Nog aanklagte kom teen Vincent Smith

Die voormalige ANC-LP Vincent Smith. (Argieffoto: Henk Kruger/ANA)

Nog strafregtelike aanklagte gaan teen oud-ANC-LP Vincent Smith aanhangig gemaak word vir sy beweerde aandeel in die Bosasa-debakel.

Dít terwyl die saak teen hom en medebeskuldigde, Angelo Agrizzi, die voormalige bedryfshoof van Bosasa, nou van mekaar geskei gaan word.

Smith het Donderdag vir die soveelste keer alleen in die beskuldigdebank van die Palm Ridge-landdroshof op aanklagte van korrupsie en bedrog verskyn weens Agrizzi se swak gesondheid.

Sindisiwe Seboka, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag se ondersoekdirektoraat, sê die hof het die ondersoekdirektoraat se aansoek om die twee mans se saak van mekaar te skei toegestaan sodat daar nie “op Smith se grondwetlike reg op ’n regverdige en vinnige verhoor inbreuk gemaak word nie”.

Die twee word daarvan beskuldig dat Agrizzi vir Smith omgekoop het om te help verseker dat Bosasa winsgewende staatstenders kry.

Agrizzi het weens swak gesondheid in Oktober verlede jaar laas in die hof verskyn. Sy prokureur het intussen nou ’n mediese verslag by die hof ingedien wat daarop dui dat sy kliënt weens siekte tans ongeskik is om verhoor te word.

Seboka sê voorts die ondersoekdirektoraat het in die hof aangedui dat verdere aanklagte teen Smith in verband met die betrokke saak aanhangig gemaak sal word. Seboka het nie meer inligting rakende hierdie aanklagte bekend gemaak nie.

News24 berig die aanklagte sluit na bewering belastingbedrog en belastingontduiking in.

Die saak is tot 28 September uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Arthur ·

Seker dit net in SA waar n fluitjie blaser erger vervolg word as die oortreders selg

Dries ·

Aggrizi het die hele staatskaping gemors oop gekrap. Hy behoort daarvoor vereer te word. Nou word hy vervolg. Skande man

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.