Nóg meer wildehonde loop nou in Mosambiek

Cole du Plessis van EWT saam met die tweede trop wildehonde wat in Oktober na Mosambiek geskuif is. Foto: Trust vir Bedreigde Natuurlewe (EWT)/Facebook.

Besoekers aan die Gorongosa Nasionale Park in Mosambiek sal uiteindelik ná jare weer die spore van 57 wildehonde in die park kan vind.

Dit volg nadat bewaringsorganisasies soos die Trust vir Bedreigde Natuurlewe (EWT), Ezemvelo KwaZulu-Natal Natuurlewe (EKZNW) en Wildlife ACT verlede jaar begin het om saam te span met die park en die entrepreneur en filantroop Gregg Carr om een van die grootste hervestigingsprojekte vir dié roofdiere in Afrika van stapel te stuur.

ʼn Trop van 14 Afrika-wildehonde van Zoeloeland is in 2018 na die Gorongosa Nasionale Park verskuif. Die trop se bevolkingsgetalle het ʼn opbloei beleef en die trop het reeds 28 klein hondjies ryker geword. Dit beteken die wildehonde se getalle in dié park het in ʼn bestek van ʼn jaar verdriedubbel.

Gorongosa is egter ʼn groot park, wat 3 770 km² beslaan, en kenners het gevoel die park sal meer as net een trop benodig om ʼn lewensvatbare bevolking van wildehonde te vestig. ʼn Tweede trop sou ook help om die genepoel van die spesie in die park aan te vul.

Die droom om nog ʼn trop in die park te hervestig het op 29 Oktober ʼn werklikheid geword. EWT, die Carr-stigting en die Bateleurs, ʼn organisasie wat vlugdienste vir omgewingsake verskaf, het nog ʼn trop van 15  swart wildehonde van die Khamab Kalahari-wildreservaat vasgetrek, wat na Gorongosa verskuif kon word. Die uitdaging van die operasie om 15 van hierdie honde te vang, moet beslis nie onderskat word nie.

Cole du Plessis, ʼn kenner van wildehonde by EWT, en die veearts dr. Rowan Leeming het die trop suksesvol verdoof sodat hulle so vinnig moontlik na Polokwane, Limpopo, vervoer kon word, waar doeane die finale groen lig gegee het om die trop roofdiere na Gorongosa uit te skuif.

By die wildehonde se aankoms in Gorongosa moes die wildbewaarders gou spring om die honde by ʼn boma in die park te vestig. Hier is hulle voorlopig aangehou totdat hulle kon aanpas voordat hulle in die park vrygelaat is.

Die wildehonde was binne enkele minute ná hulle tien uur lange reis weer op die been en besig om hul nuwe tuiste te verken.

Cole du Plessis en dr Rowan Leeming vergesel die trop na Gorongosa Nasionale Park in Mosambiek. Foto: EWT

Op die pad na herstel

Gorongosa is ná die jarelange burgeroorlog in Mosambiek feitlik heeltemal van sy fauna en flora gestroop.

Sedert 2008 werk die land se regering en die Carr-stigting onverpoosd saam om die nasionale park tot sy voormalige glorie te herstel. Die samewerkingsooreenkoms tussen die twee partye is in die middel van verlede jaar met ʼn verdere 25 jaar verleng.

Die park se restourasie word deesdae as een van die grootste suksesverhale in Afrika beskou.

Du Plessis het benadruk hoe belangrik dié tweede trop is om die streek se bevolking te help herstel.

“Hierdie Afrika-wildehonde is die pioniers wat die Gorongosa se bevolking van wildehonde sal help herstel. Dit sal ook ʼn bloudruk wees waarop enige toekomstige hervestigingsprojekte gebou word.

“Hierdie spesie word steeds as bedreig beskou, maar suksesverhale soos hierdie een bring hoop vir die behoud van die diere.”

Du Plessis meen danksy die toename in die bevolking van wildehonde in Suid-Afrika is dit ook nou moontlik vir ander streke in Suider Afrika om hul wildehond-bevolking te herstel.

In 2016 het dit aan die lig gekom dat die Afrika-wildehond reeds uit 25 van die 39 lande gedryf is, waar die diere eens vrylik rondgetrek het. Die Gorongosa Nasionale Park word nou deur kundiges as “ʼn herwinde terrein” vir die wildehonde beskou nadat daar slegs twee jaar gelede geen van die diere in die park meer oor was nie.

Die hervestiging van wildehonde in Gorongosa is bewaringsukses. Foto: Paola Bouley/EWT se Facebook-blad.

ʼn Paar vinnige feite oor wildehonde:

  • Elke wildehond se kleurpatroon is uniek. Die patrone en merke op hul pels kan soos ʼn vingerafdruk by mense vir positiewe identifikasie gebruik word.
  • Wildehonde is sosiale diere en lewe in troppe van twee tot 27 individue. Hulle sorg vir die honde in die trop wat beseer is en sal vir hulle kos aandra tot hulle herstel het.
  • Dit is dikwels net die alfa-reun en ’n teef wat ʼn werpsel van tien klein hondjies op ʼn slag kry en die ander volwassenes in die trop help gewoonlik om die werpsel groot te maak.
  • ʼn Volwasse wildehond vreet tot 3,5 kg vleis per dag.
  • Die wildehond is die kleinste van die vyf groot vleisvreters en weeg tussen 17 en 25 kg teenoor ʼn leeumannetjie wat die skaal top op 220 kg kan trek.

Bron: https://www.nathab.com/blog/ten-facts-about-the-african-wild-dog/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hagar ·

Iin die noorde en ook verre oostelike dele van Namibie haat die boere hoerdie diere soos pes. Hul vreet koeie se uiers uit dan vrek sy met haar kalfie en al. As die koei nie vrek nie dan kan sy nie gebruik word vir verdere reproduksie nie en moet sy verkoop word. Drie kg. vleis per dag is noal baie. Hoop daar is genoeg spesies om op te oorleef.

Ellisras ·

In die Ellisras omgewing haat boere die goed soos pes. Want dit is ‘n pes. Wildehonde eet elke dag vars vleis. Teen ‘n gemiddeld van R1500 per dag. Dit moet deur die boer gefinansier word. In die droogte moet jy self plan maak om net R1500 vir jou eie kos in die hande te kry.

Linda-Lea Olivier ·

Goeienaand
In Paragraaf 3, ‘n oepsie nie `Afrikaanse’ wildehonde nie, maar Afrika-wildehonde.

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Linda-Lea

Dankie vir jou kommentaar. Die artikel is nou gewysig.

Groetnis
Esté Meyer Jansen
namens
Maroela Media

Liefdevirallewild ·

Welgedaan julle! Alle diere is met n doel hier op die aardbol gesit deur ons Skepper. Dis ons opdrag van die Here af om n uitweg te vind om met alle diere n weg te vind om oor die weg te kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.