Newzroom veroordeel polisieoptrede by stemlokaal

Senior verslaggewer Ziniko Mhlaba van Newzroom Afrika is vroeë vandag in hegtenis geneem (Foto: Skermskoot)

Die nuuskanaal Newzroom Afrika sê sy senior verslaggewer Ziniko Mhlaba wat vroeër die dag by ’n stemlokaal in Soweto, Johannesburg, in hegtenis geneem is, het net sy werk gedoen en geen wet oortree nie.

Volgens die nuuskanaal het die joernalis en kameraman, Muraga Mphaphuli, die nodige toestemming van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) gehad om in die stemlokaal verslag te lewer.

Maroela Media het vroeër berig Mhlaba is in hegtenis geneem nadat hy daarvan beskuldig is dat hy gemeng met die uitvoering van ʼn OVK-beampte se pligte.

Mhlaba was by ʼn skool in Soweto van waar hy ʼn regstreekse uitsending sou doen toe ʼn onderonsie tussen hom en polisiebeamptes by die stemlokaal ontstaan het.

Mhlaba, wat sê hy is ten volle geakkrediteer om die verkiesing te dek, sê polisiebeamptes het onder meer aan hom gesê dat die media nie in die vertrek waar stemme uitgebring word mag wees nie.

Die media word in stemlokale toegelaat, maar nie by stemhokkies waar kiesers hulle kruisies trek nie.

Newzroom Afrika het in ’n verklaring die voorval ten sterkste veroordeel.

“Mhlaba of Mphaphuli het nie enige bepalings van die kieswet verbreek of met die werk van enige OVK-beampte ingemeng nie,” lui die verklaring.

“Die veiligheid van ons verslaggewers is van kardinale belang. Dit is waarom ons dadelik ná die voorval opgetree het. As nuusuitsenders is dit ons plig om geloofwaardige inligting weer te gee en OVK-beamptes kan nie hierteen gaan nie. Ons neem hierdie saak baie ernstig op.”

Die polisie het bevestig dat die Gautengse polisiekommissaris ’n ondersoek na die voorval gelas het.

“Newzroom Afrika doen ’n beroep op die polisie en OVK om te verseker dat mediavryheid nooit weer só geskend sal word nie.”

Mhlaba is later vrygelaat en die OVK sê ʼn ondersoek sal na die voorval gedoen word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Sarel ·

Ook maar net die een kant van die storie jy sal ook nooit die waarheid hoor nie

Adriaan ·

Die polisievrou wat die kamera met haar agterkant versper vertel my alles wat ek wil weet.

Harley Davidson ·

Die polisie het nie geweet hoe sal hulle weet wat aangaan in ‘n verkiesing lokaal hulle ken nie eers die wette van Suid-Afrika wat hulle veronderstel is om toe te pas.

Adriaan ·

Nog n geval waar die polisie baie dapper is wanneer hulle in die meerderheid is en burgerlikes betrokke is maar hulle hardloop weg wanneer geharde misdadigers betrokke is.

Harley Davidson ·

Die polisie het ‘n ernstige bedreiging geword vir die mense wat hulle moet dien,onbevoegde lede met onbevoegde leiers is ‘n resep waarvan niks goed kan kom nie.

Sandra ·

Nog ‘n berig dat die polisie sleg opgetree het. Wat gaan met hulle aan? Die OVK moet eerstens ondersoek hoekom mense so lank in rye moes staan om te stem, wat veroorsaak het dat baie mense omgedraai het, voordat hulle ander ondersoeke aanpak. Dan moet hulle, ipv daarvan om ongeskik te wees met mense, eerstens om verskoning vra aan die mense wat in die koue in lang rye vir 2 ure moes staan.

Waarnemer ·

Die polisie beampte het reg opgetree volgens ANC reels en regulasies…die verslaggewer sou die korrupsie wat plaas vind binne in die kies lokaal mos raaksien en aan die publiek uitwys.

Maritza ·

As die polisie dan aan die regte kant van die wet is met hulle optrede, hoekom dan die kamera toe staan. Is oor hulle weet hulle verkeerd is maar steed hulle “gesag” wil afdwing. Wil seker ook belangrik voel. So verbreek hulle net die publiek se vertroue verder

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.