Nog beurtkrag terwyl Eskom steier

Foto: Twitter

Eskom sê die kans op landwye beurtkrag Saterdag van 09:00 tot 22:00 bly hoog weens ʼn gebrek aan opwekkingsvermoë wat vererger word deur ʼn betoging by ʼn myn wat steenkool aan die kragvoorsiener verskaf.

Verbruikers moet daarop let dat dit langer kan duur voor sommige plaaslike owerhede die kragtoevoer herstel ná ʼn beplande kragonderbreking. Eskom raai mense wat langer onderbrekings ervaar aan om hul munisipaliteit te nader om te hoor of dit nie straks ʼn plaaslike kragonderbreking is nie, berig African News Agency.

Die kragreus het intussen verbruikers bedank wat hul kragverbruik Vrydag beperk het. “Ons sal verbruikers op die hoogte hou van enige veranderings in die stelsel. Ons vra opreg om verskoning vir enige ongerief.”

Eskom sukkel om die ligte aan te hou weens sy dalende steenkoolvoorraad, enorme finansiële probleme, twyfelagtige instandhoudingsplanne en algemene wanbestuur, berig The South African.

Korrupsie, verkwisting en onbevoegdheid het bygedra tot rampspoedige beurtkrag.

“Al verbaas beurtkrag Suid-Afrikaners, wat maar al te goed vertroud is met Eskom se probleme, waarskynlik nie, maak die ongerief wat veroorsaak word deur die kragvoorsiener se onbevoegdheid die algemene bevolking die josie in,” skryf Luke Daniel.

“Korrupsie, verkwisting en onbevoegdheid het bygedra tot rampspoedige beurtkrag, wat nie alleen massiewe ongerief veroorsaak nie, maar reusagtige ekonomiese gevolge inhou,” het Zwelinzima Vavi, gewese algemene sekretaris van Cosatu, drie jaar gelede al gesê.

Hy het toe gesê onbetroubare kragvoorsiening is ʼn groot afskrikmiddel vir beleggings en dat dit werkgeleenthede in gedrang bring, het Fin24 indertyd berig. Drie jaar later gaan die land gebuk onder ʼn nuwe vlaag kragonderbrekings terwyl Eskom steier onder skuld van R400 miljard, wat beteken die kragvoorsiener is tegnies bankrot.

Intussen word plaaslike owerhede se agterstallige skuld aan die kragvoorsiener net ál meer: In Maart vanjaar was dit R13,6 miljard, maar ses maande later het dit op R17 miljard gestaan, berig Business Tech. Volgens die dagblad The Sowetan skuld verbruikers R30 miljard, waarvan die helfte deur inwoners van Soweto, suidwes van Johannesburg, geskuld word.

Die skuld bestaan uit R7 miljard agterstallige rekenings van 180 000 huishoudings en R8 miljard rente. Eskom erken die meeste inwoners weier om vir krag te betaal en bied ook weerstand teen die installering van voorafbetaalde meters.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

51 Kommentare

jongste oudste gewildste
Juanetta van Dyk

Hoekom word die beurt krag nie meer of net op die agterstallige betalings toegepas nie? Ek betaal my rekening…. Want as ek 1 maand oorslaan kom sny hulle my krag af!

alwyn burger

“Iemand” het so ñ tyd gelede verklaar dat daar “never ever” weer beurtkrag sal wees nie. By sy smadelike uittrede uit die presidentskap het hy laat weet “ek sal julle wys wat ek kan doen”. Is die beurtkrag en Ramaphosa se afwesigheid toevallig?

H.A.

Suid-Afrika word gekaap deur mense wat wil leef soos 200 jaar terug!

Eben

Dit het gister begin en is ESKOM se weergawe van Swart Vrydag. Die ongeluk is dat dit uitgerekte swart dae gaan wees. Die weergawe is ook anders as wat goed bestuurde besighede is wat wat verkope daarmee wil verhoog. ESKOM wil weer graag hê dat ons nie elektrisiteit koop nie, maar ons eie krag opwek. Gelukkig kan ons besighede se Swart Vrydag se winskope gebruik om ons afhanklikheid van ESKOM ontslae te raak. Die ander slegte ding is dat ons op geen dienste van die regering kan staat maak nie en ‘n prestasie vir die ANC is om hul hopeloosheid… Lees meer »

Bos

Ramaphosa maak geen verskil,sy diplomasie om stadig op te tree is n mislukking.