Nie alle mediese interns geplaas oor ‘befondsingsprobleme’

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: Jossué Trejo/pixabay)

Nie alle mediese interns wat die departement van gesondheid se internskap-en-gemeenskapsdiensprogram (ICS) voltooi het, is geplaas vir hul verpligte jaar van gemeenskapsdiens nie.

As rede word ʼn tekort aan befondsde poste in sekere provinsies aangevoer.

Die departement van gesondheid het vandeesweek erken dat sommige omgewingsgesondheidpraktisyns, radiografiste en fisioterapeute nie vir hul verpligte diensjaar geplaas kon word nie weens probleme met befondsing vir dié mediese personeel.

“Die departement is egter besig om saam met provinsiale gesondheidsdepartemente te werk om te verseker dat befondsing ontsluit word sodat alle gekwalifiseerde mediese personeel vir hul gemeenskapsdiensjaar geplaas word,” sê Foster Mohale, woordvoerder van die departement.

Mohale sê daar word veral aandag aan die omgewingsgesondheidpraktisyns gegee wat nie geplaas is nie, aangesien hulle ʼn belangrike rol speel deur te verseker dat verskeie belangegroepe aan die nodige voedselveiligheidwette en regulasies voldoen.

Volgens die departement het hy intussen daarin geslaag om 2 101 gekwalifiseerde gemeenskapsdienspersoneel en 2 210 mediese interns by fasiliteite regoor die land te plaas.

“Altesame 220 dokters wat vir hul gemeenskapsdiensjaar aansoek gedoen het, het egter nie in aanmerking gekom om nou al geplaas te word nie omdat hulle destyds hul internskap laat begin het,” sê Mohale.

“Gevolglik sal poste eers later in die jaar aan dié dokters toegeken word.”

Die departement voer aan dat nog 53 gekwalifiseerde dokters ook nie vandeesweek by hul toegekende mediese fasiliteite begin werk het nie, omdat hulle die plasings om een of ander rede verwerp het.

“Die redes hiervoor sluit in die geografiese ligging van die plasing en al hierdie dokters het reeds appèl aangeteken,” sê Mohale.

“Die departement gee aandag aan al die appèlle, en die impak wat dienslewering in ʼn gebied het weens die vakante poste sal tydens die hersieningsproses in ag geneem word. Die uitkoms van die appèlaansoeke sal mettertyd aan elke dokter gekommunikeer word.”

Verskeie jong dokters was verlede jaar raadop oor die plasings vir die gemeenskapsdiensjaar wat oudergewoonte weer laat was. Baie van die dokters was teen Desember nog glad nie geplaas nie, óf op heel ander plekke en selfs in provinsies waarvoor hulle nie aansoek gedoen het. Die probleem met plasings herhaal klaarblyklik homself elke jaar.

Altesame 27 dokters is aanvanklik in die Noord-Kaap geplaas, maar toe op kort kennisgewing by hul alternatiewe keuses geplaas.

Die departement sê hy is in kontak met dié dokters en al die ander om hulle op die hoogte te hou van die stand van sake.

“Die departement het ook onlangs bewus geraak van ʼn aantal dokters wat werkloos is sedert hulle hul gemeenskapsdiensjaar voltooi het,” sê Mohale.

“Die departement is besig met samesprekings met organisasies wat dokters verteenwoordig en verskeie provinsies om aandag te gee aan hierdie probleem van werkloosheid.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hannes ·

En die ANC dink hulle kan ‘n nasionale gesondheidsversekering maak werk? CR en sy kabinet het te veel motivering toesprake bygewoon waar herhaaldelik vir hulle vertel word “Jy kan…” hulle mis ongelukkig die fynskrif wat bepaal dit gaan gepaard met beplanning en harde werk.

TRP ·

Ek voel bitter jammer vir hierdie Drs, in ‘n land waar die gesondheidsdiens lyk soos wat dit lyk, sou mens hoop die Departement verstaan die erns. Maar die is SA…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.