Nog een vas ná moord op polisiesersant

(Argieffoto: SAPD/Facebook)

Nog ʼn verdagte is agter tralies in verband met die moord op ʼn sersant verbonde aan die polisie op die Mahamba-grenspos.

Sers. Langelihle Hlatshwayo is in Mei geskiet net toe hy sy huis op Evander binnegegaan het. Hy was in daardie stadium nie aan diens nie. Hlatshwayo kon ʼn vriend ontbied en dié het hom na ʼn plaaslike hospitaal gehaas, van waar hy na die Mediclinic Trichardt oorgeplaas is. Hy is met sy aankoms daar dood verklaar.

Drie verdagtes, onder wie Hlatshwayo se weduwee, is kort daarna aangekeer.

Die polisie se eenheid vir ernstige georganiseerde misdaad op Secunda het nou nog ʼn verdagte, ʼn 40-jarige man, in verband met die moord in hegtenis geneem. Kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die Valke, sê die man is Vrydag gevang.

Ná die aanvanklike inhegtenisnemings is vasgestel dat Hlatshwayo se vrou in kontak was met ʼn man van Ermelo – en dat dié man se voertuig gebruik is in die skietery op die polisieman.

“Die verdagte is nagespoor en in die Ermelo-hospitaal met skietwonde aangetref. Hy is in hegtenis geneem en onder polisiebewaking,” sê Mogale.

Die polisie het beslag gelê op sy selfoon om as deel van die ondersoek te ontleed en hy sal in die hof verskyn sodra sy mediese toestand dit toelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.