Nog geen hulp om skool te red nie

(Foto: Phoenix High School/Facebook)

Phoenix High School in Vereeniging se skoolbeheerliggaam het AfriForum se privaatvervolgingseenheid genader vir dringende hulp, aangesien die Gautengse departement van onderwys hul desperate pleidooie bloot ignoreer. Hierdie skool word gekonfronteer met die vernietiging van dele van hul sportgronde om plek te maak vir ondernemings.

Konsultasies met die skoolbeheerliggaam het onreëlmatighede in die verkoop van grond in staatsbesit en moontlike onmiskenbare korrupsie ontbloot. Ten spyte van hierdie bewyse wat aan die Gauteng-onderwysdepartement voorgelê is, onder die beheer van die voormalige LUR, Panyaza Lesufi, bly die skool in ’n bedenklike situasie en is daar niks gedoen om potensiële ernstige misdade te ondersoek nie.

Die privaatvervolgingseenheid het aan die voormalige LUR en nuutaangestelde premier van Gauteng geskryf en hom versoek om met die skoolbeheerligaam te vergader om die vernietiging van hierdie skool te voorkom.

Die eenheid is van bewyse voorsien wat aandui dat die grond, insluitend die skool en sy infrastruktuur, sowat ’n dekade gelede aan die Sedgars-groep van maatskappye vir die geringe bedrag van R650 000 verkoop is.

Dokumentasie bevestig verder dat die Gauteng-onderwysdepartement ná die verkoop ’n huurooreenkoms met Sedgars aangegaan het met ’n aanvanklike maandelikse huurbedrag van R110 000, wat tot die huidige bedrag van R180 000 per maand gestyg het.

’n Eenvoudige berekening wys dat Sedgars teen die beëindigingstydperk van Januarie 2026 ten minste R32 miljoen se huur van die Gauteng-onderwysdepartement sal verdien uit grond wat eens deur die regering besit was en onder skynbaar bedenklike omstandighede verkoop is.

“Ons het verneem dat die grondeienaars al die nodige stappe gedoen het om die gebied tot ’n sakegebied te ontwikkel, insluitend die skool se enigste sokkervelde,” het Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid in die brief geskryf. “Dit het eerder die reël as die uitsondering geword dat die Gautengse onderwysdepartement sake eerder vermy as om dit te hanteer. Die afleiding is daarom dat jou departement, óf die kwessies van geen-fooi-skole as minder belangrik beskou, óf verbied word om sake te hanteer waarby die Sedgars-groep van maatskappye betrokke is.”

Nel het bygevoeg: “Dít is teleurstellend en kommerwekkend aangesien dit blyk dat die regering nie ag slaan op die waarskuwing en die bevindings van die Zondo-kommissie na staatskaping nie. ’n Mens sou hoop dat die regering inderdaad transaksies soos dié met Sedgars, wat met die Phoenix High School verband hou, noukeurig sal ondersoek.”

Dit is dieselfde direkteur van Sedgars, Yusuf Dockrat, wat na bewering honderde duisende rande betaal het vir die voormalige minister van sport, Fikile Mbalula, se gesinsvakansie in Dubai. Sedgars was destyds ’n genoteerde verskaffer van sportgoedere aan die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee. AfriForum het ’n kriminele klag van korrupsie teen Mbalula ingedien omdat hy ’n finansiële voordeel ontvang het.

“Dit is nie verbasend dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) ná jare steeds versuim om ’n besluit te neem om Mbalula of sy vermeende weldoener, Dockrat, te vervolg nie, ten spyte van ’n aanbeveling deur die Openbare Beskermer om dit te doen,” sê die eenheid se woordvoerder, Barry Bateman. “Die onverklaarbare vertraging benadeel nie net die ondersoek nie, maar staan in die pad van hierdie eenheid se besluit om privaat te vervolg.”

Bateman meen hierdie mislukking deur die NVG-wet in die Dubai-vakansie-aangeleentheid en die stilte van die Gauteng-onderwysdepartement rakende die Phoenix High School, dui daarop dat die beskerming teen vervolging van polities-verbonde individue voortduur. “Dit is iets waarvoor AfriForum se privaatvervolgingseenheid nie sal staan nie. Ons eis dat die Gauteng-onderwysdepartement onmiddellik aandag gee aan die bekommernisse wat deur Phoenix High School se skoolbeheerliggaam geopper is. Die eenheid herhaal verder sy beroep op die NVG om Mbalula en Dockrat op aanklagte van korrupsie te vervolg.”

Tot op hede het die Gauteng-onderwysdepartement nog nie op die brief wat op 4 Oktober gestuur is, gereageer nie. Alle weë word ondersoek om aanspreeklikheid te verseker vir diegene wat verantwoordelik is vir hierdie onhoudbare situasie wat honderde minderbevoorregte skoolkinders sonder ’n plek kan laat om te leer en te ontwikkel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Swerwer ·

Wonderlik, moenie kla nie want daar word mos vir die kommuniste gestem

Perdeby ·

Wanneer hulle nie diens van hulle eie mense kry nie, dan wet hulle waar om die wit mense te kry.

Dries ·

Die Sedgars groep is bekend vir korrupsie met voorsiening van skooldrag aan skole.

T ·

Ag asb,ou Bulhond bly en gaan net blaf. Vandat hy aangestel is het hy nog nie eers EEN noemens waardige saak gewen nie……..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.