Nog geen Zuma-aansoek teen besluit oor mediese parool

Jacob Zuma (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Die kommissaris van korrektiewe dienste (DKD) het hofstukke by die Konstitusionele Hof ingedien as deel van sy poging om die tersydestelling van oudpres. Jacob Zuma se vrylating op mediese parool te laat omkeer.

Die oudpresident self het egter nie teen die spertyd van 12 Desember ʼn soortgelyke aansoek ingedien nie.

Elzanne Jonker, regsverteenwoordiger van die DA, het bevestig dat die DKD-kommissaris sy hofstukke ingedien het.

Jonker sê Zuma kan steeds ʼn aansoek by die Konstitusionele Hof indien, maar sal dan ook ʼn suksesvolle aansoek om kondonasie moet indien. Die oudpresident kan egter ook kies om nie dié roete te volg nie, omdat die DKD se aansoek reeds ingedien is.

Zuma is in Julie 2021 tronkstraf van 15 maande opgelê nadat die Konstitusionele Hof hom skuldig bevind het aan minagting van die hof vir sy versuim om voor die Zondo-kommissie te getuig. Hy het naastenby twee maande van sy vonnis uitgedien voordat hy in September 2021 op mediese parool vrygelaat is.

In Desember het die hooggeregshof die besluit ter syde gestel en beslis Zuma moet terugkeer tronk toe. Zuma het teen dié besluit geappelleer, maar die appèlhof het in November verlede jaar bevind Arthur Fraser – destyds die kommissaris – se besluit om die oudpresident op mediese parool vry te laat, was ongeldig en ongrondwetlik.

Zuma het pogings om hom terug te stuur tronk toe tot nou hand en tand beveg.

Zuma gaan intussen voort met sy poging om pres. Cyril Ramaphosa privaat te laat vervolg vir beweerde oortredings van die Wet op Nasionale Vervolgings.

Die JG Zuma-stigting het in Desember, op die vooraand van die ANC se nasionale konferensie, aangekondig dat Ramaphosa aangekla word as ʼn medepligtige tot misdade wat deur onder meer adv. Billy Downer gepleeg is.

Downer is die staatsaanklaer in die korrupsiesaak teen Zuma.

Ramaphosa het die aansoek as ʼn misbruik van die hofproses gekap en dit as ʼn poging bestempel om hom te verhoed om vir ʼn tweede keer as ANC-leier verkies te word. Hy is nietemin vir ʼn tweede termyn tot ANC-president verkies.

Die DA het die Konstitusionele Hof gevra om die aansoek ter verdediging van Zuma se mediese parool summier van die hand te wys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Misky ·

Ek is al so moeg van die ou se bakkies wat nie agter tralies is nie.

Katinka ·

Ek het lekker gelag vir die comment, die spyker op die kop geslaan.

Katinka ·

Die man het 9 lewens, maar JA, sy bakkies kan ek nie verdra nie, suit hom toe en gooi die sleutel weg.

Jaco ·

Zuma is in die ANC en die dept van korrektiewe dienste en die howe word deur die ANC-regering beheer. Die hele zuma saak is deur en deur ANC. Sekerlik kon dié ding lankal binne die ANC-huis opgelos gewees het. Het die ANC dan NIKS tydens hulle jare van ballingskap in kommunistiese lande geleer nie? Party en staat was een daar. Hulle het mekaar nooit teengegaan nie. Vergrype soos korrupsie en die wapenskandaal is vinnig toegesmeer. En terloops, daardie kommunistiese lande was ook SONDER:
Beurtkrag
Swak vuil staatshospitale
Swak onderwys
Swak of geen munisipale dienslewering
Misdaad buite beheer
En en en

Nettie ·

So as ek jou kommentaar reg verstaan, bedoel jy die ANC faal selfs met kommunisme?

Dan weer…. kommunisme het orals in elk geval gefaal, selfs sonder beurtkrag en met werkende munispale stelsels, ens. So waaraan kan ons die ANC se sukses met kommunisme meet? Interessante opmerking!

Casper ·

Hoeveel keer gaan hy nog appéleer en elke keer word sy paadjie tronk toe meer onmoontlik.Ek twyfel of hy ooit die binnekant van ‘n tronk sal sien.

annie ·

Hou moed mense! Ons het ‘n wonderwerk sonder enige foute, Cyril, nou gelukkig weereens as president aangewys. Hy het al soveel reggestel selfs toe hy Zuma se adjunk was. Vergeet nou van Phala, dis ‘n kleingheid. Cyril is ‘n towenaar wat kan en gaan soos Mandela van ouds. Kyk hoe goed gaan dit reeds na 1994. Verskoon my net gou, die koffiewater kook…

Nettie ·

Hoe op dees aarde kan hierdie dinge so uitgerek word? Dit maak ‘n absolute bespotting van ons regstelsel.

MM, kan julle nie bietjie meer inligting vir ons deurgee nie? Wat is die proses vorentoe? Wat kan gebeur, wat nie? Hoe lank het hulle om te besluit voor ons iets verder hoor? Dae, weke, maande?

In die ou dae het joernaliste al die feite, geskiedenis en moontlikhede deurgegee in elke berig. Al die stappe en relevante datums en prosesse en moontlikhede en uitkomste. Vandag is dit soos om tande te trek om te weet wat aangaan. Mens moet maar self gaan soek.

JohanR ·

Moet die kommissaris van korrektiewe dienste (DKD) nie probeer om Zuma IN die tronk te kry nie?

Christo ·

So die enigste rede hoekom die clown nog toegelaat word om aan te gaan met sy waansin is omdat dit dalk ons aandag weg moet trek van iets anders. Wat die “its anders” is weet ek nie, maar die ANC maak ‘n bespotting van ons, ons land en die reg stelsel.

Manie ·

Dalk die Russiese skip se aflaai van AK 47’s vir Spesmagteen die oplaai van ammunisie vir die Russe? Daar was ‘n berig en navraag hieroor, maar die minister van verdediging swyg soos die graf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.