Nog 8 verdagtes vas ná moord op polisieman

Konstabel Thato Makhoana. Foto: SAPD

Die ondersoek na die moord op konst. Thato Makhoana (26) het tot die inhegtenisneming van nog agt verdagtes oor die naweek gelei.

Makhoana se liggaam is omstreeks 18:00 op 29 Julie langs die pad in die Slurry-omgewing buite Mahikeng in Noordwes gevind. Dit blyk dat hy verskeie kere geskiet is. Sy uitgebrande Toyota Corolla is later in Majemantsho in die Lomanyaneng-polisiëringsgebied gevind.

Volgens kapt. Tlangelani Rikhotso, polisiewoordvoerder, het ʼn multidissiplinêre span, wat onder meer uit lede van die Valke, honde-eenheid en die blitspatrollie bestaan, leidrade opgevolg wat hul na die oorledene se selfone gelei het.

“Vier Pakistani’s en ʼn Nigeriese burger is in hegtenis geneem. Nog ʼn verdagte is by ʼn huis in Mahikeng in hegtenis geneem en daar is op ʼn 9 mm-dienspistool, ammunisie en boeie wat aan die oorledene behoort het, beslag gelê.”

Die eienaars van die huis is later in Majemantsho in hegtenis geneem en daar is op nog twee vuurwapens beslag gelê.

Die eerste verdagte is op 4 Augustus in hegtenis geneem. Die 47-jarige Joseph Mate het Donderdag in die Mmabatho-landdroshof verskyn op ʼn aanklag van moord en die saak is tot 11 Augustus uitgestel.

Volgens Rikhotso sal ses van die verdagtes vandag in die Mmabatho-landdroshof verskyn op aanklagte van moord, kaping en roof met verswarende omstandighede. Die ander twee verdagtes sal Woensdag verskyn.

ʼn Vermistepersoon-saak is aanhangig gemaak nadat Makhoana vir sy suster in Zeerust sou gaan kuier het, maar nooit daar aangekom het nie. Makhoana was aan die Mmabatho-polisie verbonde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Belinda ·

Mag die getuienis goed wees dat nie een lsokom nie!!!!!! Sterkte aan sy familie.

lollapot ·

Die beskrywing van sy moordenaars laat my die gedagte kry, dat Konstabel Thato Makhoana ‘n man was wat sy werk gedoen het!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.