Nóg miljoene se gesteelde minerale teruggevind

Gesteelde minerale ter waarde van R15 miljoen is in ‘n pakhuis in Johannesburg gevind. (Foto: Polisie)

Gesteelde minerale ter waarde van R15 miljoen is in ʼn stoorplek in Johannesburg gevind. Die minerale is vermoedelik deur lede van ʼn sindikaat by die hawe in Richardsbaai gesteel, nadat dit deur Richards Bay Minerals gemyn is.

Die minerale is teruggevind deur ʼn taakspan van die polisie, wat na die Richardsbaai-gebied ontplooi is, ná ʼn reeks voorvalle waartydens minerale gesteel is.

Volgens die polisie is die sindikaat se modus operandi om minerale op die hawe te onderskep en te vervang met nagemaakte minerale. Die egte minerale word dan na pakhuise in Johannesburg vervoer. Hier word dit herverpak om aan buitelandse kopers te verkoop.

“Die polisie het Woensdag op die pakhuis toegesak en die minerale gedurende ʼn omvattende soektog van die perseel gevind,” het brig. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, gesê.

ʼn Saak van diefstal word ondersoek. Die polisie soek nog na die eienaar van die pakhuis.

Dit is boonop die twééde deurbraak wat die span met betrekking tot die diefstal van minerale gemaak het. In Maart is nóg minerale ter waarde van R15 miljoen, ook van Richards Bay Minerals, by ʼn vragmotorbestuurder naby Richardsbaai gevind.

“Die bestuurder van ʼn trok en die eienaar van ʼn pakhuis in Durban is sedertdien in hegtenis geneem,” sê Mathe.

Die taakspan in Richardsbaai ondersoek ook die sluipmoord op ʼn aantal uitvoerende hoofde van myne in die omgewing. “Tot dusver is daar op 202 ongelisensieerde wapens beslag gelê, 43 verdagtes is aangekeer en 68 dossiere is oopgemaak. Ons intelligensiedienste is deurentyd aan’t werk om ʼn einde te maak aan hierdie onwettige aktiwiteite in die mynbousektor,” het genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bolandse Nooi ·

Maar Liegbek Liebenberg sê dan Suid-Afrika se “rykdom” is vir almal … minerale tel ook seker hieronder? Aldus hom kan mens mos diamante by die 1000’e sommer net optel en loop verkoop soos en wanneer jy wil … Hoe kan die polisie dan op dié minerale beslag lê en die mense wat die “rykdom van die land” gevat het so behandel??????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.