Nog grootkoppe moet gaan verduidelik oor Esidimeni

Die voormalige Gautengse premier, David Makhura. (Foto: GCIS)

Die hooggeregshof in Pretoria het beslis dat die voormalige Gautengse premier, David Makhura, en die voormalige LUR vir finansies, Barbara Creecy, ook geroep moet word om in die geregtelike doodsondersoek na die sogenaamde Life Esidimeni-sterftes sewe jaar gelede te getuig.

Solidariteit Helpende Hand het die besluit Vrydag verwelkom.

Qedani Mahlangu, voormalige Gautengse LUR vir gesondheid, was reeds oor die afgelope twee weke vir kruisondervraging in die getuiebank. Dit was onder Mahlangu se leiding dat 144 pasiënte destyds tydens die omstrede oorplasing van die pasiënte gesterf het.

Sy is onder meer deur adv. Phyllis Vorster van AfriForum se privaatvervolgingseenheid ondervra. Vorster is ingevolge ʼn waaksaamheidsopdrag aangestel om die families van sommige van die slagoffers namens Solidariteit Helpende Hand tydens die ondersoek by te staan.

Qedani Mahlangu, voormalige Gautengse LUR vir gesondheid. (Foto: ANA)

Makhura en Creecy is deur verskeie getuies, insluitend Mahlangu, geïmpliseer as die persone wat verantwoordelik was vir die besluit om ongeveer 1 400 psigiatriese pasiënte na ander instellings te skuif om geld te bespaar. Talle pasiënte het egter gesterf nadat hulle in swak toegeruste en ongelisensieerde fasiliteite van nieregeringsorganisasies geplaas is.

Die geregtelike doodsondersoek moet bepaal of iemand strafregtelik aanspreeklik vir die dood van die pasiënte gehou kan word.

René Roux, woordvoerder van Solidariteit Helpende Hand, sê hoewel die ondersoek stadig vorder, is dit net die eerste stap in die proses tot geregtigheid en dit is boonop goeie nuus dat Makhura en Creecy se optrede ook onder die vergrootglas geplaas gaan word.

Barbara Creecy, voormalige LUR vir finansies. (Foto: Departement van omgewingsake)

“Iemand móét aanspreeklik gehou word vir die oorhaastige en onbeplande skuif bloot om geld te bespaar,” het Roux gesê.

“Meer as 140 weerlose mense met menseregte wat deur die samelewing beskerm moes word, is as gevolg van swak regering dood.”

Roux sê die tragedie is een van die grootste menseregteskendings ooit aan die hand van die staat in Suid-Afrika.

“Ons hoop geregtigheid sal geskied sodat die families van al die slagoffers berusting kan vind. Die ondersoek gaan hulle nie terugbring nie, maar dit kan die stem wees wat die slagoffers nooit gehad het nie. Ons wil hê die verantwoordelike mense moet aanspreeklik gehou en gestraf word sodat so iets nie weer gebeur nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

domheks ·

Niemand gaan verantwoordelikheid neem nie! Dis nie in cANCer se bloed om te erken nie.

Sarel ·

Hoekom nou skielik na al die jare wat geen stappe teen enige iemand gedoen was nie.
Waar is ons Opposissie Partye…vra jy vrae kry jy gee. Antwoorde nie
K

Johann ·

Gewetenloos, onaanspreeklik,onverandwoordbaar. Standaard karakterlose eienskappe van ANC ontplooides. SIEK!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.