.

Hy sê die idee dat hy toestemming by die raad moes kry voor hy die ondersoek van stapel gestuur het, is ook nonsens. “Vra enige uitvoerende hoof van ʼn privaat maatskappy of enige ondersoekende joernalis: mens hoef nie toestemming te vra voor jy met ʼn ondersoek begin nie.”

De Ruyter sê Fivaz was ook Mandela se eerste nasionale polisiekommissaris. Hy meen hy bevind hom dus in “vermaarde geselskap”.

“Ek het ook net die ontmoeting gereël tussen die paneel topsakemanne (van alle rasse) en George Fivaz. Dit was dus nie ek, as ʼn wit man in ʼn donker kamer, wat ʼn besluit geneem het om Fivaz aan te stel nie.”

Makgoba voeg by dit is betreurenswaardig dat die akkreditasie van ʼn wit persoon dadelik bevraagteken word, terwyl mense dit nie sal durf waag indien dit ʼn swart maatskappy was wat aangestel is nie.

Cachalia sê met die wysheid wat nawete bring, was dit dalk nie ʼn weldeurdagte besluit om Fivaz aan te stel nie, maar daar word nou stappe gedoen op van die inligting wat deur sy ondersoek onthul is. “Het hy sy werk gedoen? Inderdaad.”

Hermann sê die vraag is eerder hoekom André hieroor uitgevra word, en hoekom die boewe nie eerder ondervra word nie. “Ons het 6 000 (Solidariteit)-lede in Eskom en ons het self ʼn intelligensieverslag saamgestel wat ingrypende korrupsie onthul het. Eskom is ʼn de facto-mafiastaat waar die politiek en mafiastaat vermeng word.”

Volgens Hermann het hulle onlangs weer inligting ontvang van ʼn fluitjieblaser oor Medupi wat “leeg gesteel word”.

Croucamp wou by De Ruyter weet of hy bereid is om die twee ministers, wat in die Fivaz-verslag geïmpliseer word, se name bekend te maak.

De Ruyter het hierop geantwoord dat meer inligting waarskynlik uit die verslag onthul sou kon word, as dit nie vir Pauw se artikel was wat die donateurs afgeskrik het nie. “Mens moet die vraag vra: Wie het voordeel getrek uit die artikel?”

De Ruyter voeg by: “As jou huis brand en jou buurman bied ʼn tuinslang aan, dan vra jy nie of die tuinslang blou of groen is nie, jy gryp hom net. Dit is nou tyd vir aksie.”

Te veel werkers by Eskom?

In reaksie op ʼn vraag van Croucamp of daar te veel werkers by Eskom is, het De Ruyter gesê die Wêreldbank se studie, dat Eskom met slegs 12 000 mense bedryf kan word, is gebrekkig. “Hulle het slegs na die kragsentrales gekyk, en nie transmissie of distribusie in ag geneem nie. Maar daar is geen sin om die werkers minder te maak nie – dit sal geen impak hê op die inkomstestaat nie. Privaat opwekking moet eerder ʼn geleidelike proses wees.”

“Middelmatigheid”

ʼn Lid van die gehoor wou by die paneel weet of daar iets is wat ons as belastingbetalers kon doen om die kragvoorsiener se verval te kon keer.

Makgoba het hierop geantwoord die probleem is dat middelmatigheid aanvaar word.

“Dit is maklik om wit mense te laat skuldig voel, en dit verlam hulle. Struggle mense het egter nie die kundigheid nie. Ons het kundigheid geïgnoreer en swak leierskap gekies. Ons het middelmatigheid goedgekeur.”

Herman het bygevoeg die antwoord lê nie in Eskom nie, eerder in privaat kragopwekking.

De Ruyter voeg by kernkrag moet beslis deel van die kragopwekkingspakkie wees – minstens tussen 10% en 15%.

“Maar nie die ou tradisionele tegnologie kernkrag nie. Daar is nuwe modulêre kernkrag wat ontwikkel word. Ons moet egter nie iemand se proefkonyn wees nie. Dit moet bewese tegnologie wees wat ons kan aanwend.”

De Ruyter sê daar is twee maatskappye met wie hy in gesprek is wat dié tegnologie na verwagting reeds in 2024 of 2025 gereed sal hê. “Maar dan moet dit bewysbaar gekommersialiseer wees. Ons kan dit ook nie in die hande van die staat los nie; dit moet privaat aangeskaf word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

annie ·

Glo De Ruyter werklik dat die ANC skielik kernkrag soos ‘n Eerstewêreldland sal hanteer nadat niks voor dit reg geskied het nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Terwyl huishoudings en besighede klippe kou is hier te veel verskuilde agendas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.