Nóg ʼn grootkop by lotery bedank

Phillemon Letwaba (Foto via GroundUP)

Deur Raymond Joseph, GroundUp

Die Nasionale Loterykommissie (NLK) se bedryfshoof, Phillemon Letwaba, het nou óók sy bedanking ingedien. Die skielike bedanking kom enkele weke voordat Letwaba voor ʼn dissiplinêre verhoor sou verskyn.

Hy word daarvan beskuldig dat hy sy posisie misbruik het om hom en sy gesin te verryk.

Letwaba se bedanking volg minder as twee weke nadat Thabang Charlotte Mampane ook met onmiddellike inwerkingtreding bedank het.

Die NLK se direksie moet egter nog Letwaba se skielike bedanking aanvaar.

“Die saak is onder oorweging van die direksie en die waarnemende kommissaris,” het die NLK in ʼn mediaverklaring gesê nadat GroundUp Woensdag vrae oor sy bedanking aan die kommissie gerig het.

Letwaba, wat vroeër vandeesmaand vir die derde keer geskors is, is die afgelope paar jaar by verskeie van GroundUP se berigte oor korrupsie by die NLK betrek. Dit sluit in verskeie lotery-gefinansierde projekte in Kuruman, ʼn multimiljoenrandse dwelmrehabilitasiesentrum in Pretoria en ʼn R4,8 miljoen-toekenning aan ʼn niewinsgerigte organisasie waarvan sy vrou een van die direkteure was.

Letwaba ontken die aantygings. Hy dagvaar GroundUp ook vir naamskending.

Hy sou binnekort voor ʼn dissiplinêre verhoor moes verskyn op aanklagte ingevolge die Wet op Loterye, wat die verkryging van finansiële voordele vanaf dié wat loterytoelaes ontvang het, insluit. Dié verhoor sou vroeër vandeesmaand begin, maar is vertraag nadat Letwaba se prokureur beswaar gemaak het teen die prokureur wat as voorsitter van die verhoor aangestel is.

Dit volg maande ná Letwaba op ʼn omstrede wyse van soortgelyke aanklagte vrygespreek is toe ʼn tugverhoor hom in Maart in die gesig gestaar het. Die NLK-raad het besluit om hom weer aan te kla,  nadat die raad regsadvies ontvang het dat daar probleme is met die wyse waarop die verhoor uitgevoer is.

Letwaba is oorspronklik aangekla nadat die hoof van die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE), Andy Mothibi, vir Mampane tydens haar termyn as kommissaris in kennis gestel het van bewyse van wangedrag deur Letwaba.

Mothibi het aangevoer dat Letwaba hom aan wangedrag of vertrouensbreuk skuldig gemaak het deur finansiële voordele van sowat R45 miljoen te aanvaar vanaf verskeie entiteite wat met sy familie verbind word.

Letwaba se kontrak by die NLK sou einde November verstryk.

Maroela Media het vroeër berig die kommissie is die afgelope paar jaar deurspek van korrupsie. GroundUp het onthul hoe loteryfinansiering van honderde miljoene rande verkwis is onder Mampane se bestuur.

Geld vanaf die nasionale lotery wat gebruik moes word om ʼn afgebrande skool in Limpopo te herbou, is aangewend om ʼn huis in ʼn duur gholflandgoed vir Mampane te koop.

Mampane se termyn as kommissaris sou aan die einde van September verstryk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

domheks ·

Dink seker as jy bedank sal jou sondes jou nie inhaal nie! Maar in SA is alles moontlik.

Hendrik ·

Die opskrif moet wees “Nog ‘n groot skelm by lotery bedank”

Marcello ·

Dit is so hartseer as ‘n mens dink daar is soveel behoeftiges en organisasies wat kan baat vind by die Nasionale Lottery, en dan word die geld vir ander doeleindes gebruik. Hoeveel keer wil hulle hom skors voor hulle Regsaksie neem. So persoon wat sulke geld verduister, moet vir ‘n maand of langer in ‘n Plakkerskamp gaan bly, en swaarkry ervaar. Maar hulle bedank net en die probleem is opgelos.

marius ·

Waneer daar ‘n koekieblik is , word daar meer hande ingedruk as wat daar koekies is . Die heeltyd .

007 ·

Lekker rond gevreet die gesiggie! Darem lekker as jy ‘n oop beursie het waarvoor jy nie werk nie.

Hennie ·

Nog n Kader wat met sy hand in die kasregister gevang is …..

Niklaas ·

Vir die 3 de keer geskors ! En steeds keer hy telkens terug om voort te gaan met sy dade. Net in SA

Elize ·

Hierdie is nie ‘n glimlag nie maar ‘n grynslag. Hy weet daar sal niks gebeur nie en sy beursie bars uit sy nate uit

Nie Verbaas ·

En wat gaan nou gebeur om die R45 miljoen te verhaal of is dit nou maar sy geluk? Die BEE reputasie kry dag na dag net meer momentum. Magtig, Suid Afrika is darem te lekker vir sekere selfsugtiges. “Our time to eat”

Wondermaarnet ·

Waar is daar nie ongerymdhede waar hulle betrokke is nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.